Jý in die tronk, maak my vry

ons-sentrum-04-spelterapie-02.jpg

Oom Johnny word in die tronk gesit. (Foto verskaf)

Deur Suzette Oosthuizen

Ek klim stil in die motor langs my ma. Nie een van ons sê ʼn woord terwyl ons ry nie. Ek maak die venster oop sodat ek die wind op my vel kan voel. Ek maak my oë toe en dink terug aan die kuier by tannie Yolandi by die Ons Sentrum.

Die weeklikse gesels en speel saam met tannie Yolandi is vir my altyd lekker. Sy laat my kies waarmee ek wil speel, ander kere teken ons. Sy maak altyd seker sy hoor my reg. Sy gesels lekker en lag graag, soms luister sy net en ander kere praat ons oor die skool, oor my huis en sommer alles. Meestal is ek stil, veral as sy oom Johnny* se naam noem. As ek nie aan hom dink of oor hom praat nie, bestaan hy mos nie. My kop is deurmekaar en ek weet nie hoe het reg ewe skielik verkeerd geword nie. Ek ken oom Johnny al baie lank al vandat my pappa nie meer by ons bly nie. Oom Johnny het graag met my gespeel en ons gunsteling was die vanielje draairoomyse by Steers.

Oom Johnny het my geleer swem toe ek bang was vir die water tot dit lekker begin word het om te swem. En toe ek verjaar bring hy vir Lolla, die mooiste, witste bondeltjie poedelhondjie vir my sewende verjaardag! Lolla het tot by my geslaap. Ek en Lolla was onafskeidbaar! Maar toe verander dinge eendag en die veilige gevoel van oom Johnny naby my het plek gemaak vir bang wees … as ek vir Lolla wou hou, moes ek daarvoor “betaal”.

Vandag in die speelkamer by tannie Yolandi speel ons met mannetjies en blokkies en Lego op die mat. Na ʼn rukkie haal tannie Yolandi ʼn mannetjie uit tussen al die ander speelgoed en vra of dit my ook aan oom Johnny laat dink. Ek staar net na die mannetjie. Tannie Yolandi wil weet of ek iets met oom Johnny wil deel. Ek wil nie! Ek vat hom uit haar hand en my seer hart maak plek vir kwaad, baie kwaad wees. Ek begin mure bou en maak ʼn tronk om oom Johnny daarbinne te sit. Die kwaad word groter en ek slaan die tronk met hom daarin stukkend.  Ek wil nie hê hy moet daar uitkom nie! Ek sak moeg op die mat langs tannie Yolandi neer en kyk na die deurmekaar speelgoed oral op die vloer. Dit lyk amper soos my hart. Ek wil dit nie nou al regpak nie. Diep binne my dink ek het hom die keer gewen! Tannie Yolandi sê ek het goed gedoen vandag. As ek weer kom kuier kan ons met die regpak begin.

dogtertjie-hond-strand-lucas-marcomini-unsplash.jpg

(Foto: Unsplash.com/Lucas Marcomini)

Die son op my gesig en die wind in my ore laat my vergeet. Ek voel die stilte in my hart. Eendag gaan die wind onder my vlerke wees soos die voëls hoog in die lug en sal ek ook vry kan wees soos hulle.

Die storie wat jy hier gelees het, is nie net ʼn storie nie. Dit is ʼn werklike gevallestudie van ʼn agtjarige dogtertjie.

Ons Sentrum 

Ons Sentrum verleen daagliks terapeutiese dienste aan kinders wat deur trauma geraak word. Indien hulle genesing anderkant swaarkry kan vind skep ons weer hoop en bou ʼn bruggie na ʼn mooier toekoms.  Die afgelope jaar kon ons vier goedopgeleide spelterapeute 375 kinders bereik en die pad van genesing stap. Ouerleiding is ook gebied aan 70 ouers wat bemagtig is in hul ouerskap.

Die Bemagtig ʼn kind- fonds van Helpende Hand verseker dat hierdie diens gelewer kan word. Ons donateurs maak hierdie diens moontlik.

Ons vra jou hulp om seker te maak dat ons kinders vry, veilig en voorspoedig kan wees. Besoek die webwerf www.bemagtignkind.co.za om ʼn bydrae te maak of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Geskryf deur Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale strukture, Solidariteit Helpende Hand

*Skuilnaam om die dogtertjie se identiteit te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.