Met ’n witbrood onder die arm

Foto ter illustrasie. (Foto verskaf)

Die man en sy kleuterseuntjie staan so drie plekke voor my in die ry by Checkers – tussen rakke en rakke vol lekkergoed. Die kind se wakker oë flits van een sjokolade na die ander, maar hy hou sy hand ferm in die geëelte een van sy pa. ʼn Enkele witbrood is in sy pa se ander hand.

ʼn Entjie agter my hoor ek hoe ʼn dogtertjie by haar ma kerm vir “sweeties” en met die omdraaislag gooi die ma ewe argeloos ʼn sakkie tjokliteiers en ʼn paar sjokoloadestafies in die waentjie wat reeds tot barstens toe vol is.

Voor my begin die ry korter word nadat nog een kassier by haar kollegas aangesluit het. Die seuntjie so skuins voor my pers sy lippe liggies saam. Ek kan sien hy baklei kliphard teen die versoekings binne raakafstand maar hy staan stroopsoet, sonder ʼn muis se piep, en wag hulle betaalbeurt af saam met sy pa.

By die kassier haal die man twee verfrommelde tienrandnote uit sy kortbroeksak en betaal vir die enkele inkopie – die witbrood.

Daar’s ʼn frons tussen sy oë en ek verbeel my nie.

Die beeld van die pa en sy kind met hulle nederige dag se skat ontstel my. Ek betaal vir my herwinde sak vol noodsaaklikhede (én nie-sulke-noodsaaklikhede) en gaan soek die pa en seuntjie buite in die parkeerterrein.

Die worsbroodjie-verkoper het pas vir die dag begin sake doen en ek wil so graag twee bestellings plaas, maar die pa en kind het tussen die gemaal by die besige winkelsentrum verdwyn. Die soet reuk van gebraaide uie en boerewors bly in die lug hang.

ʼn Halfuur later gaan tel ek my vriend se skoonmaker op, by die vulstasie waar sy Donderdae vir hom wag, my kop nog vol van die pa en seun. Na die “hello, how are you today”-gesprek loop my mond oor waarvan my hart vol is. Ek vertel vir Sandy van die pa en seun, welwetende dat sy ʼn enkelma met twee kinders is en van Maandae tot Saterdae werk om die pot aan die kook te hou.

Sandy kyk by die venster uit terwyl ek effens ongemaklik my storie vertel. Net toe ek begin dink sy luister óf stel nie belang nie, antwoord sy: “That’s why I never take my youngest to the mall. It hurts us both too much”.

En dan kla ons so maklik – met die witbrood onder die arm.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

sweepslag ·

Ek gee maar waar ek kan. Ek kyk mense goed uit of hul rêrig swaarkry. Jy kry van die wat bedel maar het als wat hul nodig het. Dan kry jy die wat niks het en wil klaarkom met wat hul het. Nog n’ biedjie trots in hulle het. Dié wat ek help.

Patch ·

Sjoe, hoe raak hierdie nou my hart. Ek is ook een van die Suid-Afrikaners wat my sente twee maal moet omdraai maar daar is soveel meer wat swaarder as ek kry. Ek en my man het al paar keer sommer iemand se pap en vleis betaal nadat hulle ‘n 500ml melk maar eenkant neergesit het omdat die geld nie genoeg was nie, of ‘n mamma wat ‘n goedkoop pakkie koekies op die rak by die till neersit laat ons deur gaan en gee dit vir haar. Ek redeneer ‘n ekstra R30 of R50 gaan my nie armer maak nie maar ryker want ek weet ek kon iemand help. En daardie persoon wat jy voor of agter jou help kan mens maar net hoop pay it forward op ‘n ander manier.
Baie van ons kla werklik met ‘n witbrood onder die arm, sommige selfs met twee…

koos ·

Ja, ons moet mekaar help waar ons kan. Pas net op, die misbruik skeidslyn is baie dun.

melaney ·

Jy is reg Koos. Ek het al deurgeloop onder diesulkes. Beslis nie weer nie.

Treurwilger ·

Erg hartseer, al die armoede om ons, wat net erger gemaak is deur die afgelope twee, drie jaar se ekonomie-vernietigende “lockdowns”.
Ek sien Lisma van Zyl is aanbieder van ‘n program oor klimaatsverandering. Dit sal goed wees as ‘n Suid-Afrikaner soos sy, met gesonde verstand en mensekennis, ‘n studie doen en skryf oor die (moontlik) negatiewe gevolge van miljarde westerse “dollars vir klimaatsverandering” in (sommige) Afrika-leiers se hande.
Baie beter dat dit vir armoede-verligting aangewend word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hier is genoeg geld in die land, maar dit beland in verkeerde sakke. Die middelklas kyk toe en sê dis tog so hartseer, maar doen niks.

VaalDonkie ·

En as jy besluit om die man te help om vir sy kind swiets te koop, doen dit iewers waar niemand jou sien nie want dis verskriklik vernederend vir ‘n man as so iets met hom moet gebeur en om dit aan die groot klok te hang om jouself te verheerlik is sonde.

Nommer 7 ·

En gee, gee, gee. Gee, gee, gee
Jou sente, jou drome, jou klere vol gate
Gee jou hart vir Hillbrow
Ja, gee jou hart vir Hillbrow, het Johannes Kerkorrel gese^.

Dawid ·

Dankie hiervoor Lizma, letterlik ‘n broodnodige herinnering om jou seëninge te tel.

Mallie ·

As jy dit gesien het hoekom het jy dit nie betaal nie, of vir die kind n lekkertjie gekoop nie, of vir die kassier gese het, dat jy vir die inkopies dal betaal nadat jou goed deur die skandeerder is nie. Moenie nou simpatie soek nie. Dis wat ek sou gedoen het as hulle voor of agter my gestaan het.

Eclectus ·

Ek het 23 gelede alles verloor agv ‘n mislukte sake transaksie. Die daaropvolgende paar jaar het dinge gebloei in hierdie land. Geld het gevloei soos water en ek was nie deel daarvan nie en ek het gewonder wat doen ek verkeerd. Dit het sewe jaar geneem voor ek eers begin het om op my voete te kom. Vandag gaan dit baie goed met my terwyl die wêreld om my verkrummel, maar dit pla my nie, want soms is jy die standbeeld en soms is jy die duif.

La-di-da ·

Dis vreeslik hartseer as kinders swaarkry en ouers probeer hul bes om by te bly. Ek was by ‘n skool waar ‘n goeie inisiatief was. ‘n Paar ouers het beurte gemaak om ‘n kospakkie in ‘n bruin papiersak te pak. Enige kind wat die behoefte het, gaan pouse na die berader se kantoor en neem ‘n pakkie. Ons moet meer uitreik elk in sy eie gemeenskap en kerk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.