Lei vroue én mans op teen geslagsgebaseerde geweld

Orestes dos Santos (Foto: Verskaf)

Wanneer dit by geslagsgebaseerde geweld kom, is die fokus gereeld op hoe vroue hulself beter kan beskerm, maar min aandag word gegee aan hoe om mans te stop om in die eerste plek geweld op vroue en kinders uit te oefen.

Die Men like Me-inisiatief probeer albei geslagte oplei om hulself te beskerm, of om beter op te tree as die vorige generasie, om sodoende ʼn einde te bring aan die vlaag van moord op vroue in Suid-Afrika.

Men like Me is ʼn netwerk van meer as 3 000 mense wat hulself wil verbeter of beskerm teen geslagsgebaseerde geweld. Die inisiatief is deur Johan van den Berg en Orestes dos Santos begin.

Dos Santos is ʼn wêreldkampioen in verskeie style van vegkuns en bied selfverdedigingskursusse aan sodat mense weet hoe om hulself te beskerm. Van den Berg was voorheen die bestuurder van ʼn sekuriteitsmaatskappy, waar hy dikwels mense teen geslagsgeweld moes bystaan en beskerm.

Men like Me se benadering is tweevoudig: Eerstens werk hulle met seuns en jong mans om hul ingesteldheid teenoor vroue te verander en tweedens werk hulle met vroue om te help dat hulle hulself kan verdedig indien nodig en om te weet wanneer en hoe om na hulp te vra.

“Ons werk met die seuns om hulle te leer hoe om vroue te respekteer. Ons wil die kultuur dat mans die beskermer is, eerder as dat mans die mishandelaar is, laat voortleef, want iewers het ons dit verloor,” sê Van den Berg.

Een van die Men like Me-kursusse (Foto: Verskaf)

Hy sê hulle mentor die seun en mans deurlopend sodat hulle werklik ʼn verandering in hul lewens kan maak. Seuns van nege jaar oud tot mans in hul twintigs is almal deel van die Men like Me-inisiatief.

“Ons wil die mans en seuns ook leer om nie net jou eie kinders en vrou te beskerm nie, maar vroue en kinders oor die algemeen. Ons gee hulle ook selfverdedigingsklasse om op te tree, sou ʼn ander man ʼn vrou of ʼn kind mishandel.”

Verder bied Men like Me ook selfverdedigingskursusse vir vroue en kinders aan.

“Ons leer hulle wat om fisiek te doen wanneer hulle mishandel word, maar ook om te weet wat reg en verkeerd is, wie om te bel, wat om te rapporteer, hoe om ʼn risikosituasie te identifiseer en hoe om te praat as daar iets fout is,” sê Van den Berg

“Ons leer byvoorbeeld ook jong meisies dat daar nie geheime tussen haar en ʼn oom of vriend mag wees nie en dat sy haar ouers daarvan móét vertel. Vroue moet verstaan hulle het waarde en as daardie waarde oortree word, moet hulle kan optree en reageer.”

Buiten die selfverdedigingskursusse en mentorskapprogramme, hou Men like Me ook mense van die strate af deur middel van sport (Foto: Verskaf)

Die Men like Me-inisiatief werk op verskeie maniere met mense: buiten die selfverdedigingskursusse en mentorskapprogramme, hou hulle ook mans van die strate af deur middel van gemeenskapswerk, krieket en sokker.

“Op straat eindig die ouens dikwels in bendes op, veral hier op die Kaapse Vlakte waar ek werk. Hulle baklei onder mekaar en hulle het nie ʼn beter voorbeeld by die huis nie. So ons wil hulle oplei en ʼn kultuur kweek dat hulle vroue en kinders beskerm, eerder as om hulle seer te maak.”

Van den Berg sê die beste manier om Men like Me te verduidelik is as ʼn groot netwerk van mense wat help om mekaar te beskerm. Hy sê dit maak nie saak van ouderdom, ras, geslag of nasionaliteit nie – dit is ʼn groot familie wat beoog om geslagsgebaseerde geweld stop te sit op watter manier ook al.

Men like Me is ʼn niewinsgewende organisasie en hulle maak staat op donasies van die publiek. Mense kan hier op hul webtuiste ʼn donasie maak of besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.