Luister: Atterbury Trust vier kwarteeu se lewensveranderende nalatenskap

Zahn Hulme, die Atterbury Trust se uitvoerende trustee, het in die Maroela Media-ateljee gekuier . (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die Atterbury Trust is in 1999 met die toekenning van studiebeurse aan ses belowende studente gebore.

Vanjaar vier dié unieke beursprogram nie net sy 25ste verjaarsdag nie, maar die suksesverhale van die bykans 800 jong uitblinkers wie se studie- en loopbaandrome hulle die afgelope kwarteeu kon help bewaarheid.

Zahn Hulme, die Atterbury Trust se uitvoerende trustee, het in die Maroela Media-ateljee gekuier en teruggekyk op ’n kwarteeu van omgee, planne maak en ʼn nalatenskap bou.

“Ons studente is absoluut ons trots. Ek het twee seuns van my eie, maar voel na al die jare soos ʼn ma van vele,” vertel Hulme oor haar werk by die trust, ʼn rol wat sy sedert sy ontstaan in 1999 beklee.

“Vir die Atterbury Trust het dit egter nog altyd nie net oor geldelike hulp gegaan nie, maar ook die pad wat daar saam met studente gestap word om hulle vir die werksmag én lewe na skool voor te berei.”

Volgens Hulme is dit juis hierdie benadering, wat mentorsessies met lewensafrigters, internskapgeleenthede én besoeke aan die Atterbury Trust se kantore insluit, wat dié trust van ander studiebeursstrukture onderskei.

“Mentorskap is vir ons kernbelangrik en daarom word verhoudings met ons beursstudente gebou deur middel van gereelde kontaksessies, veral by studente wat die eerste in hul gesinne is om verder te studeer. Daar is baie kinders was uiters intelligent is, maar nie geld of aspirasies het om te studeer nie, want die moontlikheid het net nooit vir hulle ontstaan nie.”

Spanlede van die Atterbury Trust. (Foto: Atterbury Trust)

Hoewel die Atterbury Trust onbeskaamd is oor die feit dat hulle ʼn hart vir Afrikaans het, beteken dit volgens Hulme nie dat hulle uitsluitlik is wanneer dit by die toekenning van beurse kom nie.

“Die Atterbury Trust is in Pretoria gebore, is trots Afrikaans en het reg van die begin af beurse toegeken aan studente van verskillende rasse. Ons glo in die krag van die privaatsektor om die land te bou, en ek dink die Atterbury Trust se toonaangewende ontwikkeling en ons trust se beursstudente is tekenend daarvan.”

Ook die trust se 97% deurvloeikoers van studente wat al suksesvol hul studies voltooi het, dra volgens Hulme by tot hul sukses.

Die Atterbury Trust se aktiwiteite is ook die afgelope jaar sterk na die Wes-Kaap toe uitgebrei. Met inisiatiewe soos die Atterbury Trust se Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI), ʼn hoërskoolbeursprogram wat gerig is op omvattende ondersteuning aan behoeftige, bruin Afrikaanssprekende leerders met sterk leierseienskappe, gryp die trust ook op skoolvlak by gemeenskappe in.

“Deel van die MOI-program gaan daaroor om nog vroeër as universiteitsvlak in te tree waar gebroke gesinne of sukkelende skole is en vir kinders te leer wat die moontlikhede buite hul omstandighede is. Ons weet ons het planmakers, entrepreneurs en vaardighede in ons land nodig, want die regering kan nie daardie planne vir ons maak nie.”

Lede van die Atterbury Trust en studente van die MOI-projek. (Foto: Facebook/Die Atterbury Trust)

Om ʼn beursprogram te bestuur is nie ʼn maklike taak nie, en verg baie planne maak en op die voete dink. Dit is iets wat Hulme sê sy en haar span, oftewel “Gideonsbende” soos sy na hulle verwys, baie goed ken.

Hul persoonlike aanslag en stelselmatige groei het volgens haar gehelp om “jakkalsies” vroeg-vroeg uit te skakel.

Só ook die goeie voorbeelde wat daar deur die Atterbury Groep se Louis van der Watt en Francois van Niekerk gestel is om “die wêreld ʼn beter plek te probeer maak”.

“Ek dink daai menswaardigheid wat ons van die begin af by studente probeer kweek, plaas ʼn onus op hulle om te besef dat ons hulle vertrou en in hulle belê. Net so het ons hulle geld eendag nodig om studente in dieselfde bootjie te help.”

Benewens studiebeurse en die MOI-projek strek die Atterbury Trust se invloed na gesondheid, die kunste en selfs voedselhulp in die vorm van die Triomf-mediesediensprogram, die Atterbury Teater en die Terugploeg-voedselverspreidingsinisiatief.

Die span agter die ontwikkeling van Terugploeg se geriewe. (Foto: Verskaf)

Hulme se droom vir die volgende 25 jaar is juis om die Atterbury Trust en die bloudruk wat hulle in Pretoria gevestig het, na veral die platteland uit te bou.

“Ek dink in ons land – as ʼn mens so deur die platteland ry – het baie mense hoop verloor. Hier is egter wonderlike organisasies wat mense mobiliseer en wat nodig het dat mense van regoor die spektrum hande vat en projekte in daardie dorpe aan die gang kry. Ek sal byvoorbeeld die boere wat vir ons voedsel uit Letsitele en Groblersdal vir Terugploeg gee, ook op ʼn manier wil bystaan; dit sal my droom wees.”

Hoewel daar vanjaar fees gevier word oor die Atterbury Trust se mylpaalverjaarsdag, is dit volgens Hulme belangrik om nederig te bly, iets wat sy sê die Atterbury Groep in geheel ook belangrik ag.

“Ons het deur die werk van die trust besef hoe groot God se genade én die krag van geleenthede is. Ons moet dít nooit vergeet nie.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.