Lego: 90 jaar van boupret

(Foto: iStock)

Lego, die wêreld se grootste en sekerlik bekendste speelgoedvervaardiger, vier vanjaar nie net sy 90ste bestaansjaar nie, maar spog met blink verkoopsyfers, bokse vol uitbreidingsplanne en verskeie nuwe produkte. Dié Deense maatskappy, wat in 1932 deur Ole Kirk Kristiansen gestig en van pa na seun oorgedra is, word tans deur Kjeld Kirk Kristiansen, ’n kleinkind van die stigter, besit.

Soos die vervaardigers van onder meer bordspeletjies, het Lego behoorlik munt geslaan uit die grootskaalse inperkings tydens die Covid-19-pandemie toe families wêreldwyd met Jan Tuisbly se karretjie moes ry. ’n Magdom mense het in dié tyd aanlyn bestellings geplaas om oud en jonk aan die bou en besig te hou.

Niels Christiansen, uitvoerende hoof van Lego, het aan The Guardian gesê die groep het in 2021 ook die vrugte gepluk van die strategiese beleggings wat die afgelope drie jaar gemaak is om sy portefeulje te vernuwe, sy kleinhandelervaring uit te brei en te ontwikkel, en Lego se wêreldwye voorsieningskettingnetwerk te vergroot.

Lego, wat al twee keer as Speelgoed van die Eeu aangewys is, spog met verkope van £6,2 miljard (sowat R121 miljard), terwyl sy wins in 2021 tot £1,9 miljard (meer as R37 miljard) toegeneem het. Dit volg ondanks drastiese stygings in vervoer- en grondstofkoste vir sy bekende plastiekboustene. Van Lego se topverkopers sluit in Lego City, kindervriendelike stelle waarmee jy onder meer treinstasies of helikopters kan bou, asook die Harry Potter-, Star Wars- en Lego Technic-stelle wat weer groot byval by jongmense en volwassenes vind.

Die duurste Lego-stel. (Foto verskaf)

Benewens ’n groot skuif na aanlyn verkope, het Lego ook 165 nuwe winkels oor die hele wêreld geopen, waaronder meer as 90 in China. Die groep het einde 2021 met 832 winkels gespog. Lego beplan om twee groot nuwe vervaardigingsaanlegte ter waarde van meer as $1 miljard elk te open. Die eerste is in Viëtnam om sy groot groei in Asië te ondersteun. Die tweede is in Virginië in die VSA. Laasgenoemde sal ongeveer 1 800 werkgeleenthede skep, benewens die 2 600 mense wat Lego reeds in die VSA in diens het. Lego het meer as 20 000 werknemers in 40 lande.

Lego beplan voorts om van enkelgebruik-plastiekverpakking ontslae te raak en toets tans ’n prototipe-boublokkie van herwinde plastiek om sy produkte meer volhoubaar te maak. Lego het ook onderneem om geslagsvooroordeel, veral wat die uitbeelding van onder meer beroepe betref, uit sy speelgoed te verwyder.

Twee nuwe produkte wat van Augustus op die rakke sal wees, is herskepte weergawes van sy uiters gewilde en klassieke kasteel- en Galaxy Explorer-ruimteskipstelle, het Business Insider berig.

Die Lion Knights’ Castle is geïnspireer deur die geel en swart ridderkastele van die jare sewentig en het ’n waterwiel, balkonne, uitkyktorings en ’n optrekbrug. Die stel bevat ook perdestalle, ’n kerker en speelse verwysings na ou Lego-stelle. Daar is selfs ’n karakter wat binne die “nuwe” kasteel met ’n geel kasteel uit die 1970’s speel. Die stel spog ook met ’n “dame” van die kasteel (“Lady of the Castle”) wat met ’n skild, helm en perd haar troepe lei. Dié nuwe kasteelmodel bestaan uit 4 500 stukke.

Die klassieke Galaxy Explorer-ruimteskipmodel kry splinternuwe vlerke en bestaan uit 1 246 boublokke en ruimtevaarderfigure. Die ruimteskip, wat oorspronklik in 1979 vrygestel is, is nou ook toegerus met beddens, stoorplek, ’n kajuit en gereedskap vir die vier ruimtevaarders. Daar is ook ’n verkenningsvoertuig wat speel-speel op die maan of op Mars ontplooi kan word.

