Jong entrepreneurs het die antwoorde te midde van uitdagings

La Pieus akwaponiese boerdery. (Foto: Megan van Wyngaardt/Maroela Media)

Die privaatsektor in Suid-Afrika doen nie genoeg om jong mense in die land te hou en hul idees te ontwikkel nie, glo Rikalize Reinecke – ook bekend as Suid-Afrika se jongste akwaponiese entrepreneur.

Maroela Media het met die 17-jarige gesels kort voor sy Kaapstad toe sou vertrek om ʼn toespraak by Spark Talks, ʼn soortgelyke geleentheid as die bekende TED Talks, te lewer. Die tema vir die geleentheid, wat Dinsdag regstreeks uitgesaai is, het op bewaring, vernuwing en rehabilitasie in die natuur gefokus.

Reinecke het onlangs aan die Internasionale Fees vir Ingenieurswetenskap en Tegnologie (iFest) in Tunisië deelgeneem waar sy goud vir haar La Pieus- modulêre akwaponiese boerderyprojek ontvang het.

Akwaponiese boerdery is ʼn vorm van landbou wat die boerdery van visse in tenks met grondlose plantkultuur kombineer. Die water, wat ryk is aan voedingstowwe as gevolg van die uitskeidings van die visse, word gesirkuleer na die plante, wat dan as natuurlike kunsmis vir die plante dien. Die soort kultivering kan gebruik word om vars vis en groente aan families en dorpies op ʼn volhoubare basis te verskaf, of kommersieel as boerdery bedryf word.

Dit is by die iFest en tydens die uitdunrondtes waar Reinecke talle ander idees raakgesien het en hoe jong mense werklik die wêreld kan verander.

“Dit is so interessant om te sien dat daar soveel kinders is wat wel deelneem aan hierdie soort ekspo’s en kompetisies. Vir die Noord-Gauteng-uitdunne was daar 350 kinders wat deelgeneem het. Daar was heelwat projekte wat werkende idees is wat ʼn verskil kan maak,” sê sy.

By die Noord-Gauteng-uitdunne was daar ʼn leerder wat ʼn enjin, wat slegs met water werk, ten toon gestel het. “Hoekom weet niemand van hom nie? Hoekom was die media of die regering nie daar om vir hom te vra hoe hulle kon help nie?”

Sy sê haar wense is dat meer instellings by hierdie soort idees betrokke raak en jong mense sal help om hul projekte te ontwikkel, ʼn beurs aan te bied om te studeer en dan by private instansies te werk. “As private instellings moeite doen om die jonger generasie in te trek en te verseker dat hulle idees tel, sal minder jong mense dit oorweeg om oorsee te gaan woon en werk.”

Reinecke voel ook dat die plaaslike regering verdere groei vir Suid-Afrikaanse entrepreneurs dooddruk. Sy voer aan dat die proses wat sy deur moes gaan om permitte vir ander tilapia-spesies, soos die Nyl-tilapia (Oreochromis niloticus) te bekom, ook ʼn stadige en moeilike proses is. Dié visse groei vinniger as die Mosambiekse tilapia waarmee sy tans boer, maar as gevolg van burokrasie is sy al sedert 2017 in die proses vasgevang.

“Ek voel of die regering alles wil beheer en nie mense die kans gee om die land op hulle eie manier te verbeter nie. Ons moet dit op hulle manier, of glad nie doen nie. As ek net oor die grens loop, is daar geen probleme met permitte nie.”

Boerdery na navorsingsfasiliteit

Tilapia visse. (Foto: Megan van Wyngaardt/Maroela Media)

Met dié dat Reinecke volgende jaar meer intensief op haar skoolwerk gaan moet fokus as matrikulant, en daarna op haar universiteitsloopbaan, glo sy dat sy haar La Pieus-akwaponiese boerdery in Kameelfontein, wat sy as 12-jarige op die been gebring het, gaan moet afskaal.

Dit beteken egter nie dat die La Pieus-fasiliteite sal verdwyn nie. Tans bied die onderneming ses kursusse per jaar in kommersiële akwaponiese stelsels en ʼn akwakultuurboerdery- en bestuurskursus aan, terwyl die boerdery nou die gestalte van ʼn navorsingsfasiliteit aangeneem het.

