Nuwe museum ʼn skatkis van kulturele erfenisstukke

Mimi Coertse word vir haar borsbeeld geskandeer (Foto: Verskaf)

“Ek het my afgevra hoe ons die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gaan behou,” vertel Shaun Mynhardt, stigter van die Suid-Afrikaanse Legendes-museum.

Dié museum word amptelik op 26 Januarie tydens ʼn glansryke geleentheid in Pretoria geopen.

Altesaam 116 legendes is deur ʼn ervare paneel uitgekies. Legendes wat reeds oorlede is, asook lewende legendes word betrek. Dit sluit onder meer in Gé Korsten, Lydia Winchester, Bles Bridges, Brümilda van Rensburg, Tinus Esterhuizen, Anneli van Rooyen, Johan Stemmet, Gert van Tonder, Shaleen Surtie-Richards en Riaan Cruywagen.

Mynhardt se passie vir die projek spruit voort uit sy familieverbintenis met die Afrikaanse toneelspeler, Siegfried Mynhardt.

“Oom Siegie is my oom en het ʼn groot invloed gehad op my besluit om die museum te open,” vertel Shaun. “Met sy dood het ek ʼn klein tassie gekry met onder meer sy Artes-toekenning vir beste akteur in Die Houtbord en handgeskrewe briefies aan sy vrou, Jocelyn.”

Al Debbo se vrou, Ansa, oorhandig se groen baadjie aan Shaun Mynhardt (Foto: Verskaf)

Hy vertel dat dit net die begin van sy behoefte en droom was om Suid-Afrika se kulturele erfenis te bewaar. Min Shaw en Cora Marie het onderskeidelik ook ʼn groot rol in die totstandkoming van die museum gehad.

“Tannie Min het ʼn paar jaar gelede vir my gevra wat met haar goed sal gebeur wanneer sy nie meer met ons is nie,” vertel Shaun. Shaw het voorgestel dat Shaun ʼn museum ‘of iets soortgelyks begin’.

“Ná talle gesprekke met verskeie ander legendes het ek gou agtergekom dat daar nêrens ʼn plek in Suid-Afrika is waar hierdie mense se nalatenskap vasgevang word nie.”

Shaun het in die proses verneem dat heelwat memorabilia soos toekennings, uitrustings, VHS-bande en filmrolle reeds op die ashope beland het weens die gebrek aan ʼn bewaarplek.

Die museum sal van 27 Januarie amptelik oop wees vir openbare toegang. Dit kan besoek word by Duncan Yard in Hatfield, Pretoria.

“Mense kan die museum van Dinsdae tot Sondae tussen 09:00 en 15:00 gratis besoek,” sê Shaun. “Ons wil dit graag so toeganklik moontlik maak.”

  • Shaun Mynhardt het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak en met Christa Steyn gesels oor die Suid-Afrikaanse Legendes-museum. Luister na die onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Hier is hul Facebook blad; https://www.facebook.com/salegendsmuseum/

Maar waar kan mens die name van die mense wat vereer word sien, is daar ‘n webwerf wat mens kan besoek? Ek soek natuurlik name soos onder andere David de Lange, Chris Blignaut, Charles Jacobe, Dawie Couzyn, Doris Brasch en vele ander! Dana Niehaus! Al Debbo. Ek het idee van hierdie kultuurlegendes is al deur die huidige geslag vergeet.

Is daar nog kommentators wat kan help met name wat julle daar sou wou sien?

Johan Venter ·

Ek moes ook gevra het, is dit mense van die afgelope 100 jaar of langer wat vereer word? En dan is dit nie Afrikaanse kultuurerfenis nie, maar as ek reg lees, die Suid-Afrikaanse kultuurerfenis, so dit sluit mense van alle etniese groepe in die land in.

Mooni Opstaan ·

Ek lees Johan hier bo en dit sal nou interessant wees om al daai name te sien. Wat my veral interesseer is die mense van die Bo-Kaap en so. Die wat diep spore in daardie kultuur getrap het. So die mense van die kultuurerfenis moes nogal wyd vir die skatkis gekonsulteer het.

Helga ·

Shaun, ons het meer mense soos jy nodig wat die insiatief gebruik om ons kultuurerfenis te bewaar, en om so n projekte te begin. Hoop mense ondersteun jou finansieel ook, want daar is sekerlik baie uitgawes betrokke.

Hagar ·

Afrikaanse kultuurerfenis———–Suid -Afrikaanse kultuurerfenis Oepsie hier kom n tamaletjie. Wie sal uitgesluit voel? As Afrikaner het ek die grootste waardering vir hierdie onderneming.

Maureen ·

Ja, dit is alles goed en wel,maar…… Arme Steve Hofmeyr wat al soveel musiek geskryf, gekomponeer, gedigte, boeke, tv reekse, fliek rolle, aktivis…… Gaan hulle hom ook vereer??? Vra maar net……

JOHAN ·

Baie goeie gedagte met die klem op die Suid Afrikaans musiek legendes. Ek hoop dit word wyd onderseun van alle kante af.
Ek hoop nie hierdie gaan weer ‘n politike foefie word waar mense soos Steve Hofmeyr, Maria Maceba, Dr Victor en ander uit gesluit word nie, omdat dit dan vir een of ander rede nie “politiek korrek” is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.