Luister: ‘Dit kan met ons almal gebeur’

Deon Oosthuizen, stigter van Victor Support Structures (VSS), ʼn organisasie sonder winsmotief. (Foto: Verskaf)

Van onderwyser, joernalis by Die Vaderland, Rapport en The Citizen, mediastrateeg en -woordvoerder by Absa tot hawelose.

So het Deon Oosthuizen se lewe onverwags ʼn wending geneem en hy het vir byna sewe jaar as hawelose op die strate van Johannesburg en die Wes-Rand deurgebring.

Oosthuizen het in ʼn onderhoud met Johan Allers, aanbieder van die radioprogram AllesAfrikaans, vertel dat hy in ongenaakbare omstandighede moes oorleef.

Hy het meestal in parke en tussen geboue geslaap, maar partykeer was die geluk aan sy kant en dan het Oosthuizen in ʼn tuiste vir haweloses oornag.

“Dit kos R25 per nag om in die tuiste te oornag, en as jy nie daarin kan slaag om die volle bedrag bymekaar te maak nie, moet jy daardie nag maar op die sypaadjie slaap,” sê hy.

Sy geloof het hom staande gehou. Veral die bitterkoue wintermaande was meedoënloos, “… want jy slaap langs ʼn gebou saam met honderde ander mense of op ʼn parkbankie …”.

Johan Allers, aanbieder van die radioprogram AllesAfrikaans. (Foto: Verskaf)

Deur los werkies te doen soos om pamflette op straat te versprei, of as karwag in parkeerterreine te werk, het Oosthuizen aan die lewe gebly. Wat hom egter ontroer het, is die wyse waarop die publiek hawelose mense hanteer.

Oosthuizen het toe Victor Support Structures (VSS), ʼn organisasie sonder winsmotief, op die been gebring met die doel om ʼn verskil in behoeftige persone se lewens te maak. Hy het na jare as hawelose besluit om ʼn paar mense bymekaar te kry en dié organisasie in Krugersdorp aan die Wes-Rand van Johannesburg te stig.

VSS fokus op die opheffing van haweloses en armes, en beplan uiteindelik om ʼn skuiling in Krugersdorp te vestig wat verblyf, kos, klere, toiletware en so meer voorsien. Alkohol- en dwelmberading, beroepsvoorligting, onderwys en opleiding, indiensneming, sowel as sport en ontspanning, sal ook later deel van die organisasie se dienste wees.

Enigiemand wat Victor Support Structures wil ondersteun, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

Luister hier na die volledige gesprek op AllesAfrikaans se YouTube-kanaal:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Dit is hartseer – baie.
Die rubriek se nie of daar iets drasties in die persoon se lewe gebeur het wat hom genoop het tot so n tipe bestaan nie, en ook nie of dit dalk gedoen was as n tipe “studie” nie.
Dis erg om te dink na soveel talle suksesvolle verskillende tipes beroepe wat hy beoefen het net om uiteindelik op straat te beland.
Jammer vir jou beproewinge – maar ek is bly jy het opgestaan en teruggekeer en wil ander help in soort-gelyke situasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.