Onderwysstudente ontvang eerste honneursbeurse

Die groep studente van Aros het honneursbeurse van die SA Akademie ontvang. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) het onlangs tydens ʼn glansgeleentheid honneursbeurse aan vyf studente van Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) toegeken.

Dit is die eerste beurse van sy soort wat aan studente van Aros toegeken word wat beoog om ʼn honneursgraad in leerondersteuning te voltooi.

Prof. Oppel Greeff, voormalige voorsitter van die SAAWK se raad en erelid van die Akademie, en Melanie Rens, die beursbeampte van die SAAWK, het die pryse oorhandig aan die onderwysstudente. Hulle het die studente aangemoedig om ná hulle honneursstudie ook verder te studeer deur hulle meesters- en doktorale grade te voltooi.

Greeff en Rens meen albei die studies sal die studente met broodnodige vaardighede toerus vir die professie aangesien Suid-Afrika goeie en vaardige onderwysers al hoe meer gaan benodig.

Zoné Oberholzer, een van die studente wat ʼn honneursbeurs ontvang het, het haar dankbaarheid vir die beurs uitgespreek. “Om hierdie beurs te ontvang is ʼn groot eer en voorreg en dit is iets wat ek nie as vanselfsprekend beskou nie. Ek is ook dankbaar teenoor Aros wat dit vir my altyd moontlik maak om my roeping en drome ten volle uit te leef.”

Daan Potgieter van die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON) en lid van die SAAWK se onderwyskommissie het nie net die vyf studente geïnspireer nie, maar ook die hele gehoor. Hy het die studente gelukgewens met die wonderlike beursgeleentheid wat hulle in staat sal stel om hulle karakter te bou, hulle passie uit te leef en ook die beste onderwysers te wees waartoe hulle in staat is.

Die Akademie ken reeds vanaf 2017 nagraadse beurse toe aan meesters- en doktorale studies in enige vakdissipline op voorwaarde dat die verhandeling of proefskrif in Afrikaans ingehandig word vir evaluering by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit.

Die SAAWK het tot op hede 445 nagraadse beurse toegeken waarvan 309 beurshouers reeds hulle studies voltooi het. Minder as 1% van die beurshouers het hulle studies gestaak en terugbetaal.

Akademia is ook uitgenooi om studente vir honneursbeurse te identifiseer. ʼn Beurs in ondernemingsbestuur is aan een student toegeken.

Volgens Melanie is die Akademie se beurshouers verdeel soos volg: 178 doktoraal, 22 honneurs, 230 meesters en 15 postdoktoraal.

“Hierdie beursprojek is een van die Akademie se vlagskipprojekte en ons vertrou dat ons samewerking met die twee Afrikaanse instellings sal help om die doelwitte van die Akademie te help uitdra om Afrikaans as ʼn wetenskapstaal te bevorder,” het sy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.