Kordaatstuk vir man wat by die dood omdraai

Jaco en Rosslyn na afloop van die Ironman 70.3-uitdaging. (Foto verskaf)

Dit was ʼn doodgewone Maandagmiddag op 21 Desember 2020. Jaco Steenkamp, ʼn jong fisioterapeut, was in sy Volkswagen Polo vanuit Barkly-Oos in die Oos-Kaap op pad na sy ouerhuis in Wildernis. Die son het helder geskyn, soos die son net in Desember kán skyn, maar terwyl hy in die Outenikwapas gery het, het die reën neergesak. Die pad was besig en Jaco het maar geduldig agter ʼn stroom karre gery. By ʼn verbygaanplek het hy sy flikkerlig aangesit en oorbeweeg na die regterbaan. Hy het die petrol getrap en meteens het hy gevoel hoe die kar se agterkant begin gly. Sy instinktiewe reaksie was om ʼn botsing met die motor aan sy linkerkant te vermy, maar sy Polo het getol en in die pad van die aankomende verkeer beland. ʼn Aankomende voertuig het Jaco se Polo op die linkerkant getref.

Jaco kan alles goed onthou. “Nadat my kar tot stilstand gekom het, het ek dadelik geweet iets groots is fout want ek kon nie asemhaal nie. Ek wou dadelik uit die kar klim en het die deur oopgemaak, maar dit het gevoel asof ek nie kan beweeg nie. Ek kon wel ʼn paar treë gee, maar toe slaan ek neer. Die impak van die botsing was so groot dat dit die asem uit my longe geslaan het en ek kon skielik nie asemhaal nie. Een ding was beslis ʼn genade. As fisioterapeut kon ek voel dat dit die linkerkant van my longe is wat seergekry het. Ek het ook geweet ek moet nou kalm bly en nie hiperventileer nie. Vir die volgende paar minute het ek net gefokus om met die gesonde kant van my longe asem te haal. Die bestuurder van die voertuig wat my getref het, was dadelik by. ʼn Ma en ʼn dogter wat van Oudtshoorn se kant af gekom het, het ook stilgehou. Ek kon gelukkig vir hulle sê dat ek ʼn goeie mediesefonds het, en dat ek dus na enige private hospitaal in George geneem kan word,” vertel Jaco.

Hy het intussen ook vir die vrou wat hom kom help het sy ma, Talitha, se telefoonnommer gegee, maar hy het geweet sy het Covid, en sou dus nie na die ongelukstoneel kon kom nie. Sy sussie, ook Talitha, en haar verloofde Arno Fourie was in Mosselbaai en het hulle na die ongelukstoneel gehaas. By George MediClinic kon Jaco nog vir die verpleegpersoneel in die ongevalle-eenheid sê dat hy ʼn stukkie glas in sy een oog het en dat hulle dit asseblief moet uithaal. Van daar af het dinge al hoe vaer vir hom geword, grootliks omdat hy morfien gekry het. Die pyn was ondraaglik.

Vier operasies in vier dae

Die volgende oggend vroeg is hy na die operasieteater geneem sodat sy geskeurde diafragma herstel kon word. Van sy organe het ook geskuif, en dit is teruggeplaas in posisie en sy geskeurde milt is herstel. Wat die medici nie besef het nie, is dat Jaco ná hierdie operasie inwendig begin bloei het. Hy is Dinsdagmiddag terug teater toe om die bloeding te probeer stop. Ná ʼn tweede operasie wat die bloeding moes stop onsuksesvol was, het die dokter in wie se sorg Jaco was ʼn professor by die Vrystaat Universiteit gebel. Dié het gesê hulle moet sy buik vol deppers druk sodat die bloeding kan stop. Hierdie operasie is toe Woensdagoggend baie vroeg gedoen. Vir sy ouers, Francois en Talitha, was dit ʼn gewigte besluit om te neem om die nodige toestemming te verleen vir die operasie. Dit sou die derde operasie in 24 uur wees en daar was eintlik geen hoop meer vir Jaco nie. Kort voor die operasie was sy bloeddruk ʼn benarde 32 oor 22 wat eintlik nie meer lewensvatbaar is nie. Sy hart het ook tydens die tweede operasie gaan staan, maar na ʼn elektriese skok het dit weer begin klop. Francois en Talitha het wyslik besluit om dit in die hand van die Here oor te laat, en die nodige magtiging gegee.

