Oud-Affie-hoof sit leierskap by Akademia voort

Van links na regs: prof. Danie Goosen (akademiese hoof van Akademia), dr. Pierre Edwards (bekleër van die ereleerstoel vir onderwysleierskap by Akademia) en prof. Gawie du Toit (dekaan van Akademia se Fakulteit Opvoedkunde). (Foto: Verskaf)

Dr. Pierre Edwards, voormalige hoof van Afrikaans Hoër Seunskool (AHS) in Pretoria, is Donderdag as die eerste bekleër van Akademia se ereleerstoel vir onderwysleierskap aangewys.

“Vir my is die instelling van hierdie ereleerstoel, veral met die uitrangering van Afrikaanse onderwys en onderwysleiers die afgelope drie dekades, ʼn besondere mylpaal op die weg wat Akademia baan om Afrikaans sy verdiende, regmatige plek in tersiêre onderrig in ons land te gee,” het Edwards gedurende sy aanvaardingstoespraak gesê.

Edwards het self ʼn lang pad in die onderwys gestap. Hy het in 1979 ná drie jaar as deeltydse dosent in geskiedenis by die Universiteit van Pretoria, by Affies as onderwyser aangesluit.

Hy het wiskunde en geskiedenis gegee en in 1992 is hy as die sewende hoof van die skool aangestel. Edwards het in 2019 afgetree nadat hy dié pos vir 27 jaar beklee het.

Volgens Edwards wil hy in sy nuwe amp onder meer daarna streef om ʼn volgende generasie onderwysleiers deur denkende leierskap en mentorskap te vorm.

Dr. Pierre Edwards is Donderdag as die eerste bekleër van Akademia se ereleerstoel vir onderwysleierskap aangewys. (Foto: Verskaf)

Sy visie is ook om vennootskappe met skole en gemeenskappe te vestig, navorsing en geleerdheid in onderwysleierskap te bevorder, as pleitbesorger vir onderwysende opvoeding op te tree, en verbondenheid as waarde in die vorming van onderwysleiers in te stel.

Edwards het gesê as ʼn lewenslange leerder wat voortdurend oor onderwysleierskap gelees het, wat nasionaal en internasionaal in gesprek getree het, internasionaal by verskeie instellings en skole besoek afgelê het, en as gevolg van sy praktykervaring, is hy slaggereed vir die amp.

“Ek glo dat ek in my onderwysloopbaan daarin geslaag het om ʼn brug tussen teorie oor onderwysleierskap en praktyk te bou.”

Edwards het in 1970 aan Affies matriek behaal en daarna verskeie grade verwerf: BA (met lof), HOD-diploma (met lof), BE-Honneurs, BA-Honneurs (geskiedenis), MA (geskiedenis, met lof), en twee DPhil-grade. Hy het ook ʼn diploma in onderwysbestuur met lof behaal.

Genooide gaste luister na dr. Pierre Edwards se aanvaardingstoespraak by Akademia. (Foto: Verskaf)

Die FAK het Edwards in 2013 met ʼn toekenning vir uitnemende onderwys vereer, en in 2014 is die Elizabeth C. Steijn-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken.

Die ereleerstoel vir onderwysleierskap is vanjaar by Akademia gevestig, en dié amp kan met ʼn ereprofessoraat vergelyk word. Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, is in 2021 as die eerste bekleër van die NP van Wyk Louw‑ereleerstoel in kultuurkritiek, wat in samewerking met die FAK gevestig is, aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nici ·

As Universiteit Stellenbosch maar net so ‘n man gehad het, pleks van die een waarmee hul opgeskeep is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.