Nuwe toevoeging tot FAK Rivierplaas vier geskiedenis

Piet Breytenbach is tydens die geleentheid vereer. (Foto: verskaf)

Geskiedenisliefhebbers kan hul Voortrekkerkappies en -voorskote gereed kry want ʼn unieke geskiedeniservaring wag vir hulle by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se rivierplaas naby Parys in die Vrystaat.

Mense kan nou die Udolpho Rivierplaas se jongste toevoeging, die ossewakamp, wat op Erfenisdag (24 September) bekendgestel is, besoek.

Dié ossewakamp bestaan uit 16 oorspronklike ossewaens wat spesiaal met slaapgeriewe ingerig is. Dit is die grootste van sy soort en kan tot 116 gaste huisves.

Talle mense het die bekendstelling van die indrukwekkende ossewakamp bygewoon. Piet Breytenbach, ’n lid van die Trekboervereniging en kenner, bouer en restoureerder van ossewaens, is ook tydens die geleentheid deur die FAK vereer met ’n toekenning vir die behoud van Afrikanerkultuur en ‑erfenis.

Ziegfried van Huyssteen, adjunkhoof van die FAK, glo dat mense opgewonde oor erfenis word juis omdat hulle hul identiteit daarin vind.

“Hierdie ossewakamp is ’n wonderlike plek waar ’n Groot Trek-ervaring eerstehands beleef kan word. Dis ’n waardevolle toevoeging tot Udolpho en ’n bate vir Afrikaners.”

Jan-Danie Malan, die FAK-kultuurkoördineerder van die Vrystaat, meen weer dat dié ossewa-ervaring op elke Afrikaner se moet-doen-lysie behoort te wees.

“Udolpho is ’n baken van erfenis,” het Malan gesê.

Die FAK is opgewonde oor die gevoel van hernuwing wat die bekendstelling van die ossewakamp teweeggebring het en vier Afrikanergeskiedenis wat voortleef.

  • Besoek die webwerf vir meer inligting oor die FAK se Udolpho Rivierplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.