Kinders met outisme en Downsindroom is haar lewe

René Coetzee (Foto: Verskaf)

ʼn Paar jaar gelede was sy só dodelik siek met kolonkanker dat sy aan masjiene gekoppel was en haar geliefdes deur die hospitaal ingeroep is om haar te kom groet.

Maar die diep gelowige René Coetzee (62) van Hartbeespoort se taak op aarde was nog nie voltooi nie. Sy is al die afgelope sewe jaar skoolhoof van die Kuierkidz Leersentrum vir breingestremde kinders in die dorp – ʼn werk wat sy vrywillig doen.

Sy rol en kruip daagliks saam met die kinders in die gras rond, lê en kyk na die wolke, help hul met jobsgeduld om op hul unieke wyse te kommunikeer, en woon elke moontlike kursus by om haar kennis te verbreed.

Ja, sy erken dat dit ʼn uitdaging is. “Die meeste van die kinders is outisties, ʼn paar het Downsindroom en ander is serebraal gestrem.”

Dit doen sy alles nadat sy die afgelope 23 jaar ʼn dapper stryd teen kolonkanker aangepak het en verskeie kere in remissie was waarna die siekte net weer opgevlam het.

René stel dit duidelik dat sy nie daarvan hou as mense sê sy werk verniet nie.

“Ek werk vir die Here.”

Sy was jare lank in die onderwys en 17 jaar lank skoolhoof van die Malvern Primary School in Johannesburg – sy noem dit ʼn “neurotipiese” (gewone) skool.

Haar gesin het ʼn naweekplek in Hartbeespoort gehad wat hulle gereeld besoek het, veral toe sy so siek was met die kolonkanker en nie ver kon reis nie. Hulle het destyds in Johannesburg gewoon.

Dis toe dat sy vir dominee Anton van Zyl en sy vrou, ook René, by die plaaslike Kuierkerk wat hulle Sondae bygewoon het, ontmoet het. René en Anton het self ʼn breingestremde seun, Sean-Jacques (28), vir wie sy baie lief geraak het. Hy is een van die leerders by die Kuierkidz Leersentrum wat in 2008 in Meerhof gestig is. René en haar man, Christo, het hegte vriende met die predikantspaar geword. Die Kuierkidz het later na ʼn huis getrek. ʼn Weldoener het onderneem om vyf jaar lank die huur te borg. Dit bly ʼn stryd om die deure oop te hou.

“Eendag sit ons in die kerk en die gemeente word gevra om asseblief vir Kuierkidz te bid en te vra dat iemand gestuur word om hierdie kinders te help sodat die skool nie toemaak nie. Hulle het ʼn paar personeellede gehad, maar sedert 2014 geen leier nie.

“Daar was destyds sewe kinders, maar ons het nou 14. Voor die Covid-pandemie was daar 22.

“Toe Sean-Jacques 21 geword het, is ons en van sy maats by Kuierkidz na sy verjaardag genooi. Ons het lekker gekuier en gesels toe ek die hoop uitspreek dat hulle ʼn skoolhoof sal kry.

“Maar jý was dan ʼn skoolhoof,” het iemand opgemerk, waarop sy geantwoord het dat sy met neurotipiese kinders gewerk het.  Sy het ortopedagogiek, wat die sielkunde rondom outisme insluit en wat sy ook gepromoveer het, studeer. Verder het haar studies ook twee jaar se spesiale onderwys asook onderwysbestuur ingesluit.

“Ek het in kinders met verskillende gestremdhede belanggestel en het toe ingestem om hulle vir ʼn maand lank te help. Ek het hart en siel ingespring om na die programme te kyk, seker te maak dat die onderwyseresse daar is, en ook om aankope te doen.”

Sy trek haar skouers op en glimlag.

“Die maand het toe sewe jaar geword.”

Sy en haar personeel is ook SNAP-opgelei (Special Needs Adapted Programme) wat op outisme, maar ook op ander gestremdhede toegepas kan word deur verskillende tegnieke te gebruik en ook om outistiese kinders te evalueer.

