Nuwe VivA-app wil lees, luister bevorder

Argieffoto (Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het pas ʼn splinternuwe, gratis slimfoontoepassing (app) bekend gestel wat spesifiek geskep is vir gebruikers wat sukkel om Afrikaans te bemeester.

“Ons werk met hart en siel vir Afrikaans, en ons glo dat hierdie app die taal op ʼn lekker en gemaklike manier vir al sy sprekers meer toeganklik maak,” sê Marlie Coetzee, VivA se besturende direkteur.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het ruim bygedra tot die ontwikkeling van die app.

“By die ATKV besef ons watter belangrike rol boeke en letterkunde in die ontwikkeling en vooruitgang van Afrikaans speel, want dit beïnvloed ons denke, verbreed ons wêrelde en maak ons harte oop. Met hierdie toepassing maak VivA vir ons taal vriende,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuursake by die ATKV.

Die app bevat tekste wat oor die skerm rol terwyl ʼn stem dit hardop voorlees. Op dié manier word die verband tussen Afrikaans se klankstruktuur en die geskrewe taal vir gebruikers vasgelê.

Jong lesers wat sukkel om te lees en taalaanleerders wat nie genoegsame blootstelling aan Afrikaans kry nie, kan met hierdie app hulle beheersing van gesproke en geskrewe Afrikaans verbeter.

Die app is in Afrikaans deur Gustaf Tempelhoff van VivA ontwikkel.

“Hierdie app is voorwaar ʼn mylpaal. Dit het groot uitdagings gestel, maar dit gee ook groot bevrediging om te weet ʼn mens skep iets wat vir die hele taalgemeenskap nuttig gaan wees,” sê hy.

Tempelhoff het reeds VivA se webwerf onder hande geneem sodat dit meer toeganklik vir blinde en siggestremde gebruikers is, en die app is ontwikkel met skermleserbeskrywings wat met toeganklikheidsagteware versoenbaar is.

Die app het ook ʼn aantal eienskappe wat dit besonder gebruikersvriendelik maak – dit slaan outomaties oor na die donker modus indien dit in die aand gebruik word, en dit kan in die agtergrond speel terwyl ander apps gebruik word.

Die tekste in die biblioteek is lekkerleesstories wat deur bekende skrywers aan VivA geskenk is, en al die stories word deur professionele stemkunstenaars voorgelees.

Daar is ook ʼn hele aantal Wikipediatekste vir gebruikers wat meer by feitetekste aanklank vind. In hierdie tekste is daar verklarings en vertalings van sekere woorde en uitdrukkings, wat dit veral vir taalaanleerders geskik maak. Die tekste is vir kinders en volwassenes gegroepeer en in vaardigheidsvlakke gekategoriseer sodat gebruikers die tekste kan kies waarby hulle die meeste kan baat.

Volgens Coetzee is VivA besonder bevoorreg om die steun van ʼn organisasie soos die ATKV en van die taalgemeenskap self te hê. “VivA hoop om met hierdie app sy aanbod aan die Afrikaanse taalgemeenskap te versterk en uit te brei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.