Kyk uit vir dié nuwe baken as jy verby Bethlehem ry

Die kruis op Besterkop weeg net oor ‘n ton. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners wat binnekort vanuit Bethlehem in die Vrystaat in die rigting van Paul Roux vertrek, sal verras wees wanneer hulle ʼn nuwe baken sowat 27 km uit die dorp op die N5 gewaar.

ʼn Enorme verligte kruis, sowat 10 m hoog en 4 m wyd, is die naweek op Besterskop op die plaas Kookhuis, buite Paul Roux, opgerig.

“Ons glo dat hierdie verligte kruis die Here se lig oor almal in die omgewing, asook diegene wat verbyry, sal laat skyn en ons weer bewus sal maak van sy teenwoordigheid,” vertel Kobus Brand, die boer wat verantwoordelik was vir die oprigting van die kruis en ook op Kookhuis boer.

Dié kruis, wat houtplanke van sowat 200 m as bekleding dra, kan sowat 5 km ver in die rigting van Bethlehem en Paul Roux gesien word.

Die plan vir die kruis is van stapel gestuur ná sy buurvrou, Yvette Jensen, van ʼn toer in Israel teruggekeer het Suid-Afrika toe. “Daar het soveel wonderwerke met my in Israel gebeur en die Heilige Gees het my net geroep om iets groots te doen. Ek was nie seker wat dit was nie, maar die koppie op my buurman se plaas het na die regte plek gevoel,” vertel Jensen aan Maroela Media.

Jensen het in 2017 reeds met die idee na Brand gegaan, maar die twee het destyds nie geweet hoe hulle die projek sou aanpak nie. In 2018 is Brand egter genader deur nog ʼn naburige boer om ʼn internet-toring op die Besterkop-koppie op te rig. Die boer, JP Marais, het onderneem om ʼn pad na bo te bou.

In Oktober vanjaar is die voetstuk vir die kruis eindelik opgerig en daar is skouer aan die wiel gesit om die kruis te begin bou. Brand sê hy het in samewerking met Herman van Wyk, Greyling Venter, Sampie Potgieter en Niekie van Zyl van die niewinsgewende organisasie Kruiskilo’s die kruis gebou. Dié organisasie beywer hom om kruise oor die hele Suid-Afrika op te rig.

Verder het die span ook bystand ontvang van ander boere in die omgewing en hul werkers.

Die kruis is op 16 November vanjaar voltooi, net mooi twee jaar ná Jensen vir Brand genader het.

Die kruis is op 16 November voltooi. (Foto: Verskaf)

Volgens Brand was die oprigting ʼn tamaai taak, veral omdat die middelstaaf van die ysterkruis sowat een ton weeg en die twee dwarspale sowat 60 kg elk. “Die hele projek was ʼn groot uitdaging, omdat dit op ʼn koppie is en ons slegs met ʼn viertrekvoertuig bo kon uitkom.”

Alle toerusting is óf met die hand óf per voertuig na bo geneem en die kruis is met behulp van mannekrag en handearbeid opgerig. “Om 10 m hoog in die lug op ʼn steierplank te staan en werk terwyl die wind waai, was voorwaar ook ʼn uitdaging,” sê Brand.

Dit het egter nie die span gestuit om die taak uit te voer nie. “Die Here het mense die taak opgelê om die werk te doen. Ons wéét, soos die Woord nie leeg na Hom sal terugkeer nie, het ook hierdie kruis ʼn groot doel in God se koninkrykswerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willie ·

Hallelua die Kruis sal christene tot gebed oproep en dank omdat die man wat aan die Kruis gesterf het vir my en jou in sy besluit gehad het. Maar die Kruis gaan ook tot nie christene spreek dat daar Redding is vir almal wat Hom wil aanneem. Shalom.

wingateagtsewenul ·

gaan julle 1 op regterkant van god sit dat ons sien jesus is 4 op 7 of sit i 9 i daar dan sal julle ook sien die 9 sterf op die kruis sodat 5 vry kan wees julle kruis is nie klaar jesus het gekom

Leon Pit ·

Daar moet meer kruise geplant word regoor die land. As jy verby n kruis ry of een sien dan bring dit jou terug tot verhaal en besef die Kruis is groot soos ons Skepper.

Leon ·

Fantasties. Wonderlik. ‘n Werklike baken. Ons het meer nodig.

Johann ·

Ek neem aan dis sonkrag wat die “verligte kruis” se lig aandryf?

JRV ·

Briljant. Altyd lekker om n kruis op die pad te sien wat tot Eer van God opgerig is.

Beelde ·

Maak meer sin en beteken baie meer as die belaglike beelde wat van sekere mense opgerig en verafgod word.

Emil de Villiers ·

Die kruis is nie ‘n simbool wat in ons volk se Protestantse afkoms pas nie. Nêrens in die Bybel word die kruis aangewys as ’n voorwerp wat heilig verklaar is of op enige ander soort betekenisvolle manier deur Christene geag moet word nie. Die kruis is ‘n heidense simbool wat deur Konstantyn ingevoer is in die Roomse kerk saam met baie ander heidense simbole en gebruike. Die Protestante het met die Hervorming teruggekeer na die duidelike voorskrif van die Woord en die gebruik van die simbool van die kruis en die maak van afbeeldings van Christus verwerp. As ons dus kruise van die aard oprig simboliseer dit in werklikheid ‘n verdere verval weg van die waarheid van God se Woord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.