Kaapstad wil ál meer digitale nomades werf

(Foto: Stad Kaapstad)

Kaapstad is een van die beste stede ter wêreld vir werknemers wat nie kantoorgebonde is nie.

Die Moederstad het ʼn 16de plek uit ʼn lys van 75 stede behaal en selfs hoër as plekke soos New York, Athene en Barcelona geëindig volgens Nestpick, ʼn wêreldwye platform vir behuising, se jongste verslag.

Nestpick het gekyk na lewenskoste, infrastruktuur, ontspanningsaktiwiteite en algehele leefbaarheid van ʼn stad.

Volgens die Stad Kaapstad versterk ʼn verslag soos hierdie die stad se planne om werksvisums vir digitale nomades te verkry wat hulleself tydelik daar wil vestig.

“Dit bewys weereens dat Kaapstad ʼn bekostigbare topklas-bestemming vir hierdie soort werkers is en dit versterk ons versoek vir ʼn werksvisum vir hulle.

“Digitale nomades bly gewoonlik langer as 90 dae by ʼn bestemming. Daarom wil ons voorleggings aan die nasionale regering doen om voorsiening te maak in die immigrasiewet om ʼn afstandswerkvisum vir langer as drie maande toe te laat,” het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, gesê.

Vos het bygevoeg sy span het ook reeds ʼn bemarkingstrategie vir Kaapstad ontwikkel waarvolgens hulle mense aanmoedig om in dié stad aan te bly, werk, studeer, speel en belê. Die stad het onlangs ʼn Remote Work-webinaar aangebied waarin hulle van belanghebbendes by belangrike toerisme- en gasvryheidsorganisasies verneem het hoe die stad digitale nomades kan werf.

Hy glo die afstandswerksmodel is nie net ʼn tendens nie, maar beslis hier om te bly.

“Kaapstad moet alles wat die stad het, benut om aan hierdie werknemers te bied.

“Deur meer digitale nomades aan te moedig om Kaapstad te kies, sal ons die ekonomie ʼn hupstoot gee, aangesien hulle meer tyd en geld in ons stad sal uitgee. Hulle sal ook die boodskap onder vriende, familie en netwerke versterk dat Kaapstad ʼn belangrike bestemming vir werk en ontspanning is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.