“Ons werk nou saam met Belgium Campus wat gereeld studente van Suid-Afrika en België stuur om navorsing vir onder meer hulle PhD’s en so meer hier uit te voer.” La Pieus is ook deur Belgium Campus geakkrediteer as ʼn lewende laboratorium.

Reinecke verduidelik met toenemende vereistes as leerder gaan sy nie elke dag kan seker maak dat produksie volhoubaar is nie. “Ek maak egter ʼn inkomste uit produksie, so dit is ook nie iets wat ek heeltemal sal laat vaar nie.”

Reinecke verkoop dié produkte by haar Aquaponics Direct-winkel, wat tans in die proses is om na die Red Tree Kwekery, op die R513 op pad Roodeplaatdam toe, te skuif. “Ons gaan wel moet dink om ons boerderyfasiliteite te skuif, omdat water hier ʼn probleem is. Dit is vreeslik droog.”

Boer terug in die gemeenskap

Deur die verhouding met dié studente het Reinecke ʼn verdere verhouding met KU Leuven, ʼn universiteit in Leuven, België, gebou. Een student van dié Belgiese universiteit het toe namens La Pieus aansoek gedoen om ʼn geldelike toekenning vir die uitbreiding van die onderneming in plaaslike gemeenskappe van die Vlaamse regering te ontvang.

Deur dié finansiering kan Reinecke haar Lappies-modulêre stelsel in plekke soos Diepsloot en Soweto installeer. “Dit sal die gemeenskap se verantwoordelikheid wees om dit te onderhou en vir hulself kos te produseer. Water word bespaar deur so ʼn stelsel en dit kan ʼn gesin van vier tot ses mense onderhou, met 100 stukke groente wat elke maand geproduseer kan word, tesame met twee visse per week. Dit gee jou ʼn totaal van 30 kg vis in die stelsel enige tyd van die jaar, as die stelsel gebruik word soos voorgestel word,” sê sy.

Vandeesmaand word vyf van die stelsels ook in Benin, in Wes-Afrika, geïnstalleer.

  • Vir lesers wat sal belangstel om kursusse by te woon, kan hulle gerus die La Pieus-webwerf besoek. Die volgende kommersiële akwaponiese kursus vind op 28 en 29 Oktober plaas. Op 30 Oktober en 1 November bied La Pieus ʼn akwakultuurboerdery- en bestuurskursus aan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet Badenhorst ·

Al wat ons ou Volkie nodig het is
Etrepreneurskap
Motivering
Innovering
Kreatiwiteit
Opleiding

En n droom.

JMC ·

Die korporatiewe wêreld stel nie belang nie as gevolg van die Shirky beginsel. Dit lui: Instellings sal probeer om die probleem waarvoor dit die oplossing het, te bewaar.

pieter ·

Ek dink die meisie is ongelooflik. Ek wens ek het haar druf gehad.
Ek hoop sy maak n alamintige sukses en wens haar alle voorspoed toe.
Ek dink net dat meer mense die tipe besighede sal begin, as hulle net meer sekerheid van die staat gehad het. Dat mense sekerheid gehad het van eiendoms reg en dat jou belegings veilig is.
Mense bele nie, omdat hulle onseker is oor die toekoms en of hulle die waarde eendag sal kan realiseer, wanneer hulle wil verkoop ens.
Sekuriteid is ook natuurlik n groot probleem wat aandag sal moet kry.
Ek self, wil nie my geld in SA bele nie, oor bogenoemde redes.

Corrien ·

Ek lees dat die gemeenskap van Diepsloot betrokke is om dit te onderhou. Dan dink ek skielik aan Zebedila farm se multi miljoenen se mislukking. Ek weet van enkele wit nedersettings wat dalk dit vir seker positief kon voortsit of uitbouw. Dit sou die lewe in die wit plakkerskampe baie verbeter het. Ook daar is baie jongmense sonder vooruitsigte omdat amper alles na die swart bevolking gaan. Is dalk meer polities korrek.

patriot ·

Net jammer dit word nou geimplementeer in Soweto en Diepsloot. Hoe lank dit hou? Wat van Munsieville, arm blanke nedersetting? Charity begins at home

·

Nou gaan doen jy die kurses wat hul aanbied en dan gaan help jy hulle by Munsieville. Doen jou deel patriot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.