Lidi de Waal: Vinkel en koljander met kuns en dig

Lidi de Waal (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Lidi de Waal se kuns en gedigte is soos vinkel en koljander, dit is beste vriende en gaan hand aan hand om haar gedagtes te verwoord. Dié veelsydige kunstenaar het al verskeie boeke uitgereik en haar nuutste, Sonsoeker, sien eersdaags die lig.

Lidi het op ʼn plaas tussen Fraserburg en Beaufort-Wes grootgeword en op Fraserburg skoolgegaan.

Ná skool het sy onderwys in die Paarl studeer. “Ek het agt jaar skoolgegee en toe ʼn pottebakersoond gekoop en met klei begin werk. Ek het maar alles so self op die lang, harde manier geleer. Ek het later ʼn fabriek gehad waar sewentien vroue gewerk het en die meeste van die beelde is uitgevoer.”

Sy is al etlike jare geskei, maar het twee seuns. Schalk is getroud met Lerése en het twee kinders, Lilly en Avah, en De Waal, wat getroud is met Janelle, het twee kinders, Emma en Lana. “Ná my egskeiding het ek meer kuns in plaas van kunsvlyt begin doen. Ek het harde klippe gekou, rondgeval en rondgetrek. Nege jaar gelede het ek met die bystand van Hennie Niemann senior begin verf nadat ek agt jaar laas aan klei geraak het.”

Sy het sowat twee jaar gelede weer begin beelde maak. Lidi het maar ʼn groot liefde vir klei as medium, maar dit is ʼn lang proses waar jou eindresultaat nooit gewaarborg is nie. Sy sê verfwerk is meer onmiddellik, meer beheerbaar. “ʼn Kunstenaar kry uit sy gut ʼn sekere styl waarmee hy gemaklik is en sekere vorms wat maklik kom, maar as jy bly hou by dit, dan stagneer jy. Daai jare was daar min verwysing vir jou as kunstenaar as jy afgesonder bly, met net hier en daar boeke uit die biblioteek.

Een van Lidi se kunswerke. (Foto verskaf)

Vandag is daar oneindig baie inligting tot jou beskikking. Ek kyk gedurig op Pinterest waar daar derduisende foto’s is vir inspirasie. Ek stoor dit en as ek ʼn verwysing na iets soek, dan kan ek maklik daar gaan kyk. Dit stel my heeltyd oop vir idees van buite my eie boksie en my kuns kan heeltyd veelsydig wees. Jy hoef nooit enigiets presies net só te herhaal nie. Jy druk jy eie stempel daarop af sodat dit op die einde uniek jou werk is.”

Ek het wel altyd ʼn liefde vir woorde gehad, maar dit was nooit ʼn talent wat ek geëien of ontwikkel het nie. Ek het eers ná vyftig begin skryf.” Alhoewel Lidi vertel dat sy maar “aan de verwe en make bly om den brode”, is dit gelukkig vir haar die lekkerste iets om te doen, om kuns te maak en te skryf. Soveel so dat sy bekendheid verwerf het en al diep spore in die harte van Suid-Afrikaners getrap het met haar kuns, gedigte en katte. “Ek het seker so tien jaar terug begin skryf en vir my was dit terapeuties. ʼn Lewenslyn wat nou al so deel van my kuns geword het. Op die ou end kon ek van elke dag se hier en daar skryf, al agt boeke uitgee.” Lidi se vorige boek, Miaau, is ʼn katboek, met stories, foto’s en skilderkuns van haar katte.

Sy verf graag katte, al het sy ook ʼn hond, Lyla, wat haar beste vriend is. “Maar katte kom lê altyd op die mooiste plekke sodat jy jou eyes kan feast. ʼn Lewende beeld van skoonheid en ʼn kat se spin is die mooiste geluid ooit.”

Lidi is ʼn trekvoël. Van die Groot Karoo tot die Kalahari, van die Klein Karoo tot die Suidkus, tot die Weskus, noem maar op, sy het daar gebly. “Die laaste jaar bly ek weer in die Klein Karoo teen die Langeberge, die vlaktes aan my een kant en die berge aan die anderkant. Afgesonder en ver van als, met meer geselsies van die heelal en diere as mensgeselskap. En die bee in my bonnet het nog glad nie begin zzzzzz sê nie. Ek het vier katte, maar op die plaas is daar nog drie werfkatte wat vir my baie kosbaar is. Hulle is meer voor op die wa as my eie opregte katte. Die mooiste ding vir my is om ʼn klomp katte orals gelukkig en tevrede te sien rondlê. Ag, diere magnifies my spirit!” Daar is nou ook 16 mak springbokke, ʼn baie mak koedoe, 21 hoenders, 10 ganse, en 3 kalkoene.

Lidi is ʼn ma, ʼn ouma, ʼn suster, vriendin, diva en ʼn enigma. Haar siel is deur elke meesterstuk uit haar hand geweef. “Dit is my wens en my nalatenskap: Om ʼn plekkie in almal se harte en huise rentevry te beset.”

Haar nuutste boek, Sonsoeker, is tans by die drukkers. Sy het die hele boek met die hand geskryf en dit ook geïllustreer. Die boekbekendstelling is op 6 April by Wijnlanden Uitzicht buitekant Stellenbosch. Daar is ook ʼn kunsuitstalling en Ira Blanckenberg en Lize Beekman voer  ʼn nuwe drama op wat sy geskryf het.

Op haar webwerf is daar verskeie items by die aanlyn winkel beskikbaar, van boeke en kuns, tot kussings, beelde, drupmatjies, wyn en kaartjies.

Besoek www.lididewaal.co.za om haar kuns en skryfwerk te verkry. Daar is ook nog kaartjies vir die boekbekendstellingfunksie beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.