’n Reusetree vir die Kosblikkie-voedingsprojek

Die Little Bits-produkte word by Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum in Pretoria-Noord ontvang. V.l.n.r. staan Nandi Twala, Lily Geerdts, Hannes Noëth, Mary Shuttleworth, René Roux en Margolé Riekert. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie-projek het Vrydag die eerste aflewering van Nutrilite se Little Bits‑produkte by die Ons Sentrum in Pretoria-Noord ontvang. Hierdie produk sal deur die tien streke na sowat 8 000 kleuters wat deel van dié projek uitmaak, versprei word.

Die Little Bits-produkte verskaf 15 noodsaaklike vitamiene en minerale vir kinders van ses maande tot vyf jaar – dit in ʼn 1 g-sakkie. Hierdie mikrovoedingstofpoeier is ontwerp deur Nutrilite in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne om wanvoeding onder kinders in die ouderdomsgroep ses maande tot vyf jaar te beveg.

Die skenking is moontlik gemaak deur die vennootskap met Headstart Kids, ʼn niewinsgewende organisasie wat fokus op optimale kinderontwikkeling.

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Helpende Hand, sê dat die Little Bits-produk die Kosblikkie-projek na ʼn volgende vlak bring.

“Dit is ʼn klein pakkie, maar ʼn reusetree in ons voedingsprojek wat op volhoubaarheid gebou is. Met hierdie produk kan ons seker maak dat elke kind die nodige voedingstowwe ontvang om optimaal te groei en te ontwikkel. Die Little Bits-produkte sal vir ʼn tydperk van drie tot vier maande aan die Kosblikkie-kleuters verskaf word as aanvulling tot die kos wat ons reeds aan die kleuters verskaf,” voeg Noëth by.

Volgens die WGO het wanvoeding die onderontwikkeling van ʼn kind se brein en liggaam tot gevolg en dit maak hulle vatbaar vir siektes. Verder veroorsaak wanvoeding dat drie miljoen kinders jaarliks voor hul vyfde verjaarsdag sterf.

Lily Geerdts, uitvoerende hoof van Headstart Kids, sê dat Little Bits ʼn donasie van $10 (sowat R173,77) per kind per maand maak en dit word moontlik gemaak deur Amway se Power of 5-veldtog.

“Wanneer ons ʼn vennootskap begin om die Little Bits-produk te versprei, moet dit vir minstens vier maande deur die kinders gebruik word. So kan die kind regtig voordeel trek uit die mikronutriënte. Deurlopende toetsing, meting en daaglikse monitering is vir ons belangrik. Ons welstandprogram hou rekord van alle befondsing wat ontvang en toegewys word aan begunstigdes wat ons by die program intrek,” verduidelik Geerdts.

“Wat my van die Little Bits-produk beïndruk het, is dat die resultate in die eerste ses maande ʼn 93%-afname in ystertekorte en ʼn 40%-afname in onderontwikkeling toon. Dit is belangrike komponente vir ʼn kind om optimaal te funksioneer, veral op ʼn vroeë ouderdom. Headstart Kids bestaan al vir drie en ʼn half jaar en ons is geseënd om saam met vennote te werk sodat ons aandag kan gee aan die fisieke welstand van kinders, wat hulle weer in staat stel om te kan lees, skryf en konsentreer.”

ʼn Kartonboks Little Bits. Só ʼn boks is genoeg om ʼn kleuter vir ʼn maand van mikronutriënte te voorsien. (Foto: Verskaf.)

Geerdts verduidelik dat Little Bits ʼn wit, smaaklose poeier is wat oor die kind se kos gesprinkel word.

“Die Little Bits wat nou aan die 8 000 kleuters van die Kosblikkie-projek verskaf gaan word, is ʼn wonderlike aanvulling tot die bord kos wat ons daagliks aan hulle verskaf. Nou kan ons verseker wees dat die magies nie net vol is nie, maar dat die kinders die nodige vitamiene en minerale inkry wat hulle nodig het om te groei en te leer,” sê Margolé Riekert, projekorganiseerder van die Kosblikkie-projek.

Mary Shuttleworth, die stigter en president van die Youth for human rights-organisasie, het die Little Bits-produkte saam met Geerdts kom aflewer.

“Ons almal weet dat ons menseregte het, alhoewel ons nie altyd weet wat ons regte is nie. Elke kind het die reg om gevoed te word, daarom is ʼn produk soos Little Bits meer as ʼn voorreg vir ʼn kind; dit is sy reg,” sê Shuttleworth.

“As ʼn kind se voeding ontoereikend is, weet ons dat dit onder meer groei inhibeer. Dit veroorsaak ook dat die breinstimulering nie is wat dit moet wees nie en dit vertraag ontwikkeling. Daarom is die Little Bits wat ons kan byvoeg van besondere waarde. Daarmee maak ons seker dat die kinders wat baat by ons Kosblikkie- en STOPHONGER-projek, wel die nodige middele ontvang om hul liggaam- en breingroei te bevorder. In die proses ontvang hulle ook alles wat nodig is vir energievlakke. Dit is ʼn besondere produk wat ons kan voeg by dit wat ons aan die kinders bied,” voeg Noëth by.

“Ek wil die kinders seën met hierdie produk. Ons impak is soveel sterker wanneer ons saamstaan,” het Geerdts afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.