Luister: Maroela se landbouportaal skep ’n tuiskomplek vir boere

landbou-trekker-oestyd

(Argieffoto: Jed Owen/Unsplash)

Suid-Afrikaanse boere is vasbyters en hulle gryp graag die geleenthede aan wat oor hulle pad kom.

Dit is die verhale van dié mense wat Maroela Media met sy splinternuwe landbouportaal Boer wil vertel. Boer is Donderdag 1 April amptelik op Maroela Media bekendgestel.

Boer sal vir Maroela-lesers wys dat landbou in Suid-Afrika iets is om op trots te wees.

Plaaslike boere en die landboubedryf word deur uiters uitdagende omstandighede in die gesig gestaar. Dit sluit onrealistiese minimumlone, ombestendige regeringsbeleid, misdaad en dreigende grondonteiening, boeregetalle wat afneem, die ontvolking van plattelandse dorpe, asook werkloosheid wat verhoog in plattelandse gebiede in.

Tog, te midde van dit alles, het boere nog altyd daarin geslaag om suksesverhale op hulle plase uit te boer. Hulle maak die jongste tegnologie deel van hulle produksie, terwyl ander weer hulle landboubedrywighede na die res van Afrika, en selfs Oos-Europa, uitbrei.

“Ons kan nie langer stilbly oor hierdie suksesstories nie. Ek wil mense dit ook op die hart druk hoeveel moeite ons kommersiële boere en bedryfsorganisasies doen om opkomende boere te bemagtig. Dit kry betreklik min mediadekking, maar van die wild- tot die wolbedryf het ʼn afdeling of komitee wat moeite doen om hierdie boere te help ontwikkel, en as een roete nie werk nie probeer hulle ʼn volgende uitweg,” het Du Preez de Villiers, Maroela Media se landboujoernalis, gesê.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, en De Villiers is dit eens dat mense moet weet die plaaslike landboubedryf presteer te midde van die talle uitdagings.

“Dit is ʼn mark wat Maroela Media baie graag wil bereik met gespesialiseerde inligting, want ons weet die landboubedryf in Suid-Afrika verdien dit. Daarom het Maroela Media besluit dit is baie gepas om in die jaar waartydens die mediahuis sy tiende bestaansjaar vier ʼn splinternuwe landbou-afdeling bekend te stel,” het Lombaard bygevoeg.

Buiten ʼn nuusafdeling waar daar oor die landbounuus van die dag berig sal word, spog Boer ook met ʼn afdeling vir landboutegnologie waar daar berig sal word oor nuutskeppings en hoëtegnologietegnieke in die landboubedryf.

Lesers kan ook uitsien na artikels in die produksie-afdeling wat praat oor die invloed van droogtes, bewerkingsmetodes, versekering, finansiering en ondersoekende artikels.

ʼn Promosie-afdeling verseker diensverskaffers kry die geleentheid om direk met die lesers te gesels.

“Wat Boer egter besonders maak, is die omvattende markaanwysers wat gereeld bygewerk sal word met die jongste pryse vir van graan tot varke. Boer het ook ʼn weerblad wat elke leser toegang sal gee tot die jongste weervoorspellings. Ons werk ook daaraan om binnekort ʼn veilingskalender op die platform te verskaf,” het De Villiers gesê.

Maroela Media se doelwit met die Boer-portaal is om die tuiskomplek te word vir die boere in Suid-Afrika, net soos wat Maroela se webwerf die grootste gratis kuierplek vir Afrikaanssprekendes is.

“Ons wil hê dit moet die plaaslike landboubedryf se eie gemeenskap word. Ons sal graag wil sien boere moet mekaar hier ondersteun. Die res van die land moet ook sien wat hulle doen, erkenning daaraan gee en begrip kweek vir wat in die landboubedryf in Suid-Afrika aan die gang is,” het Lombaard bygevoeg.

Kom lees vandag nog Boer, Maroela Media se eie landbouportaal. Dis mos lekker, Maroela!

  • Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, en Du Preez de Villiers, Maroela Media se landboujoernalis, het met Esté Meyer Jansen gesels oor die nuwe landbouportaal Boer wat in April op die webwerf bekendgestel is. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herleen ·

As ‘n trotse Suid-Afrikaanse boeremeisie maak dit my hart warm om te sien dat daar is nog ander boere wat mekaar wil en kan bystaan met die doel voor oë om die boer se voortbestaan te verseker. En ook te sorg dat ons nie agterbly met die nuutste tegnologie nie. Dit is baie belangrik om jou op hoogte te hou daarvan.

My seun wil gaan boer, en het ‘n gevestigde boer wat hom kan oplei en wys hoe dit gedoen moet word. Hy is klaar met skool en is bereid om vir ‘n jaar op ‘n plaas te gaan werk en soveel as moontlik te doen en leer. Sy droom is om dan verder in die USA te gaan werk op verskillende plase om daar ook te leer hoe hulle dit daar doen en dan terug te kom en die kennis en ondervinding dan weer terug te ploeg in ons land.

Dit is wat hy sy “gap” jaar noem. Ipv om niks te doen nie vir ‘n jaar lank, wil hy hard werk . Dus hoop hy dat daar iemand is wat sy weg sal oopsien om hom te kan help. Ons glo daar is iemand daar buite wat sal help om sy droom ‘n realiteit te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.