René by die Kuierkidz Leersentrum met Neil Bouwer. (Foto: Verskaf)

Die Kuierkidz Leersentrum is glad nie soos ʼn skool of ʼn kleuterskool nie. Elke kind word individueel afgerig en kry ook huiswerk. Hul ouderdomme wissel van 6 tot 28 jaar oud.

“Hulle sal nie in ʼn gewone stelsel aard nie, maar hulle is baie slimmer as wat ʼn mens dink. Die werk is baie intensief en duur, maar ek doen dit vir die liefde van die saak. Ek weet die Here het my daardie dag gekies. Ek werk met my intuïsie en my hart.”

René was skaars by Kuierkidz toe haar kolonkanker weer opgevlam het. Sy is egter nou weer vier en ʼn half jaar in remissie en glo vas dit gaan so bly.

Intussen is haar ma (84) met longkanker gediagnoseer en haar bejaarde ouers het by hul huis ingetrek. Dus bestaan haar dae uit versorging – by Kuierkidz én na-ure.

Wat breingestremde kinders betref, sê sy jy moet deurentyd fisiek by hulle wees.

“Party van hulle praat nie, maar hulle verstaan alles, en dus moet hulle heeltyd na jou lippe kyk en jou lyftaal waarneem. Jy moet goed vat en vir hulle wys en moedig hulle aan deur hul hand te neem en op die voorwerp te plaas. Ek vra vir die kind vrae en hy kommunikeer met sy liggaam en oë. Dis iets wat ek aangeleer het. Jy kyk wat werk.

“Jy is sy maatjie en doen alles saam met hulle. Om na die wolke te kyk kalmeer hulle. Soms gebeur dit dat hulle ʼn ‘meltdown’ kry. Vir ʼn Down-kind sit jy alleen in ʼn tentjie met sagte speelgoed terwyl jy buite met hom praat. Outistiese kinders hou nie van aanraking nie. Jy laat hom toe om goed te gooi sonder dat hy homself of ander seermaak. Dan praat jy rustig met hom en sit musiek aan.”

Haar kolon het baie probleme veroorsaak; perforasies, die verwydering van ʼn gedeelte, en die tydelike dra van sakkies wat soms gebars het. Die kolon was in ʼn stadium spasties en kon sy vir twee jaar lank net vloeistowwe inneem. Haar eetlus skoonveld. Haar dogter Doreen en haar ouers het haar getrou versorg toe sy so swak was.

“Maar nou is my eetlus weer terug. Ek is skoon vet!”

Sy was egter deurentyd by die Kuierkidz betrokke en het tydens die pandemie, toe die skool vir vier maande gesluit het, self kratte met leermiddels skoongemaak, ontsmet, gepak en by hul huise gaan aflaai.

“Ek en my personeel moes as versorgers registreer om hulle tuis te kon besoek.”

Tydens een vakansie in 2013 in Port Shepstone, toe sy weereens bitter siek geword het, het ʼn Indiërdokter (ʼn chirurg) haar behandel.

Sy het soveel vertroue in hom dat sy steeds vir konsultasies en toetse afvlieg Natal toe.

“Hy het eenkeer gesukkel om ʼn port in te kry. Toe vra hy skielik: ‘Where is God in all of this?’ En daar bid hy toe vir my. Ek het agterna gehoor dat hy Rooms-Katoliek is.”

Waar kry sy die krag vandaan vir hierdie liefdestaak wat sy daagliks verrig?

“Van Bo. Ek dink nie ek gaan die Kuierkidz ooit los nie. Al kan ek nie meer soontoe gaan nie en al bly ek tuis en stel net programme vir hulle op. Ek gaan bly vir solank as wat ek kan.”

  • Kontak René Coetzee by [email protected] of 079 626 9859.
  • Die kinders wat René vreugde bring en waarvoor sy werk: Tommie Smith, Reuben van Coller, Lourens Steynberg en Luis Baeta.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.