Masibulele: uit liefde gebou

Die stigterslid van Masibulele: Thandi Xaba, Olivia Krok van LivCurious en Patricia Xaba, die skoolhoof van Masibulele. Foto: Verskaf.

Waar sy nou in Khayalitsha woon, sien sy steeds hoe kinders uit asblikke gevoer word.

“Daar is baie kinders wat op en af in die straat stap, wat deur mense rondgestuur word om goed soos sigarette te koop. Ek wou kinders van die straat afhaal. Daar was ook baie armoede” vertel Thandi Xaba (59), die stigter en voormalige skoolhoof van die Masibulele-vroeëkinderontwikkelingsentrum in Makhaza, Khayelitsha in die Wes-Kaap.

Wanneer sy ’n kind gesien rondstap het, het sy hom of haar geroep om skool te gaan. Só het Masibulele, ’n dubbelverdieping-plakkershut, met net 6 jong leerlinge in 1995 tot stand gekom.

Thandi is in 1960 in die Oos-Kaap gebore. Sy raak bewoë wanneer sy haar verlede herroep.

“As kind moes ek na ’n sentrale punt gaan waar kos uitgedeel is – ek het geweet daar was nie geld by die huis nie. Daar was ’n tyd waar ons geen kos gehad het nie, net water gedrink en skool toe gegaan het”.

Sy droom groot, ten spyte van…

“Ek wil in alles wat ek doen, die gemeenskap ondersteun. Ek wil sien dat Masibulele groei om aan meer kinders onderrig te voorsien. Om eendag nie ouers en kinders te sien wat deur dieselfde struggle as ek gegaan het nie. As ek net die kinders, al is dit net in Khayelitsha, op daardie jong ouderdom daai ervaringe kan spaar. Dit is my droom. Dat kinders eendag moet kan terugkyk en sê hulle het hul eerste skoolfase by Masibulele voltooi en vandag is hulle ’n dokter of selfs die president” vertel Thandi.

In 2017 het die regering sy toelaag aan Masibulele gestop weens die veiligheidsrisiko wat dié skoolgebou vir kinders ingehou het.

In die somer is dit warm, in die winter is dit snerpend koud. Wanneer dit reën, is dit binne en buite nat, en emmers is gebruik as badkamergeriewe. Boonop het dié struktuur, waarbinne ’n oorvol klas van 100 tot 140 kinders onderrig is, ’n gevaar ingehou deur plek-plek inmekaar te wil tuimel.

“As ’n kind moes seerkry as gevolg van die gebou en ’n rolstoel moes kry, sou dit op my gewete wees” vertel Patricia Xaba (37), die dogter van Thandi en die huidige skoolhoof van Masibulele.

Juffrouens verdien R1 200 per maand en selfs saam met die vorige regeringstoelaag verdien ’n juffrou minder as R5 000 ’n maand. Hiermee saam versorg sy haar oorvol klas van 06:00 tot 18:00 en word twee etes per dag aan die kinders (tussen 0 en 6 jaar), voorsien, al is dit witrys met tamatiesous.

Die enigste vorm van inkomste is skoolfondse wat ouers ook nie gereeld betaal nie. Maar, sê Patricia: “Ook wanneer ouers nie kan betaal nie, word daar gesê om die kind te bring. Ons missie en visie is om kinders te beskerm”.

Masibulele se kinders kan nou kunswerke maak danksy die bykomende hulpbronne wat hulle ontvang het. Foto: Verskaf.

’n Pad vol hoop

Sowat drie jaar gelede het Olivia Krok, stigter en projekbestuurder van LivCurious, se paaie met Patricia en Thandi gekruis.

Patricia was saam met die skoolkinders op ’n uitstappie in Groenpunt. Terwyl sy die kinders in ’n ry laat probeer staan het, kom Olivia daar aangestap.

“Sy het my met ’n groot glimlag gegroet en gevra van watter area ons afkomstig is” vertel Patricia.  Sy verduidelik hulle is van Khayelitsha. Hulle ruil nommers uit en Olivia besoek die skool.

Terugskouend oor die dubbelverdieping-plakkershut vertel die 27-jarige Olivia:

“Ek kon nie in daardie spasie dink nie. Daar was geen manier hoe ek die juffrouens kon motiveer of enige strategiese beplanning kon doen in daardie spasie nie. Dit is redelik chaos by hierdie skole, want hulle beskik nie oor finansiële vaardighede om boek te hou van hul geld nie. Daar is ook nie ’n struktuur nie, want wanneer jy die daaglikse uitdagings wat hulle moet hanteer in gedagte hou, is organisering en beplanning nie ’n prioriteit nie.”