“Die rede vir die inwendige bloeding was my ribbes wat so sleg gebreek het. Daar was skerp puntjies en elke keer wat hulle nuwe bloed in my pomp, is die are weer oopgesteek en het ek van voor af begin bloei. Daar het nog ʼn vierde operasie gevolg, die keer op Kersoggend, en eers hierna het die dokters my ouers laat weet dat die bloeding gestop het,” sê Jaco.

Van die eerste oomblik wat die nuus van Jaco se ongeluk gebreek het, het sy uitgebreide familie, sy kollegas en vriende begin bid. In hierdie eerste paar dae ná die ongeluk, is Jaco se ouers twee maal na die hospitaal ontbied toe dit gelyk het asof hy gaan sterf. Nou, op Kersoggend, was daar vir die eerste keer ʼn bietjie hoop. Tog sou hy nog ʼn hele paar dae op ʼn ventilator wees – 18 dae in totaal. In dié tyd het sy niere ook ophou funksioneer en moes hy dialise ontvang. Jaco was al die pad gesedeer, maar die dokters het gehoop dat hy ná ʼn week sal begin bykom. Dit het egter twee weke geduur voordat hy bewus geword het van wat om hom aangaan. Uiteindelik is hy op 14 Januarie uit die intensiewesorgeenheid na ʼn gewone saal oorgeplaas en toe hy dit regkry om ʼn paar tree met ʼn loopraam te gee, is hy ontslaan en kon hy na sy ouerhuis teruggaan.

“Ek het vreeslike nagmerries gekry terwyl ek in die koma was, en in elkeen van die nagmerries moes ek op verskeie maniere veg vir my lewe. By tye was ek in my drome bo in Afrika, soos die tyd toe ek ʼn toergids was. Dan moes ek teen verskeie monsters veg. Die mense naaste aan my, het almal ʼn draai in my nagmerries gemaak: my ouers, my vriend Henkie en my vriendin Rosslyn van Schoor. Ons was toe so nege maande saam. Eintlik was die droom waarin Roz was, die heel beste een want ek het gedroom ek het haar gevra om met my te trou, maar eers moes ek veg vir my lewe.”

“As so iets met ʼn mens gebeur, is dit seker maar menslik om te vra: ‘Hoekom het ek hierdie oorleef?’ Hoekom het die vrou wat die eerste aand langs my in intensiewe sorg gelê het, en wie se beserings nie so erg was nie, tog gesterf, maar ek het bly leef? Sy was ook in ʼn motorongeluk. Wanneer ʼn mens agterna hoor jou bloeddruk was 32 oor 22, as jy hoor van al die kere wat hulle jou adrenalien moes spuit om jou hart aan die klop te hou, wanneer jy hoor van die 19 pinte bloed wat jy ontvang het, dan kan ʼn mens maar net opreg dankbaar wees. Dan móét jy die Here se hand in die gebeure raaksien. Vandag glo ek die ongeluk het so baie vir ander mense se geloof beteken. Dit is ʼn bewys dat enigiets moontlik is, mits ʼn mens bid en glo. Dit was nie my eie gebede nie, want ek kon nie bid nie, maar almal wat my geken het. Selfs vriende van my vriende het gebid. Ek glo toe ek uiteindelik sonder enige blywende skade uit die hospitaal stap, het dit baie mense se geloof versterk,” sê Jaco.

Jaco moes aan die begin van Januarie 2021 begin werk het in ʼn pos by die Humansdorp-hospitaal. Hy het sy gemeenskapsdiensjaar die vorige jaar in Barkly-Oos voltooi. Op 1 April 2021 kon Jaco uiteindelik by sy nuwe pos instap, maar daar het moeilike tye gewag omdat hy nog gou baie moeg geword het. Menige middagetes het hy bloot op sy arms lê en slaap. Jaco het stadig maar seker sy kragte herwin. Soms het hy bloot met sy hond Barkly strand toe gegaan. Roz se pa het vir hulle ʼn kano gekoop en die twee het ook begin roei. Jaco het immers nog ʼn groot doelwit voor oë gehad: die Ironman 70.3-uitdaging.

