Nicola Hanekom kry Hertzogprys vir drama

Nicola Hanekom. (Foto: Nicola Hanekom/Facebook)

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas die gesogte Akademiebekronings vir 2021 bekendgemaak. Hier volg die lys van wenners.

Hertzogprys vir drama
Die Hertzogprys vir drama word toegeken aan Nicola Hanekom vir haar verhoogteks In glas. Dié prys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundewêreld en is genoem na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se letterkundekommissie.

CJ Langenhovenprys vir taalwetenskap
Prof. WAM (Wannie) Carstens,
emeritus-professor van die Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, word vanjaar met die CJ Langenhovenprys vereer. Die prys word toegeken vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van die leksikografie.

Carstens word in Afrikaanse taalkundekringe beskou as skrywer van baanbrekersboeke en as redakteur van kernpublikasies in die Afrikaanse taalkunde. Van sy boeke word wyd as die gesaghebbendste bron oor ʼn besondere komponent van die Afrikaanse taalkunde geag: normatiewe taalkunde, tekslinguistiek, teksredaksie. Carstens speel ook ʼn belangrike rol in die popularisering van taalkunde, byvoorbeeld deur rubrieke en meningstukke in die pers.

Marius Weyers. (Foto: Verskaf)

Besondere erepenning van die SA Akademie
Marius Weyers
ontvang ʼn erepenning vir sy uitsonderlike bydrae tot rolprent- en TV-kuns. Weyers word as ʼn meester van TV- en rolprentkuns beskou met ʼn loopbaan wat oor ʼn periode van 40 jaar strek. Weyers was nooit ʼn eensydige akteur nie.

Volgens die Akademie kan hy dramatiese, komiese, ironiese óf uiters sensitiewe rolle op so ʼn manier vertolk dat die kyker altyd meegevoer word, maar terselfdertyd verras, onthuts en onverhoeds betrap word. Al hierdie fasette kan hy in één karakter vertolk. Weyers se individualiteit en veelsydigheid word weerspieël in meer as 50 rolprente en televisiereekse.

Eugène Maraisprys
Jolyn Phillips ontvang vanjaar die Eugène Maraisprys vir haar digbundel Bientang. Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir ʼn eerste of vroeë bellettristiese werk of werke van ʼn skrywer in enige genre en kan net een keer aan ʼn skrywer toegeken word.

Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur
Die prys word toegeken aan Fanie Viljoen (skrywer) en Tumi K Steyn (illustrasies) vir Die dag toe die draak kom.

Die prys word driejaarliks toegeken aan die skrywer wat die beste werk in Afrikaans in die genre van kleuterliteratuur gelewer het.

Erepenning vir radiohoorbeelde in Afrikaans
Die Erepenning vir Radiohoorbeelde kan driejaarliks toegeken word. Werke wat uitgesaai is deur enige uitsaainetwerk in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgegaan het, kom in aanmerking. Vanjaar word dié prys toegeken aan Johan Rademan vir sy hoorbeeld Breyten Breytenbach ‘n ander skakering. In dié besonderse hoorbeeld word die luisteraar die geleentheid gegun om ʼn greep uit Breytenbach se lewe en werk te hoor.

Wannie2

Prof. Wannie Carstens. (Foto: Verskaf)

Hier volg die volledige lys wenners:

