ʼn Ma se plan vir haar kind

student-seun-janeb13-pixabay.jpg

Foto: janeb13/pixabay.com

Sy groot lyf en sterk hande laat hom veel ouer lyk as die 17-jarige skoolseun wat hy eintlik is. Wikus* se skaam glimlag en skewe kuif laat ʼn mens dadelik van hom hou. Niks in sy houding verklap enigiets van die moeilike pad wat hy gestap het tot hier nie.

Sy ouers het baie min gehad en soms het dit regtig bitter moeilik gegaan. Tog het hulle altyd ʼn plan kon maak.  Alles het egter verander die dag toe sy pa reeds by die huis was toe Wikus van die skool af kom. Hy onthou nog die vreemde stilte in die huis. Sy ma, wat altyd die atmosfeer in die huis bepaal het, was sigbaar gespanne. Sy pa het kop onderstebo by die kombuistafel gesit, opgekyk, sag gegroet en toe die nuus gebreek. “Ons gaan moet trek Wikus, ons gaan vir eers by ouma Marie moet gaan bly.” Sy pa is afbetaal by die werk, hy was een van 12 werkers by die fabriek waar hy vir soveel jaar al getrou gewerk het. Wikus was ook stil, hy het nie die regte woorde gekry om te sê nie. Tog het hy gewonder oor sy skool, sy sport, sy vriende, juffrou Ronel en ook Bianca van wie hy so baie hou. Ouma Marie herken hulle skaars. Sy vra elke keer wie hy is. Hy  mis hoe sy was voor sy siek begin word het en niks meer kan onthou behalwe die dinge ver uit haar verlede nie. En hoe gaan hulle al drie en hul goed inpas in haar klein woonstelletjie? Hy’t sy tas opgetel, omgedraai en kamer toe gestap. Hy onthou hoe hy gebid het, “U sal mos weer voorsien soos altyd, nè Here?”

Hoewel sy ma ʼn baie klein salaris verdien het en maar min gate kon toestop, het sy altyd planne gemaak sodat haar kind die beste kon kry. Wikus onthou hoe sy by tannie Joey, sentrumbestuurder van Ons Plek Naskoolsentrum, gaan aanklop het vir raad en hulp. Dit is die naskoolsentrum waar hy elke middag in ʼn veilige omgewing middagete geniet het en huiswerk kon doen.

Almal het geweet dat daar vir Wikus ʼn mooi toekoms wag en dat ouma Marie nie ʼn opsie was nie.   Saam het hulle verder gesit en somme maak. Met ʼn bydrae van sy ma se kant af sowel as ʼn bydra van die Helpende Hand Streek af het hulle aansoek gedoen by die Bemagtig-ʼn-kind-fonds vir die uitstaande bedrag. Op so ʼn wyse kon hy by die skool aanbly en in die koshuis geplaas word.

 skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Foto:
deltaworks/pixabay.com

Wikus skryf vanjaar matriek, sy koshuisgeld is op datum en hy is veilig en versorg. Hy mis nog die naskoolsentrum maar sorg dat hy elke vakansie daar gaan kuier. Soos wat die tyd aanstap, begin dinge ook beter lyk vir sy ouers. Sy pa het heelwat tydelike werk en hy is hoopvol dat hy weer ʼn voltydse pos sal kry. Joey het hom ook gehelp met sy Sol-tech aansoek. Hy is opgewonde en dankbaar vir sy pad tot hier en vir dit wat nog op hom wag, en dankbaar teenoor die Here wat voorsien het deur hulpbronne soos Helpende Hand wat ʼn kind soos hy bemagtig het!

Hierdie verhaal kon ʼn ander uiteinde gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en fondse aan die Bemagtig-ʼn-Kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Hierdie is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Dankie weer eens aan elke persoon wat aanhou bydrae tot die Bemagtig-ʼn-kind-fonds. As jy vandag hierdie artikel lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus www.bemagtignkind.co.za. Jy kan vandag ʼn verskil maak, ʼn verskil wat ʼn leeftyd gaan voortduur.

Om deel te word van die Helpende Hand familie besoek www.sluitaan.co.za.

*Wikus is ʼn skuilnaam wat gebruik is.

 Suzette Oosthuizen is die hoof van sentrums en nasionale takke by Solidariteit Helpende Hand.

bemagtig-n-kind.jpg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.