’n Teddiebeer is altyd welkom

ʼn Afgetredene het honderde bang kinderharte weer rustig gemaak deur die handgebreide teddiebere wat sy sedert 2018 aan die Netcare Linmed Hospitaal in Benoni skenk.

“Theda Swanepoel het een of ander telepatiese aanvoeling vir wanneer die teddie-voorraad min begin word. Dan verskyn sy soos ʼn towerfee met ʼn volgende vrag pragtige teddiebere,” sê Allan Stroud, eenheidsbestuurder van ongevalle by die Netcare Linmed Hospitaal.

Sedert Swanepoel se aftrede in 2015 is sy besig om te teddies brei.

“Ek het nie geweet wat om met myself aan te vang nie, toe sluit ek maar by Rynpark Ouetehuis se breiklub aan. ʼn Vriend het my in 2018 aan Stroud voorgestel,” vertel Swanepoel.

Sy het sedertdien byna 500 teddiebere aan die siek en beseerde kinderpasiënte wat hul opwagting by die hospitaal maak, geskenk.

“Ek maak min of meer tien ʼn maand en het verlede jaar 120 teddiebere geskenk.”

Stroud lewer self ʼn geldelike bydrae tot Swanepoel se wolaankope.

“Dit is so ʼn vreugdevolle en wonderlike gebaar. Mevrou Swanepoel is voorwaar wonderlik om al hierdie teddiebere met soveel liefde vir ons jong pasiënte te maak,” sê Linda Bossert, bestuurder van die Netcare Linmed.

“Elke teddiebeer wat sy maak is uniek en beeld die tyd en moeite wat sy aan die maak daarvan bestee uit.”

Die talentvolle pensioenaris is stadig maar seker op pad na die 1000 teddiebeer-mylpaal.

“Dit is so bevredigend om te weet dat my teddies kinders troos. Daar is altyd ʼn plek waar ʼn teddiebeer nodig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Tannie het ‘n hart van goud om al die teddies te maak vir die siek kinders, wat daar aankom, bang en onseker oor wat aan die gebeur is. En die beertjies is so mooi gemaak, met natuurlik baie liefde en deernis. Mnr Stroud, dit is wonderlik dat jy die waarde van die beertjies sien, en jou eie geld gebruik om vir die wol te betaal. Julle sal albei geseen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.