Jeug wél lief vir hul geskiedenis, sê FAK

“Kinders se belangstelling in geskiedenis moet nooit onderskat word nie, dit gaan jou altyd verbaas.”

Só sê Jana van Dyk, geskiedenisprojektebeampte by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), na afloop van vanjaar se FAK Internasionale Geskiedenisolimpiade.

Dié geskiedenisolimpiade word jaarliks deur die FAK aangebied vir laer- en hoërskoolleerlinge om te leer van hul eie storie, ons Afrikanergeskiedenis, wat in soveel skole nie meer deel uitmaak van die kurrikulum nie. Dit is die vierde opeenvolgende jaar wat die FAK dié toets aanbied en fasiliteer.

Die laer- en hoërskole het onderskeidelik die Groot Trek-tydperk en die Eerste Vryheidsoorlog behandel.

“Sonder kennis of insig van waar ons vandaan kom, is dit moeilik om te bepaal waarheen ons op pad is. As jy weet wie jy is, kan jy bou aan wie jy kan wees. Jy kan voortbou op dit wat vir ons gedoen en opgeoffer is. ’n Sterk verlede maak ’n sterk karakter,” sê Van Dyk.

Byna 500 leerlinge van laer- en hoërskole het vanjaar deelgeneem aan die olimpiade en oudergewoonte het die skool met die meeste inskrywings met ’n lekker kontantprys weggestap.

Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool wen vanjaar loshande dié prys en die FAK wens hul hartlik geluk vir so ’n uitmuntende prestasie.

So ook wens die FAK vir Mia Botha (graad 7) van Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool geluk wat eerste plek in die laerskoolkompetisie uit en uit verdien het, asook vir Yoshia Lubbe (graad 10) wat uitgeblink het in die hoërskoolkompetisie.

Marthinus van Rooyen, ’n graad 8-leerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool het tweede plek in die hoërskoolkompetisie verwerf en glo dit is belangrik om jou geskiedenis te ken.

“’n Volk sonder ’n geskiedenis is soos ’n mens sonder ’n geheue.”

Van Rooyen gaan voort en sê dat Danie Theron, die bekende verkenner van die Anglo-Boereoorlog, vir hom ’n held is.

“Hy het nie teruggedeins vir ’n moeilike taak nie, gehoorsaam en getrou. Hy het gereeld die Britte uitoorlê met sy knap verkenningswerk. Sy alias in die oorlog was nie verniet ‘Captain James Bond’ nie,” sê Van Rooyen.

Mia Botha, die wenner van die laerskoolkompetisie is nou in graad 7. Sy vertel dat sy nie voorheen die werklike durf en daad van die Voortrekkers en hulle vroue besef het nie.

“Ek het geleer dat ons ’n baie unieke en sterk volk is.”

Dit is jongmense soos dié wat met hul kan-kultuur ligdraers is vir Afrikaners en ander Afrikanerjeug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Mooi so! Dis lekker om te sien. Ek wil darem net noem dat die alias, James Bond, geen besondere betekenis gedra het tydens die Anglo Boereoorlog nie. Ian Fleming se eerste roman waarin dìe karakter verskyn, is eers in 1952 gepubliseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.