  • Elsabé Steenberg-prys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans: Gunther Pakendorf vir Die eindelose storie.
  • MT Steyn-prys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie: FS (Francois) Malan van Pretoria.
  • Havengaprys vir Lewenswetenskappe: JMM (Marion) Meyer verbonde aan die Departement Plant- en Grondwetenskappe, Universiteit van Pretoria.
  • Havengaprys vir Gesondheidswetenskappe: OBW (Oppel) Greeff, uitvoerende hoof van Medwell SA en direkteur van Cytespace SA en Indië.
  • Stalsprys vir Sielkunde: WJ (Wilhelm) Jordaan, buitengewone professor in die Departement Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
  • Stalsprys vir multi- en interdissiplinêre spanwerk: Juanita (Juan) Bornman, van die Sentrum vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie, Universiteit van Pretoria.
  • Stalsprys vir Kunstewetenskappe: Janine Allen-Spies, verbonde aan die Departement Visuele Kunste, Universiteit van die Vrystaat.
  • Toon van den Heeverprys vir Regswetenskap: Die prys word toegeken aan prof. Johan Scott, verbonde aan die Fakulteit Regsgeleerdheid van die Universiteit van Pretoria.
  • Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie: Vanjaar word die prys aan die spotprentkunstenaar Fred Mouton van Kaapstad, toegeken. Die Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie word toegeken vir langdurige hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante of tydskrifte.
  • Huberte Rupertprys vir klassieke musiek: HD (Hennie) Loock, dirigent van die Tygerberg Kinderkoor.
  • Erepenning vir visuele kunste (skilderkuns): Die Erepenning vir Visuele Kunste word toegeken aan die kunstenaar Johann Louw. Louw is ʼn gevestigde en ʼn gerespekteerde kunstenaar in die Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstoneel en sy werk word op nasionale, asook internasionale vlak uitgestal.
  • Hugenote-Vereniging en DF du Toit-Malherbeprys vir genealogiese navorsing: Die prys word postuum toegeken vir die genealogiepublikasie Barkhuizen familieregisterdeur wyle Johan Barkhuizen.
  • Deleen Bekkerprys vir die beste dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans: Die prys word toegeken aan Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder vir hulle rolprentdraaiboek Kanarie.
  • Erepenning vir wetenskaplike vakbevordering: Carolina Koornhof, uitvoerende direkteur: finansies en studente-administrasie, Universiteit van Pretoria. Die erepenning word toegeken vir die bevordering en ontwikkeling van ʼn spesifieke vakgebied deur medium van Afrikaans op enige terrein van die onderwys
  • Besondere erepenning van die SA Akademie: ‘n Besondere erepenning word toegeken aan CE (Rina) Loader, woonagtig in Wene, Oostenryk. Die prys word aan haar toegeken vir haar inspanning oor 23 jaar met betrekking tot die bevordering en bekendstelling van Afrikaans in Europa en in die besonder haar betrokkenheid by die opleiding van Afrikaans aan die Universiteit van Wene waar sy sedert 1998 die vak Afrikaans uitgebou het en dus oor meer as twee dekades Afrikaans onderrig het.
  • Protea boekhuisprys vir die beste kultuurgeskiedenis-proefskrif in Afrikaans: VR (Vicky) Heunis, museumkundige en kultuurhistorikus, verbonde aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Die titel van haar proefskrif is “Anglo-Boereoorlogboerekrygsgevangenekuns, 1899-1902”. Die prys word gedeel met dr. JJR (Johan) van Zÿl, historikus en ook verbonde aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Die titel van Van Zÿl se proefskrif is “Bethulie 1896-1907, met spesifieke verwysing na die Anglo-Boereoorlog”.
  • Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (plantkundige wetenskappe): JR (Ruan) van der Nest, student aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie. Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ʼn Suid- Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).
  • Douw Greeff-prys vir beste artikel in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir natuurwetenskap en tegnologie: NJM Grobler, GJ Puts en PL Crouse van die Departement Chemiese Ingenieurswese, Universiteit van Pretoria en H Bissett verbonde aan die afdeling toegepaste chemie, Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie, vir hulle artikel “Die effek van die skermgassamestelling in ʼn induktiefgekoppelde plasma: ʼn Eindige-elementanalise”.
  • Jacques van der Elst-prys vir beste artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe: Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Bert Olivier van die Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat vir sy artikel “‘Reaksionêre nihilisme’ in die huidige era”.

Die pryse sal tydens twee virtuele bekroningsplegtighede later vanjaar oorhandig word. Bekroondes is waar moontlik reeds mondeling oor die bekronings ingelig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.