ʼn Ander perspektief

(Argieffoto)

Ek het hom op die verlate brug op die N2 net voor die Kaapstad Internasionale Lughawe gesien. ʼn Man in ʼn rolstoel wat doodstil sit en staar na die duisende motors wat onder hom verbyswiep.

Dit was seker net vir twee sekondes maar die prentjie steek stewig in my kop. Die stil figuur wat stip ondertoe kyk waar beweging op die grys teer in skrille kontras is met sy omstandighede. En links bo hom trek ʼn vliegtuig sy wiele op.

In daardie vreemdeling se uitdrukking, hoe vinnig hy ook al my oog gevang het, was daar verlange.

Ons het pas Kersfees “oorleef” met al sy wipplank-emosies en die dag het gebreek oor die nuwe jaar wat sy geheime nog dig bewaar. Party van ons steier nog want “ontreddering” het diep skaduwees gegooi in baie van ons huise. ʼn Angstigheid het kom lê, so net onder die oppervlak soos ons moes navigeer van een letter na die volgende in die Griekse alfabet.

Die koronavirus is soos ʼn sprinkaanplaag wat oor die wêreld beweeg en verteer en verorber waar hy gaan. Ons het nie eers nodig om al die navorsing te lees om te weet dat vrees en angs vrugbare teelaarde gekry het nie. Dat eensaamheid en depressie weens afsondering mense in so ʼn donker plek laat beland dat sommiges oor die afgrond spring.

In ʼn insetsel op CNN net voor Kersfees het die WGO gewaarsku Omikron gaan nog ʼn “tsoenami” veroorsaak; dat dit dalk die mees aansteeklike virus in ons leeftyd gaan wees – selfs meer as masels. En ons gaan eenvoudig net moet aanpas.

Die Amerikaanse bedryfsontleder en skrywer Josh Bersin sê een ding wat akkuraat voorspel kan word vir 2022 is dat álles gaan verander. Hy sê onder meer tegnologie gaan ontplof en kinkels en kabels bykry wat ons nie in ons wildste drome kon voorspel nie. Die arbeidsmark gaan ook radikaal anders lyk met indiensnemingskriteria wat anders daar gaan uitsien. Ervaring het nog altyd deure oopgemaak, maar in die toekoms gaan vaardighede en die mate waartoe ʼn persoon by ʼn maatskappy sal inpas, veel groter gewig dra. Bersin praat van talent-intelligensie-stelsels (talent intelligence systems) wat die nuwe gonswoord gaan wees wanneer dit kom by aanstellings. ʼn Rekenaar en nie ʼn pak klere nie gaan dus besluit of jy daardie joppie kry.

Verandering is reeds vir byna twee jaar ʼn konstante in ons lewens so ons is dalk beter voorberei as wat ons besef. Ons is in die diepkant ingegooi en ons moes swem. Ek glo ook vorentoe gaan ons vermoë om aan te pas en so nou en dan die komiese in die krom te sien, oorlewing verseker. Soos ʼn vriend onlangs ewe tong in die kies opgemerk het: Ek het nooit in my lewe gedink my hande sou meer alkohol inkry as my mond nie.

2021 het ons dalk geknak, maar nie neergevel nie.

Ek glo, al klink dit hoe geyk, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Al is dit net om nie alleen op ʼn brug soos ʼn standbeeld in die lug te sit nie.

En wie weet – dalk wag daar ʼn warm bord kos en ʼn sagte aanraking wanneer daardie man sy wiele terug oor die brug rol.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Nee wat, sulke preke dien geen doel nie. Baie mense in rolstoele is ryker en gelukkiger as die res. Die meeste peste op aarde is binne twee jaar verby. Net party mense sien spoke of buiteruimtelike wesens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.