Nog Afrikaanse boeke kry Nederlandse vlerke danksy vertaalfonds

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het vandeesweek bekendgemaak dat Chinatown deur Ronelda S Kamfer en Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach in Nederlands vertaal gaan word. ʼn Arabiese vertaling van Dalene Matthee se topverkoper Fiela se kind word ook deur die vertaalfonds ondersteun.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en ter wille van die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland.

Kamfer se digbundel sal deur die Nederlandse uitgewer Uitgeverij Podium vertaal word. Podium het suksesvol aansoek gedoen vir die vertaalkoste verbonde aan Chinatown, waarin Kamfer veral haar digterstem oor geslagspolitiek en die patriargie laat geld.

Die vertaler, bekroonde digter en akademikus Alfred Schaffer, sal, soos met Kamfer se vorige drie bundels, die gedigte vertaal. Die vertaling sal na verwagting in April 2021 verskyn.

Podium spesialiseer in literêre fiksie en gehalte-niefiksie, en is een van min uitgewerye wat nog geredelik vertaalde poësie uitgee. Sy fondslys sluit voorste Afrikaanse digters in soos Antjie Krog, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.

Maroela Media het vroeër berig dat vertaalregte vir ʼn Arabiese weergawe van Fiela se kind aan Mahrousa Centre for Publishing, ʼn uitgewery in Kaïro, verkoop is. Dié vertaling behoort gedurende Mei 2021 te verskyn.

Tot dusver is Fiela se kind onder meer in Engels, Duits, Frans, Nederlands, Sweeds, Sloweens en Hebreeus vertaal. Nou kan Arabies ook by dié lys gevoeg word.

Emad Mansour sal die Engelse weergawe gebruik om Fiela se kind in Arabies te vertaal. Mansour het al verskeie skrywers se tekste uit die wêreldletterkunde in Arabies vertaal. Dit sluit in Franz Kafka, Thomas Mann en Mary Shelley.

Die troebel tyd, Winterbach se jongste roman en wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2018, word deur die onafhanklike uitgewery Zirimiri Press vertaal en sal Oktober 2021 verskyn. Die hoogaangeskrewe literêre vertaler Robert Dorsman sal die vertaalwerk doen.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse skryfwerk moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. E-pos navrae oor dié vertaalfonds na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

quartus ·

Ek wonder of die vertalings net so goed soos die oorspronklike is. Daar is goed in ons taal wat net nie in ander tale vertaal kan word sonder om die ware ‘skopkrag” weer te gee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.