Leon Gropp nou beskermheer van dié kinderhuise

Leon Gropp is die nuwe beskermheer van die Jakaranda- & Louis Botha Kinderhuis. (Foto: Verskaf)

Wanneer Leon Gropp nie besig is as musikant, vervaardiger, stemkunstenaar of medeaanbieder van die kykNET-program Ontbytsake nie, is hy betrokke by kreatiewe projekte en by sy gesin as eggenoot en pa.

Vandag voeg Leon nog ʼn rol by, en dit is dié van beskermheer van die Jakaranda- & Louis Botha Kinderhuis.

“Leon is ongelooflik talentvol en sy veelsydigheid en kreatiwiteit op verskeie vlakke maak hom ʼn besliste aanwins vir ons,” sê Charlene Grobler, uitvoerende hoof van albei kinderhuise.

Hy neem die leisels oor by die sangeres en aktrise Nadia Beukes wat die afgelope twee jaar dié rol vervul het. Tydens haar termyn het Nadia haar veral beywer om bewustheid oor die kinderhuise in die media te skep.

“Die kinderhuisbestuur, personeel en kinders is baie dankbaar teenoor Nadia en Leon wat onder ons vlerke inskuif en ons in die publiek en op hulle eie sosialemediaplatforms ondersteun.

“Ons waardeer hulle vertroue in dit wat ons doen en sien uit na die volgende twee jaar saam met Leon as die nuwe beskermheer,” voeg Charlene by.

Leon is al geruime tyd by die kinderhuise betrokke. Hy het onder meer verlede jaar die jaarlikse Liggiefees, wat op die Jakaranda Kinderhuis-terrein aangebied word, geopen.

“Ek het onverwyld die uitnodiging aanvaar om tot in 2026 as beskermheer op te tree. Dit sal vir my wonderlik wees om bykomende ondersteuning aan albei kinderhuise te bied,” sê Leon.

Nadia sal in Maart amptelik die stokkie aan Leon oorhandiging tydens ʼn regstreekse aanbieding op sosiale media. Hou dié kinderhuise se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.