Kry jouself in rat vir die laaste skof van 2020

René Arendse, die motiveringsdiva, het wenke vir hoe om jou emosionele gesondheid op te bou te midde van die Covid-19-pandemie en al sy uitdagings. (Foto: René Arendse se Facebook-blad.)

Hierdie tyd van die jaar begin ons almal (gewoonlik) effens stoom verloor, maar met 2020 se bykomende uitdagings met die Covid-19-pandemie gaan niemand jou blameer as jy nóú al flouer as gewoonlik voel nie.

René Arendse, die motiveringsdiva, het met Maroela Media gesels oor wat om te maak om die laaste helfte van 2020 met avontuurlus en gemotiveerdheid aan te pak.

“Ek glo een van die dinge wat ʼn mens nou kan doen, is om jou fokus te verskuif na dit waaroor jy wel beheer het, soos die feit dat jy steeds jou eie keuses kan maak.

“Dit is ʼn soort superkrag wat jy het, want jy kan elke dag kies hoe jy opdaag, hoe jou kinders, kleinkinders en agterkleinkinders jou sal onthou, en jy kan selfs kies hoe jou kollegas by die werk na jou sal verwys.”

René nooi jou om saam met haar vandag ʼn kopskuif te maak…

“Dink net, as jy nou hierdie artikel lui, het jy dit gemaak tot in die tweede helfte van 2020 en dit is al reeds ʼn prestasie. Ek en jy sit nou hier in die middel van ʼn nuwe geskiedenis en dit gaan in die geskiedenisboeke opgeteken word – ons was deel daarvan.

“Maak nou die keuse oor hoe jy onthou wil word. As jy kragtige besluite hier neem – soos om meer liefde aan die wêreld te wys – gaan die voelgoedhormone sommer gou weer vloei en sal jy sommer gou meer in beheer voel.”

Vir René lê die krag in die keuses wat jy elke dag maak. (Foto: René Arendse se Facebook-blad.)

Voel jy dalk vasgeval, ongelukkig en onvervuld? René glo dit is die lewe se manier om jou bietjie wakker te skud.

“As jy nie groei nie, is jy dood – dit is so met enige organisme en dit geld vir jou ook. Miskien voel jy nou so oor jou werk, maar dit is die lewe se manier om vir jou te sê: ‘Luister jy’t nou opgehou om te groei’. Dalk is dit tyd om iets anders aan te pak, ʼn nuwe vaardigheid te ontwikkel of iets nuuts te leer?”

René sê die wete dat ʼn mens gemaak is om te groei, gee haar moed en hou haar gemotiveerd.

“Dit beteken ek kan elke dag opstaan en van vooraf probeer. As ek ʼn gefaal het, kan ek weer probeer, want ons is hier om te leer en só te groei.”

Sy glo ook die ideale tyd om te bou aan jou en jou kinders se emosionele intelligensie, is nóú.

Bou elke dag aan dapperheid en duidelikheid. Dit is twee boustene vir ’n marmerfondasie van jou emosionele moed en die noodtenk waarop jy moet terugval as jy miskien leegloop in moeilike tye. Dit is iets waaraan jy elke goeie dag moet werk, amper soos ʼn spier wat jy oefen.

En René meen dapperheid begin deur te erken en te aanvaar dat jy dalk vandag nie so oukei voel nie.

“Dapper mense onderdruk nie hierdie gevoel of emosie nie.

“Hulle weet ook wanneer dit tyd is om vir hulp te vra. Om hulp te vra, is beslis nie ʼn teken van swakheid nie, inteendeel, dit is ’n teken van innerlike krag en wysheid. Dit wys jy weet mense is gemaak om mekaar te ondersteun.”

René glo elke persoon moet elke dag waarop dit met jou goed gaan, jy tyd moet maak om te bou aan die dinge wat vir jou dapperheid en duidelikheid gee.

“Dit is ʼn inside job. Daarom is dit belangrik om jouself te vra waarmee jy jouself voed.”

“Lees daardie outobiografie van ʼn persoon wat jou inspireer. Gesels met iemand wat al self moeilike tye oorleef het of wat jou inspireer met hul huwelik wat 40 of 50 jaar gehou het. Leer by hulle. Leef jou kreatiewe sy uit.”

(Grafika: René Arendse se Facebook-blad.)

René meen dit is ook belangrik om die lawaai om jou ʼn bietjie stiller te maak.

“Ons sukkel so met kwesbaarheid omdat dit die voorbeeld is wat sosiale media vir ons wys – dit moet net altyd goed gaan met jou en jy mag nie slegte dae beleef nie.”

Verder is dit nou die tyd om ook proaktief te wees met jou ligaamlike gesondheid.

“Onthou daar word nie verniet gesê jou gesondheid is jou rykdom nie, en dit geld in hierdie stadium selfs nog meer as ooit. Dus, doen wat jy moet doen om jouself en jou gesin fisiek gesond te hou.”

  • Lesers kan René se werk volg op haar webwerf ReneArendse.com en daar inteken vir ʼn gratis weeklikse inspirasiebrief wat jy elke Maandagoggend kan ontvang. Volg haar ook op Instagram waar sy vroue help met entrepreneurskap om ʼn gemeenskap se ekonomie te help dryf.
  • René Arendse het met Maroela Media gesels oor hoe om gemotiveerd te bly en hoe jy jou emosies as’t ware Covid-19-bestand kan maak. Sy deel in die gesprek talle wenke oor positiwiteit. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.