Die eerste plan van aksie was om geld vir die skool in te samel om die dag-tot-dag-uitgawes te dek, maar ook om die gebou te probeer herstel en sodoende die skool in staat te stel om weer vir ’n regeringstoelaag te kwalifiseer.

Die verhouding tussen Olivia en die Xaba-gesin het meegebring dat ’n kommunikasienetwerk, wat as ondersteuningsbasis vir die skool kan dien, ontwikkel is. ’n Besoek van Uthando, ’n niewinsgewende organisasie (NRO) wat geld insamel vir volhoubare gemeenskapsontwikkelingsprojekte in Suid-Afrika, het daartoe gelei dat nasionale en internasionale donateurs finansieel in Masibulele investeer.

Toe, eendag, ontvang Patricia ’n oproep om te kom na ’n vergadering.

Dit is daar wat sy toe hoor dat deur middel van bemarking, samewerking en skarebefondsing, op die aanlyn platform Backabuddy, is R1,5 miljoen ingesamel vir die herbou van die skool. Bouplanne vir die nuwe skool is in April (2019) goedgekeur.

Opgewonde kinders en dankbare juffrouens het in Oktober vanjaar (2019) ’n splinternuwe dubbelverdiepinggebou betree. Dié seremonie is met trane, dans en glimlagte binne die gemeenskap gevier.

Olivia wou met die nuwe skool bewys watter sleutelrol ’n veilige, ruim en kreatiewe omgewing in effektiewe onderrig speel. Daarom die aanbring van ’n tuin, sandput, kleurvolle mure, ’n kombuis, badkamers en klaskamers volgens ouderdomsgroepe.

Patricia verduidelik: “Voorheen was almal in een klas. Nou word hulle opgedeel volgens ouderdom en hulle voel spesiaal. Hulle word geleer dat sommige kinders ouer is en hulle die jonger boeties en sussies moet help. Kinders geniet dit nou om te werk omdat hulle ’n lessenaar het waarby hulle kan konsentreer – hulle weet hulle het hul eie stoel”.

Op haar beurt vertel Thandi dat wanneer ouers na die skool kom, hoef hulle nie meer buite te staan nie, sy kan hulle innooi na die kantoor.

Hoewel die gebou nuut is, het die wyse waarop Patricia en Thandi die leerlinge opvoed, nog altyd dieselfde gebly.

“Voordat ons in die oggende bid, sê ek vir al die kinders ek is lief vir hulle. Ek het ’n hart vir die kinders. Ek dink as ek myself uitsluitlik inspan vir die kinders, kan die land verander, of dalk net die gemeenskap. Want ek glo as ek lief is vir die kinders sal hulle ook liefde gee. Ek probeer om vir hulle te leer hoe mooi en slim hulle is. Kinders moet met selfvertroue loop en weet hul ouers dink hulle is spesiaal en is lief vir hulle. Sommige kinders se ouers sê dit nie vir hulle nie, so ek sê dit.”

“Sy sê vir die kinders sy kan deur ’n selfoon sien. Hulle bel haar oor naweke om net te hoor hulle lyk mooi. Ek glo ek kan kinders deur ’n holistiese benadering laat groei asook help wanneer ek die gapings vul waar hulle ouers ontbreek.”

Patricia het in 2010 die rol van skoolhoof by haar ma oorgeneem. Sy glo dat deur Masibulele sy baie kinders van misdaad red. Deur vroeëkinderontwikkeling word kinders onderrig in wat goed en sleg is vir hulle. Sy verwys na die voorbeeld waar ’n jong kind op straat is en hulle ’n bierbottel optel, en sonder om te weet wat dit is, drink hulle daarvan, want hulle weet nie dat dit sleg is vir hulle nie.

“As ons kinders reeds op so ’n jong ouderdom kan onderrig, sal dit kwessies rondom armoede en die ekonomie beveg. Meer onderrig en minder misdaad” glo Olivia.

“Noudat hulle ’n veilige ruimte het, kan hulle kenners op die terrein van opvoedkunde nooi om hulle te help met effektiewe strategiese beplanning”.

Daar word beplan om tydens die komende somervakansie strategiese beplanning vir die nuwe jaar, 2020, te doen.

Patricia erken: “Ek is nie perfek nie, maar ek probeer my werk met passie doen. Ek sien altyd uit om net die kinders lief te hê”.

Masibulele beteken dankbaarheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vermetel ·

Olivia moet dalk wakker skrik en besef dat die wat ons nog in dieselfde sin beskuldig vir hulle vrot prestasies en sommer blatant bedel en ons steeds misbruik niks waardeer nie en glo dit kom hulle toe. Jy sal steeds in die tande geskop word. Hulle moes sekerlik teen nou al op hulle eie kon regkom? Maar hulle kan nie en ek glo sal ook nooit nie. Mooi vir jou Olivia, as dit jou laat goed voel geniet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.