Opknappingsprojekte wil trots in geskiedenis herstel

Die groep vrywilligers wat gehelp het om die Voortrekkerbegraafplaas op te knap. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke het die afgelope maand skouer aan die wiel gesit en kragte met plaaslike gemeenskappe en politici saamgesnoer om verwaarloosde geskiedkundige monumente in dele van Bela-Bela (Warmbad) en Springs te verfraai.

Die FAK, inwoners van Bela-Bela en Bela-Bela Heritage, ’n organisasie gestig ter bevordering van geskiedenis en kultuurerfenis, het onlangs saam moue opgerol om die Voortrekkerbegraafplaas in dié dorp op te knap.

Volgens Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK, fokus dié organisasie veral vanjaar om die voortbestaan en veiligheid van Voortrekkerbakens te verseker ter viering van die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek.

Tydens dié opknappingsaksie is 23 grafte in hierdie begraafplaas ontdek, waarvan slegs vier se grafstene nog leesbare inligting bevat het.

Voortrekkergrafte is onder toegegroeide gras weggesteek. (Foto: Verskaf)

“In hierdie begraafplaas is die stigterslede van die dorp Hartingsburg ter ruste gelê, wat later deur die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) hernoem is na Warmbad, wat volgens oorlewering die naam van die stasie op die dorp was.

“Later, in 1994, is die dorp hernoem na Bela-Bela, die tradisionele Noord-Sotho-naam vir die warmwaterbron,” verduidelik Müller.

Johan van Niekerk, voorsitter van Bela-Bela Heritage, het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap wat so bereidwillig was om te help.

“Baie mense redeneer geskiedenis is oud en stowwerig, en niemand stel regtig belang nie. Soms voel ek so alleen met dit wat ek doen, en dan kry jy dae soos vandag wat daar mense uit die bloute opdaag om te help en jy besef ander deel ook jou passie.”

Bela-Bela Heritage het ook onderneem om die Voortrekkerbegraafplaas en ander erfenisbakens in die omgewing te help bewaar.

Oorlogsmonument word heropen

In die ooste van Johannesburg het die FAK se Springs-netwerke saam met die DA, VF Plus, sakelui en gemeenskapslede hand bygesit om die bekende Wêreldoorlog-gedenkmonument in dié dorp op te knap, skoon te maak en herstel.

Sy vernuwing is met ʼn heropeningseremonie beklink.

Dirk Human (JR Mackay’s), Tanya Campbell (DA koukus leier) en rdl Charmaine Kok onhul die nuwe WO-monument. (Foto: Verskaf)

Volgens Müller is daar al vir ’n geruime tyd ’n groot nood in dié dorp om verskeie besienswaardighede op te knap.

“Toe ons verlede jaar saam met ’n klomp gemeenskapslede en besorgde politici hier by die Wêreldoorlog-gedenkmonument aangekom het, is ons gekonfronteer met ’n ongelooflike hopelose gesig: verwaarloosde tuine, ’n geplunderde monument en ’n fontein vol rommel en menslike afval, maar in egte FAK-styl het dit ons nie ondergekry nie en het ons saam met die gemeenskap ons moue opgerol en dié belangrike historiese baken reggeruk.”

JR Mackay’s Diesel and Motor Engineering (JRM), ’n plaaslike sakeonderneming, het besluit om geld te skenk om die monument te help hertel.

Die Wêreldoorlog monuent in Springs is herstel tot sy volle glorie. (Foto: Verskaf)

Dirk Human, direkteur van JRM, het tydens die heropening van die monument gesê hy is verheug om deel te kon wees van hierdie projek, veral omdat dit weer trots by die dorp en sy jeug ingeburger het.

“Hierdie tipe projek gebeur nie sommer oornag nie en daar is dikwels mense wat pessimisties en negatief reageer op sulke idees, maar vandag het ons bewys dat hierdie dorp enigiets kan regkry as ons saamstaan en saamwerk. Om te sien hoe jongmense self werk, is prysenswaardig; dit gee ʼn mens hoop en dit laat ʼn mens weer besef hoe belangrik dit is om ons erfenis vir die toekoms en vir al die jongmense na ons te bewaar.”

“Ons vier vandag Suid-Afrikaners wat hul lewens gegee het in die wêreldoorloë. Wat ons vandag reggekry het, is weereens ’n bewys dat ’n gemeenskap enigiets kan regkry as hulle saamstaan,” meen Tanya Campbell, DA-koukusleier.

Rudolf Herbs, voorsitter van die Oos-Rand-Kultuurnetwerk en verteenwoordiger van die VF Plus, het gesê hul party ook bly was om hand by te sit.

“Dit is belangrik om betrokke te raak in jou gemeenskap, afgesien van jou politieke affiliasie, kultuur of geskiedenis, want dit kweek weer trots in jouself en waar jy vandaan kom.”

Barry Muller en ’n groep jongmense wat die FAK bygestaan het om die projek aan te pak. (Foto: Verskaf)

Die FAK het tydens die monument se heropening ook erkenning gegee aan ’n groep jongmense wat deel van die opknappingsprojek was deur sertifikate aan hulle te oorhandig vir hul bydraes.

“Dit maak mens regtig trots om te kan sien wat jy met jou eie hande gedoen het. Ek hoop ek kan eendag hier verbyry en sê: ‘Ek het hierdie help bou’,” het Tayla Grobbelaar (18), een van die Voortrekkerlede wat vereer is, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.