ʼn Nuwe uitdaging het gewag

Jaco en Henkie van Zyl het vanjaar albei die Ironman 70.3 voltooi het. (Foto verskaf)

“Ek en my vriend van laerskool dae af, Henkie van Zyl, het in 2019 besluit om hierdie uitdaging aan te pak. Dit is die sogenaamde halwe ystermankompetisie: 1,8 km swem in die see, 90 km op ʼn padfiets en 21,1 km wat jy moet draf. Ons het eenmaal ʼn skoolpêl van ons by ʼn kuierplek raakgeloop, en hy het toe vertel hy het dit suksesvol voltooi. As hy dit kan doen, kan ons ook, het ons besluit. In 2020 kom Covid-19 en ons planne was daarmee heen. Aan die einde van 2020 het ek my ongeluk gehad, so dit kon toe ook nie in 2021 gebeur nie. In 2022 het ek en Henkie ingeskryf vir die Ironman 70.3 in Durban. Glo dit of nie, toe tref die vloede vir Durban en daar is te veel E.Coli in die water en die resies word afgelas. Daarna was vanjaar se 70.3 in Port Elizabeth ons mikpunt,” sê Jaco.

Hy het ʼn tweedehandse padfiets gekoop en begin fietsry. Omdat hy nog nooit, volgens hom, ʼn sterk swemmer was nie, het hy ook daarop gefokus. Wat hierdie 1,8 km-swem so moeilik maak, is dat jy dit in die see moet swem en dis heel anders as in ʼn swembad. Henkie het reeds in 2022 ʼn 70.3 gedoen, en hy kon toe mooi vir Jaco presies vertel wat om te doen en hoe om alles gereed te kry.

Die oggend van 5 Maart 2023 was warm en bedompig toe die atlete vroegoggend aangetree het vir die kompetisie. Die eerste been is altyd die swem in die see. Jaco lag en sê hy het daar homself so ʼn bietjie in die voet geskiet, want hy het geglo ʼn mens móét met ʼn swempak swem, maar sy swempak was eintlik een wat bedoel is vir skubaduik. Boonop effe te groot en besonder swaar. Gelukkig kon hy darem die swemgedeelte suksesvol voltooi. Toe hy later by die drafgedeelte uitkom, het ʼn ou wat saam met hom gedraf het vir hom gesê: “Ek hoor hier is ʼn arme p*&pol wat met ʼn Reef-swempak gaan swem het.” Jaco het maar net gelag. “Die arme p*&pol was ek gewees,” het hy droogweg gesê.

Uiteindelik het hy die resies in 5 uur, 59 minute en 30 sekondes voltooi. ʼn Ongelooflike kordaatstuk vir iemand wat twee jaar vantevore letterlik by die dood omgedraai het. Met hierdie prestasie het hy beslis bewys dat hy ʼn ysterman is.

Jaco en Roslynn op hulle troudag, 25 Maart. (Foto verskaf)

“Die oomblik toe ek onderdeur die banier by die eindstreep hardloop, was onvergeetlik. Dit was nie net vreugde oor die resies wat ek suksesvol voltooi het nie, maar ook oor die feit dat ek die hele ongeluk en alles wat gebeur het agter my kon sit. Ek was weer die Jaco wat ek voor die ongeluk was.

“Daar is soveel dankbaarheid vir almal wat daar was vir my toe ek siek was. Roz, my ouers, familie en vriende het almal deurgaans ʼn baie groot rol gespeel. Daar was selfs mense by die werk wat my al die pad ondersteun het. Ek is ook ontsettend dankbaar dat daar daardie dag niemand saam met my in die kar was nie, ook nie my hond Barkly nie. Hy was toe reeds veilig by my ouerhuis.

“Na my ongeluk het ek definitief ʼn ander uitkyk op die lewe. Dit het my laat besef dat ʼn mens elke dag die geleenthede wat die Here vir jou gee moet gebruik. Jy weet nooit wanneer dit jou laaste dag op aarde is nie. Gebruik alles wat die Here vir jou skenk tot die beste van jou vermoë, doen wat jy kan en moet nooit lui wees en sê ek sal dit môre doen nie. Daardie môre kom dalk nooit nie.”

Naskrif: Jaco en sy mooie Rosslyn is op Saterdag 25 Maart vanjaar op ʼn wildsplaas net buite Jeffreysbaai in die huwelik verbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.