Luister: Bokse van hoop bied vertroosting aan ouers

Nanki Robbertse (Foto: Facebook)

Sy het hom slegs een keer aangetrek en die foto’tjies wat sy van haar seuntjie kon neem is vir haar ʼn kosbare kleinood.

Nanki Robbertse van Pretoria het haar seuntjie, Kaleb, op 39 weke van swangerskap verloor. Die eensaamheid en verlies wat sy in daardie stadium gevoel het, was bykans oorweldigend.

“Maak nie saak hoe klein daardie babavoetjies is nie, hulle maak ʼn groot impak op ʼn ouer se hart. Ek wil vir ouers sê hulle mag rou, dit is nie maklik nie, maar jy moet goed rou want dit bring genesing.”

Robbertse kan nou, vyf jaar later, met gesag oor die onderwerp praat want sy het self elke tree van die verskriklike pad gestap. Sy het die pynlike ervaring gebruik om ʼn uitreikprojek, HopeBox, te begin waarmee sy bokse van hoop aan ʼn mamma pak wat ʼn miskraam of doodgebore babatjie gehad het.

“Dit klink baie eenvoudig, maar so ʼn boks gee ʼn mamma iets om aan vas te hou as sy uit die hospitaal stap. ʼn Mens voel so leeg as jy alleen uit daardie hospitaal stap.”

Nankie se HopeBox-projek verskaf bokse met items wat vertroosting bring aan ouers wat ‘n baba verloor het. Sy het ook ‘n boek oor haar reis met verlies geskryf. (Foto: Facebook)

Die bokse is gevul met items wat Robbertse glo ʼn mamma en pappa weer met hoop sal vul.

Hoe het sy self tydens haar verlies staande gebly? “My verhouding met die Here het my daardeur gedra. Ek het geleer Hy is die enigste een wat my emosionele koppie kan vul, maar ek het ook ondersteuning gekry en vir professionele hulp aangeklop.”

Robbertse het vroeër vanjaar ʼn boek, Hope after Loss, bekendgestel. Die boek bevat haar eie verhaal en gee ook raad oor hoe om die rouproses te hanteer.

“Ek het geskryf oor dit wat met my gebeur het, hoe ek dit ervaar het en dinge wat my gehelp het. Die boek gee ʼn bietjie raad oor ʼn swangerskap ná jou verlies en ʼn sielkundige het ook ʼn bydra gelewer oor hoe so ʼn verlies jou huwelik kan beïnvloed.”

Robbertse sê die dag toe sy ja vir God gesê het, het haar hartseerreis handomkeer verander. Dit het verander van die fokus op haarself, wat die nimmereindigende swart gat van rou probeer ontsnap, na ʼn plan wat ander se swaar las op dieselfde reis probeer verlig.

Haar visie is om elke bedroefde ouer te help met die hulpbronne wat vir haar vertroosting gebring het, terwyl sy hulle aanmoedig om ʼn gemeenskap te vind wat hulle verstaan en hoop gee. Dit is ook haar doel om ʼn stem te wees vir alle ouers wat ʼn verlies van ʼn kind moes verduur.

  • Besoek die HopeBox-inisiatief se webwerf om meer oor die bokse van hoop of Nanki se boek uit te vind. HopeBox kan ook op Facebook of Instagram gevolg word.
  • Luister na die volledige onderhoud met Nanki Robbertse oor die HopeBox-inisiatief bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.