Opleidingsessies laat Besigheidsbytjies-projek behoorlik zoem

AfriForum Sakenetwerk help jong entrepreneurs om hulle vaardighede te slyp. (Foto: verskaf)

Die AfriForum Sakenetwerk se skole-entrepreneurskompetisie, Besigheidsbytjies, help sedert 2019 jong toekomstige sakemanne én -vroue om hul entrepreneuriese vaardighede te slyp.

Vanjaar gaan dié kompetisie behoorlik zoem met ʼn bemagtigende opleidingsessies wat deur Akademia en die entrepreneur Albert van Wyk, wat op 10-jarige ouderdom sy eerste tree as entrepreneur gegee het en as 22-jarige het sy eerste miljoen in die sak gehad het, aangebied word.

Dié sessies sal vir kinders tussen die ouderdom van 9 en 18 jaar aangebied word.

Besigheidsbytjies is begin met die doel om kinders bewus te maak van entrepreneurskap en die deure wat dit vir die land kan oopmaak. Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, was dit nog nooit so belangrik as nou om jong volwassenes te leer om entrepreneurs te word nie.

“Entrepreneurs maak ’n impak in hulle maatskappye, gemeenskappe, plaaslike ekonomie en sodoende ook die wêreld, maar entrepreneurskap is nie noodwendig iets waarmee elke persoon gebore word nie. Dit is egter iets wat geleer, gevorm en uiteindelik ontwikkel kan word. Met die vaardighede wat deur hierdie opleidingsessie aangebied word, hoop ons om jong entrepreneurs te kweek wat in die toekoms hulle gemeenskap sal dien en bevoordeel.”

Volgens Van der Walt gaan hierdie opleidingsessie nie net opvoedkundig van aard wees nie, maar ook hope pret. Onderwerpe soos mentorskap, bemarking en verkope, en finansiële beplanning sal aangeraak word en ʼn hupstoot bied vir kinders wat vanjaar aan die Besigheidsbytjies-kompetisie wil deelneem.

  • Kom kuier saam met die Besigheidsbytjies-span op 27 Maart tussen 09:00 en 12:30 by die Koshuis@Leriba (Endlaan 245, Clubview, Centurion, 0157).
  • Koste: R50 per persoon (alle verversings is ingesluit).
  • Om jou kind se plek te bespreek, klik gerus hier: https://afriforum.co.za/opleiding-vir-jong-entrepreneurs/.
  • Ouers is welkom om kinders die oggend af te laai en weer stiptelik om 12:30 op te laai. Alternatiewelik, kan ouers die oggend saam bywoon wat dan ook R50 per ouer ekstra sal wees. Ouers van kinders wat jonger as tien is en graag hul kinders wil bring, moet asseblief die kind vergesel.
  • Navrae kan gerig word aan: [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.