Jong man oorkom talle uitdagings om studiedroom te bewaarheid

Morné Wehmeyer (Foto: Verskaf)

Die 18-jarige Morné Wehmeyer van Centurion in Gauteng is ’n uitblinkstudent wat as tiener gedroom het om ná skool te kan studeer. Alhoewel hy saans by kerslig moes sit en leer om uiteindelik matriek te slaag, was daar geen keer aan dié jong ambisieuse dromer nie.

Morné het verlede jaar by Hoërskool Centurion sy matriek met vyf onderskeidings geslaag. Sy ma, Bianca Wehmeyer, vertel trots dat haar seun ook op die leerlingraad gedien het en kaptein van die skool se sewesrugbyspan was.

“Hy was nog altyd ’n toppresteerder. Hy werk verskriklik hard,” sê sy.

Bianca het Woensdag aan Maroela Media vertel dat Morné dwarsdeur sy skooljare verskeie uitdagings moes oorkom – uitdagings wat meestal heeltemal buite sy beheer was. Hy het egter nooit toegelaat dat dit hom onderkry nie.

“Voor een van sy eindeksamens het ons vir meer as twee maande sonder krag en lopende water gesit. Hierdie het hom egter net nog meer gedryf om hard te werk en te presteer ten spyte van sy omstandighede. Hy het in die aande onder kerslig gesit en leer,” vertel sy.

Morné is ‘n kranige rugbyspeler (Foto: Facebook/Morné Wehmeyer)

So graag as wat Morné se ouers hul seun se studiedrome wou bewaarheid, was hulle nie in ’n finansiële posisie om vir sy studies te betaal nie. “Hoe sê jy vir jou kind hy moet sy drome sommer net prysgee? Dit breek my hart,” sê Bianca.

“Morné het net bly hoop en glo dat dinge sal uitwerk.”

Volgens Bianca het hulle ná skool vir talle beurse begin aansoek doen. Hulle het aan die begin van die jaar ’n geloofskeuse gemaak en Morné by die Universiteit van Pretoria (UP) ingeskryf met die hoop dat hulle hulp iewers vandaan sou kom.

Morné het in Januarie met sy onderwysstudies begin en reeds vier onderskeidings verwerf. Die saadjie om onderwys te studeer is reeds verlede jaar geplant toe Morné sy ma by die naskool waar sy werk, uitgehelp het. Hy het tóé besef dat onderwys sy roeping is. “Morné wil ’n verskil in kinders se lewens kan maak,” sê Bianca.

Dié jong uitblinker het ook vele ander talente en blink al vanaf skooldae uit as kranige rugbyspeler. Hy speel op die oomblik vir Dregeana-rugbyspan op kampus en draf ook uit vir die Centurion-rugbyklub.

Morné se borduurwerk wat hy in sy vrye tyd doen vir sakgeld (Foto: Verskaf)

“Sy droom is om eendag die hoof van sport by Hoërskool Centurion te wees en kinders deur sport positief te motiveer,” vertel sy ma trots.

In sy vrye tyd doen Morné borduurwerk en het so al sy eie besigheid Doringbos Apparel begin om sy eie sakgeld te verdien.

Volgens Bianca maak Morné daagliks staat op rygeleenthede om kampus toe te gaan. “Morné is altyd ’n man met ’n plan. Niks sal ooit in die pad staan tussen hom en sy drome nie,” vertel sy.

Bianca het intussen ’n fondsinsamelingsinisiatief van stapel gestuur om haar seun se drome moontlik te maak. Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum het ook betrokke geraak om met die hulp van donateurs Morné se onderwysstudies moontlik te maak.

Besoek Morné se fondsinsamelingsblad van Solidariteit Helpende Hand hier om ’n bydrae tot sy studies te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

goeiekind ·

ons kinders kan hulle sterre dank maar hulle dink did als wat hulle toekom..oggende koffie en pap in bed, kies wat jy wil eet , en hier is n seun wat niks het en als eintlik het..ek haal my hoed af vir die seun en wens hom net die beste…jy kan dalk my kinders kom leer wat dit is om te weet jy moet werk vir iets…

Johanna Botha ·

Pragtig …hy gaan BAIE verder kom as die wat alles verniet kry !

Christa ·

Pragtige kind. Hy Sal nog verkom in Sy lewe. EK glo nie Hy het hom op gehou met verkeerde maats nie en het n Christelike grondslag geken. Ouers self hoort ook lof toe geswaai word vir wat Hy is

Hans ·

UP kan tog sekerlik behulpsaam wees met n staats NFVAS beurs-uit berig lyk dit of hy kwalifiseer.

kallie ·

Wat ‘n wonderlike jong man. Hy het durf en sal dit nog ver bring,ek wens hom net die beste toe.

Johann Jordaan ·

Hoekom kan hy nie by NSFAS geld kry nie? Daars duisende wat nikswerd is nie wat die universiteite beset en nooit graad vang nie. Hy is daar vir studeer en ‘n werklike bydra te lewer. Hy gooi nie klip en brand af nie!!!!

Nina ·

Regtig Johanna?? Regtig??? Ekself het so kind wat ‘alles verniet gekry het’ omdat ek nie eers kos op die tafel kon sit vir die 12 jaar wat ek ‘n enkelma was nie. Hy het ten spyte van MASSIEWE terugslae, met integriteit, sy kop neergesit en gewerk vir waar hy vandag is. Meer as die geleenthede wat hy benut het van ‘n fondasie van R0, is hy steeds vandag die mees nederige kind wat ek ken. Ek bespreur ‘n goeie skoot bitterheid én trots by jou wat bes moontlik jou kinders benadeel sodat hulle outjies is wat ‘te skaam is om te vra’. En nee, ons het NOOIT gevra nie, maar omdat my kind nek uitgesteek het en geleenthede aangegryp, uitgekalwe of oopgewerk het, het hy bereik wat hy het. En natuurlik ‘n onmeetbare skoot GENADE. Genugtig, jy het duidelik nei jou antwoord deurdink nie. Ek salueer hierdie outjie van Centurion én sy ouers!!!! Gaan ver Morné, en moet jou NOOIT steur aan die Johannas van die lewe nie – God gaan voor jou uit!

wonder ·

Baie trots op jou steun hou so aan, sit in die selfde bootjie met my dogter sy werk ook twee jobs om haar universiteit te betaal en ek enkel ouer help waar ek kan want ons kon nerings Borge kry nie, hoop jy kom reg en kry hulp van Solidariteit Helpende hand want ons sukkel al van 2014 om hulp en bystand van hulle tekry en ons wag nog steeds.???????

Ilze Koorts ·

Jy is so ‘n inspirasie en rolmodel vir ander! Welgedaan!!!!

wonder ·

Baie trots op jou seun, hou so aan. Sit in die selfde bootjie met my dogter sy studeer ook nou en werk twee jobs om haar universiteit te betaal en as enkel ouer probeer ek help waar ek kan want ons kon nerens Borge kry nie, hoop jy kom reg en kry hulp en bystand wan Solidariteit Helpende Hand want ons sukkel al van 2014 om hulp by hulle tekry en ons wag nog steeds??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.