Oudsoldaat sê bewusmakingsveldtog word toe ‘sielereis’

Stan Potgieter en sy span arriveer in Jwaneng, Botswana. (Foto: Facebook/ Wear it for the Wounded)

Stan Potgieter het sy onlangse “pelgrimstog” na Ondangwa in die verre noorde van Namibië aanvanklik aangepak om die kollig op posttraumatiese stresversteuring te plaas, maar volgens dié oudsoldaat het dit toe in ʼn sielereis en leerskool ontwikkel wat hom ʼn nuwe uitkyk op die lewe en veral sy tuisland se uitdagings gegee het.

Maroela Media het vroeër berig dat Potgieter in Junie sowat 2 500 km op ʼn driewielfiets aangepak het om geld in te samel vir sy niewinsgewende organisasie, Wear it for the Wounded, wat voormalige soldate met hul geestesgesondheid bystaan.

Potgieter het sy diensplig as 17-jarige begin en op 23 Junie 1984 het sy lewe vir die eerste keer handomkeer verander toe hy en sy makkers in ʼn kontaksituasie met aanvalsmagte tydens die Grensoorlog in Namibië was. Twee van sy vriende, “Piesang” en “Willie”, is in dié skermutseling dood en ʼn ander het jare later sy eie lewe geneem.

Die veteraan het weens rugbeserings ʼn spesiale driewielfiets tydens die tog gery. (Foto: Facebook/ Wear it for the Wounded)

Hy vertel dat sy eie posttraumatiese stresversteuring hom laat besef het hy moet bewusmaking oor dié probleem skep.

“Daar was gesê ‘cowboys don’t cry, especially in front of their horses’. So, daar was geen vorm van terapie of nabetragting vir Grensoorlog-soldate nie en ons was nie toegerus om geleidelik weer deel van die samelewing te word nie. Huwelike en gesinne het weens dié trauma verbrokkel en ek het gevoel dit is ʼn probleem wat ons moet aanpak, want dié manne is deur hul land in die steek gelaat,” sê Potgieter.

Die 56-jarige het Saterdag 21 Mei om 12:00 by die militêre gedenkmuur by die Voortrekkermonument weggespring met die doel om teen 23 Junie in Ondangwa af te sluit en te eindig by die plek waar sy makkers gesneuwel het.

Danksy goeie beplanning, gawe vreemdelinge en die ondersteuning van die gemeenskap kon die oudsoldaat nie net sy tog vroeër voltooi nie, maar ook sowat R36 000 vir sy niewinsgewende organisasie insamel.

Benewens uitdagings by die Botswana-grens het die rit volgens Potgieter seepglad afgeloop en het hy en sy span boonop talle nuwe vriende op hul tog gemaak.

“Ons het die Here se goedheid van die eerste tot die laaste kilometer van dié reis ervaar.”

Stan en sy span kuier by Meyers Guesthouse in Botswana. (Foto: Facebook/ Wear it for the Wounded)

Hoewel hulle aanvanklik beplan het om snags te kamp of in hul voertuie te oornag, het gastehuise, natuurreservate en gewone landsburgers in Suid-Afrika, Botswana én Namibië hul harte en deure dikwels gratis vir Potgieter en sy span oopgemaak.

“Mense het ons reis op Facebook gevolg en ons vooruit laat weet dat ons by hulle kan oorslaap. Ons word toe ‘glampers’ en nie ‘campers’ nie,” vertel hy skertsend.

Benewens verblyf, is die groep deurlopend met brandstof, kos en selfs selfoondata bygestaan. Johan en Sohette Fourie, ʼn Namibiese egpaar by wie die groep op pad Ondangwa toe oornag het, het selfs hul huis vir Potgieter-hulle met hul terugkeer oopgelos.

“Johan moes vir mediese behandeling gaan tydens ons terugreis na Suid-Afrika toe. Sy vrou bel ons toe en sê hulle het die huis vir ons oopgelos, met genoeg kos vir ons almal. Waar in jou lewe sal iemand hul huis vir vreemdelinge ooplos?”

‘n Koerantuitknipsel van “Piesang” (oftewel Christo Theunissen) se begrafnis. (Foto: Facebook/ Wear it for the Wounded)

Nadat hy sy rug op 25-jarige ouderdom gebreek en verskeie beserings aan sy knieë opgedoen het, kan Potgieter ook nie meer met ʼn gewone fiets ry nie; daarom is ʼn spesiale driewielfiets vir hom gemaak waarmee hy daagliks tussen 150 en 165 km tydens dié tog afgelê het.

Potgieter vertel dat hy tussen 26 en 29 km per uur getrap het en dit veral geniet het om deur die “rowwe Kalahari” te reis. “Om só na aan die natuur te wees en te sien hoe slange oor die pad seil of nuwe insekte te ontdek, is net fantasties. Ek het baie tyd gehad om te dink en met die Here te gesels. Dit het boonop gevoel of Hy saam met my die fiets trap. Wat ʼn voorreg!”

(Foto: Facebook/ Wear it for the Wounded)

Hy beskryf 17 Junie, die dag wat hy sy eindbestemming op die brug in die Elombe-distrik bereik het, as ʼn hoogtepunt omdat hy nie net van die seer en trauma wat hy self daar beleef het, kon afsluit nie, maar ook hulde bring aan sy vriende wat saam met hom daar was.

Voor hy op sy rit vertrek het, het “Piesang” (oftewel Christo Theunissen) se voormalige vriendin vir Potgieter ʼn koevert gegee en versoek dat hy dit oopmaak wanneer hy die brug bereik. Die koevert het koerantuitknipsels, foto’s, asook Theunissen se begrafnisbrief bevat en volgens Potgieter was dit ʼn gepaste manier om hulde aan sy makker te bring, veral omdat hy nie self sy begrafnis destyds kon bywoon nie.

Stan en sy span was voor 23 Junie reeds weer veilig tuis (Foto: Facebook/ Wear it for the Wounded)

Hy het ook ʼn ander medesoldaat uit KwaZulu-Natal by die eindbestemming gebel. “Dié omgewing lyk natuurlik nou baie anders en soms is dit moeilik om tussen drome en regte gebeure te onderskei, maar toe ek met my pel gesels en ons saam deur die destydse gebeure gegaan het, het dit soos ʼn voltooide kringloop gevoel.”

Hy en sy span was voor 23 Junie reeds weer veilig tuis.

“Dié reis het bepaald aan my bewys dat daar nog baie goed in mense is, want ons is daagliks deur seëninge onkant betrap. Dit het my perspektief oor ons land se probleme ook verander. Ek glo dat ons ʼn groot verskil kán maak en dinge kan omkeer as ons ons harte vir ander oopmaak; dit ís binne ons bereik en vermoëns.”

Besoek Wear it for the Wounded se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vettiemaragartos ·

Hats off! Daar is baie mense se lewens verwoes. Luister gerus Piet Botha se liedjie Goeie nag Generaal!!!

Wielspore ·

Ek was self 13 maande van my 2 jaar diensplig op LMB Ondangwa gewees, 1982 tot 1983. Hierdie was nou ‘n trip down memory lane. Het selfs twee keer duim gegooi tussen Ondangwa en Newcastle KZN, drie dae op die pad. Diensplig in Namibia was vir my ‘n avontuur met geen ouderdoms beperking. Sukkel ek met PTS, ja beslis, met goeie ondersteuning kan ek terug kyk na my diensplig met ‘n glimlag. Sterkte aan oud dienspligtiges, as jy sukkel met PTS, gaan sien iemand, dit sal beter gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.