Oupagrootjie (88) laat nog die speke sing

Kobus van Heerden het in 2019 die toekenning vir Fietsryer van die Jaar ontvang by die Centurion-fietsryklub (Foto verskaf)

Kobus van Heerden (88) van Centurion het Sondag sy 21ste Kaapstad-fietstoer kafgedraf. Hy was die oudste persoon wat op dié dag aan die fietstoer deelgeneem het.

Hy is ʼn afgetrede vlugingenieur op die Transall C160’s in die Suid-Afrikaanse Lugmag. Hy spog boonop met die rekord vir die meeste vlugure (meer as 8 400) op dié vliegtuie in die suidelike halfrond.

Kobus, gebore in Junie 1934, het eers op 65 begin fietsry. Die gogga het hom gebyt toe sy dogter en haar man saam met hul groep vriende elke jaar die wedren van 109 km aangepak het.

Sy susterskind en naamgenoot, Kobus Engelbrecht, het Sondag emosionele ondersteuning op die roete om die Kaapse Skiereiland gebied. Sy skoonseun het ook Sondag se fietstoer suksesvol afgelê.

Kobus, ʼn oupagrootjie met vier kleinkinders en drie agterkleinkinders, maak seker dat hy die aand voor die tyd spaghetti bolognaise en slaai eet en op die roete het hy gewoonlik ʼn piesang of twee en natuurlik sy gunsteling, Liquorice Allsorts, byderhand vir ekstra energie.

Kobus Engelbrecht en Kobus van Heerden net ná die Kaapstad-fietstoer (12 Maart 2023) (Foto verskaf)

Hy oefen gereeld by die huis en het ʼn sirkelroete van ongeveer 20 km in ʼn woonbuurt wat hy ʼn paar keer aflê as hy nie op die oefenfiets in sy motorhuis die sweet laat tap nie. Hy is deel van die Centurion-fietsryklub.

In Kobus se ouderdomskategorie was daar Sondag sewe deelnemers. Hy het die afstand in ʼn tyd van ses ure, 28 minute afgelê. Harald Kvernerud (85), oorspronklik van Noorweë, het die ouderdomskategorie (85 – 89 jaar) gewen in ʼn tyd van 3 ure en 41 minute.

  • Japie Malan van Noordhoek in Kaapstad was tot dusver nog algeheel die oudste persoon wat die 109 km-rit aangepak het. In 2012 het hy as 93-jarige oor die eindstreep gery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.