Om armoede te verstaan, moet jy eers kan luister

hh-armoede-luister

Foto: Helpende Hand/Verskaf.

Deur Chantelle Marx

Êrens tussen Hammanskraal en die buitewyke van Pretoria maak ons bussie ’n skerp afdraai na ’n grondpad. Die omgewing herinner my byna aan ’n luukse buitewyk van Johannesburg, daar waar spogperde en paleise pronk. Maar in die plek van perde loop hier ʼn klomp boerbokke. Die mooi van die bosveld steek amper net-net die bouvalle weg. ’n Mens sou nooit kon raai wat hierdie bosveld alles verbloem nie.

Ons hou stil by een van die huise. ’n Stuk of ses honde van alle rasse kom aangehardloop. En toe gaan die deur oop. ’n Vrou kom nader, ’n tienerdogter volg kort op haar hakke. Hulle kom hul kospakkies vir die week afhaal.

Ons is op ’n toer saam met oom Jorrie en oom Gerrie van Solidariteit Helpende Hand se Silverton-tak. Donderdae is vir hulle ’n tyd van gee. Vir die mense wat ontvang, is Donderdae die begin van nog ’n week.

Al geselsend loop ons saam die dogter hul huis binne. Ek het ophou tel hoeveel ander huisies op daardie perseel staan. By die deur steek ek vas. Dis pikdonker en die reuk van ’n koolstoof hang swaar in die lug. Hoe gaan hierdie mense die winter deursien? Behalwe vir die voordeur, is daar geen ander deur in die huis nie. Gordyne dien as afskortings en die huis is yskoud. My oog vang die slopemmer in die hoek, wat as toilet moet dien, en ʼn tienerroman op die sitkamerbank. Is daar ooit elektriese lig om saans te lees?

Ons besoek in totaal 30 sulke huisies, elke huis ewe uniek en elke persoon verskriklik dankbaar om ons te sien. In een vierslaapkamerhuis woon vier gesinne. In die ander huis woon 11 mense in ’n tweeslaapkamerbouval.

Wat my hart die meeste raak, is die kinders. En skielik begin die vrae: Hoe kan ʼn mens jouself toelaat om in sulke omstandighede te verval? Is daar nie iets wat hulle vir hulself of hul kinders kan doen nie? Hoekom doen hulle nie meer nie?

Meteens besef ek: Ek is hier om te luister, nie hier om te oordeel nie. En ek begin luister…

Daar is ’n alleenpa wat elke oggend sy dogter skool toe neem en daar vir haar wag tot sy klaar is. Al die geld vir sy los werkies word gebruik om vir sy kind die beste opleiding binne sy vermoëns te gee.

’n Ma vertel met trots van haar seun wat vir die provinsiale KFC Kids se krieketspan gekies is. Sy meen hy gaan die volgende Jacques Kallis word. Haar dogter is weer ’n hardwerkende leerder aan Hoërskool Wonderboom.

’n Seun wie se ouers hom nooit laat skoolgaan het nie, is nou ʼn voorman op ʼn plaas en hy hunker daarna om te leer lees. Daar is ook ʼn tienermeisie wat daarvan droom om ’n haarkapster te word.

Dit is slegs hoop wat hierdie siklus kan breek. Hoop wat geskep word deur mense soos oom Jorrie en oom Gerrie se onbaatsugtige omgee.

Hoop is deel van die mens se voortbestaan.

  • Chantelle Marx is Solidariteit Helpende Hand se sosialemediabeampte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gestremde

Mense is baie vinnig om te veroordeel terwyl ander berig dat ongeveer 6500 blanke gesinne verval in armmoede weens werkloosheid. Die probleem is dat in plaas van om die mense te help om terug te kom op hul eie bene en vir hulself te sorg word daar vir hul kospakkies gegee. Hoe die duiwel verwag iemand dat ‘n persoon se persoonlike omstandighede gaan verbeter deur die kospakkies terwyl daar niks gedoen word om werk te skep nie. Kry al meer die gevoel Helpende Hand wil vir homself naam maak deur almoese te gee vir die armes. “Die Robin Hood effek”.… Lees meer »

Kallie

Ons lees dat aan die einde : geloof,hoop en liefde oorbly,waarvan die liefde die grootste is. Hoop….mag dit nooit beskaam nie!

Danie

In 1992 het die volgende geslag vir brood gevra en julle het hulle het ‘n klip gegee. Hulle het vir vis gevra en julle het hulle ‘n slang gegee. Nou is ons almagtige God en verlosser die enigste wat vir die volgende geslag sorg deur middel van onder andere Helpende Hand maar ook baie ander kerke en mense.

Dankbaar

Ons het soveel om voor dankbaar te wees, maar wat ons ook net as vanselfsprekend aanvaar. Mag die jong tiener kinders se drome almal bewaarheid word!

Maria

Baie…baie dankie my hartbreek aan Chantelle Marx Solidariteit helpende hand!
Mag die Here julle BAIE SEEN!