Jukskeibaan bring gemeenskap bymekaar  

Wimpie Botha stel die baan op die proef. (Foto verskaf)

Uitkoms, ʼn versorgingsentrum in Montanapark, Pretoria, het ʼn nuwe jukskeibaan op sy perseel in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-streek opgerig en dit is op 12 Maart amptelik geopen vir die gebruik van buite-organisasies en instellings soos skole, tehuise en sakeondernemings.

Volgens Bianca Steyn, maatskaplike werker van die Helpende Hand-streek, wil hulle met die baan help om persone met gestremdhede en die res van die groter Pretoria-gemeenskap bymekaar uit te bring.

“Op dié wyse kan daar ook vir die versorgingsentrum bewusmaking geskep word  en die inwoners, wat volwassenes met intellektuele gestremdhede is, sal nie meer geïsoleerd van die res van die gemeenskap voel nie,” sê Steyn.

Sy verduidelik dat persone met gestremdhede dikwels ʼn alleenbestaan sonder die ondersteuning van ʼn gemeenskap moet voer. Daarom hoop die rolspelers dat hierdie inisiatief die broodnodige integrasie sal bring.

Christo Topham, bestuurder van die Uitkoms-versorgingsentrum, sê die inisiatief lê hulle na aan die hart. Dit laat hulle voel die breër gemeenskap sal hulle nie vergeet nie.

Mariana Kriel, streeksbestuurder van Helpende Hand, en Christo Topham, bestuurder van Uitkoms, open die jukskeibaan. (Foto verskaf)

Joe Johnsson, ʼn afgevaardigde van Jukskei Suid-Afrika, het die opening bygewoon en feite oor dié sport gedeel.

Jukskei bestaan al sedert ongeveer 1734 toe goewerneur Jan de la Fontaine die Fort de Rietvallei aan die Buffelsjagtrivier gestig het. Die doel van die fort was om onder meer brand- en timmerhout aan die kasteel in Kaapstad te verskaf. Die dragonders het hier met jukskeie en houtstompe na ‘n voorwerp in die grond gegooi – ‘n speletjie om die ledige ure te vul.

Die spel is uitgebrei deurdat veral die transportryers by die groot uitspanplekke jukskei tot georganiseerde spel ontwikkel het. Die eerste amptelike wedstryd vind op 4 November 1939 op Keerweder (Klein Drakenstein) plaas tussen Keerweder en die KWV se spanne. Die jukskeivure het daarna hoog gebrand en op 3 Maart 1940 speel die Oos-Kaap en Vrystaat die eerste interprovinsiale wedstryd. Nadat die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad (SAJR) op 25 Oktober 1940 gestig is, het die spel tot ‘n volwaardige sportsoort ontwikkel. Dit is noemenswaardig om uit te lig dat die woord “jukskei” die naam is van die voorwerp waarmee die sport aanvanklik beoefen is, naamlik die skei wat uit die juk van ‘n os getrek is.

“Sport is en sal altyd ‘n goeie medium bly om mense van verskillende agtergronde bymekaar te bring. Dit dui op die transformerende krag van ʼn geïntegreerde gemeenskap met sterk waardes se behoefte aan ontspanning en gesonde sosiale verkeer. Dit is vir die gemeenskap deur die gemeenskap,” sê Steyn.

Solidariteit Helpende Hand en Uitkoms-versorgingsentrum nooi organisasies, sakeondernemings en individue om die jukskeibane te gebruik en terselfdertyd hul kennis van persone met gestremdhede te verbreed. Kontak Steyn by [email protected] of by 084 517 4580 vir meer inligting.

Die jukskeibaan op Uitkoms se perseel in die noorde van Pretoria. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.