Marvel-geesdriftiges kan uitkyk vir die Dr Strange Sanctum Sanctorum-stel, wat by die onlangse Lego Con bekendgestel is, en teen bykans $300 (oftewel R4 800) te koop sal wees.

Legomannetjies (of figuurtjies) is die wêreld se grootste bevolking! Daar is meer as 4 miljard van hulle. (Foto: iStock)

Tien interessante Lego-feite

  1. Ole Kirk Kristiansen, die stigter van Lego, was ’n timmerman wat aanvanklik eenvoudige houtspeelgoed gemaak het. Vandag word ’n Lego-stel elke sewe sekondes verkoop.
  2. Die naam Lego is ’n afkorting van die twee Deense woorde “leg” (speel) en “godt” (goed). Nou weet ons waar die naam speelgoed vandaan kom!
  3. Die ikoniese Lego-boustene is in 1958 bekendgestel. As jy een van die oorspronklike blokkies kan vind, sal dit steeds in vandag se stelle pas. Die unieke ontwerp is tot op 0,002 mm akkuraat. Slegs 18 uit elke 1 miljoen blokkies wat vervaardig word, voldoen nie aan die maatskappy se streng gehaltevereistes nie.
  4. Legomannetjies (of figuurtjies) is die wêreld se grootste bevolking! Daar is meer as 4 miljard van hulle. As al die figuurtjies wat in een jaar vervaardig word (340 miljoen), in ’n ry gepak word, sal dit oor ’n afstand van 7 900 km strek. Dié mannetjies, wat in 1975 bekendgestel is, was oorspronklik net geel omdat dit as ’n rasneutrale kleur beskou is.
  5. Daar is gemiddeld 80 Lego-blokkies vir elke mens op aarde. Die blokkies wat jaarliks verkoop word, sal vyf keer om die aarde strek. Byna 5 miljoen Lego-stukke word per uur in 60 verskillende kleure vervaardig.
  6. Lego vervaardig meer as 300 miljoen minimotorbande per jaar, oftewel meer as 800 000 per dag.
  7. Een van die duurste Lego-stelle is die uiters gesogte Star Wars Ultimate Collectors Series Millennium Falcon-stel. Dit bevat meer as 7 541 stukke en kos sowat $800 (sowat R12 800). Is jy ’n versamelaar? Loer hier na die wêreld se 20 duurste stelle.
  8. Lego Italië spog met die Guinness-wêreldrekord vir die hoogste Lego-toring. Dié rekordtoring van meer as 35 m hoog is in Milaan gebou deur 550 000 Lego-blokkies te gebruik. Snuffel nóg Lego-rekords hier
  9. Nathan Sawaya is die eerste en een van die bekendste Lego-kunstenaars. Sy wêreldwye rondreisende uitstalling getiteld “The Art of the Brick” is deur CNN as een van die wêreld se “Moet-sien-uitstallings” aangewys. Kyk hier na sy uitsonderlike skeppings. Jy kan een van sy jongste skeppings, ’n witrenoster, vir $300 000 (R4,8 miljoen) koop!
  10. Lego het in April vanjaar ’n splinternuwe hoofkantoor in Denemarke geopen. Nie net herinner die gebou aan ’n Lego-stel nie, maar meer as 5 ton herwinde Lego-blokkies is gebruik om die meubels vir buite die gebou te maak. Kyk hier na die omgewingsvriendelike en speelse nuwe Lego-kampus.

Bykomende bronne: Lego; National Geographic Kids; Guinness World Records; Interesting Engineering.

Ole Kirk Kristiansen (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DieKriek ·

Dis hoekom daar so baie namaaksels is. Speelgoed hoef nie n leeftyd te hou nie, net so 2 of 3 jaar tot die kind dit ontgroei.

Carina ·

“Een van die duurste Lego-stelle is die uiters gesogte Star Wars Ultimate Collectors Series Millennium Falcon-stel. Dit bevat meer as 7 541 stukke en kos sowat $800 (sowat R12 800)”.
Net ‘n korreksie – 5jaar terug het die stel al R16000 gekos. Sou dit baie graag wou bou maar dis darem net te duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.