Pandemie bring ’n nuwe begin

Lida du Plessis is die stigter en uitvoerende hoof van Serwalo Haarakademie (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie) poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om pilare in hul gemeenskappe te word. Lida du Plessis, stigter en uitvoerende hoof van Serwalo Haarakademie wat tans twee studiebeurse vir die FroueVonds borg, skryf hoe die Covid-19-pandemie as ’n geleentheid vir ’n nuwe begin beskou kan word.

’n Nuwe aanslag met Hom as leidsman

Dit is Maart 2020. Die maand waarin daar soveel gedoen moet word, onder meer die einde van die finansiële jaar vir baie sakeondernemings.

Ons hoor, lees en sien van die virus wat in China uitgebreek het. Dit is in die Verre Ooste, ver van ons – wie neem dit nou ernstig op? ’n Mens beskou dit as net nog nuus, net nog sensasie en net nog boodskappe op sosiale platforms. Dan skielik die besef: Ons hier in Suid-Afrika gaan dit nie vryspring nie; ’n man van Durban het positief getoets. Dit is op ons voorstoep.

Paniek breek uit en helaas ontvang ons die nuus dat ’n noodtoestand ingestel gaan word om die kurwe te beveg. Paniekaankope is aan die orde van die dag. Mense staan in toue om sogenaamde noodvoorraad te koop. Niemand is bewus van hoe lank die grendeltyd gaan duur nie. Sommige neem dit ernstig op, en ander minder ernstig.

Die inperking begin. Vriende en familie kan slegs oor die telefoon of sosiale media kommunikeer. Gou het die besef gekom van hoe ernstig die situasie werklik is. Ondernemings ly groot verliese. Werkloosheid neem toe en idees oor hoe om die huishouding aan die gang te hou begin al hoe minder word. Frustrasies word opgemerk en daar word gesien hoe die land en wêreld deur die pandemie geraak word.

Alhoewel almal beïndruk is met die afname in geweld, is dit mistroostig om te sien hoe winkels, skole en veral drankwinkels geplunder word uit pure frustrasie en moontlik onttrekkingsimptome.

Ons alledaagse gewoontes en voorregte is in ’n oogwink weggevat. Kommer neem toe. Dit is nou die tyd om koelkop te raak. In gesinsverband begin ouers weer kommunikeer, meer as ooit tevore in die afgelope jare. Kinders besef wat hier aangaan, want skool toe kan hulle nie. Werk toe kan ouers ook nie. Dit is opmerklik hoe gedragspatrone verander, so asof gesinne mekaar weer herken; gewoontes wat altyd ontsnapping gegee het, is nie meer daar nie.

In hierdie tyd moes ek ook my onderneming sluit. Ek het onrustige nagte beleef. Hoe lank gaan die ding aanhou? Hoe gaan ek my personeel se salarisse betaal? Wat van my finansiële verpligtinge?

Gou het almal begin beplan, nuwe idees probeer maak. Sommiges vindingryk, ander net ’n klip in die bos. Dit is toe dat ek besef het daar is ’n Groter Hand wat oor die treurspel toesien. Wie kan help? Waar is my geloof? Het ek dan nie ’n Hemelse Vader wat hierdie situasie kan beheer en selfs red nie?

Ek het my Bybel nadergetrek en sonder om te onthou waar wat staan, begin lees. Boodskappe van hoop is waar ek begin lees het, heel toevallig. Ek het in geloof die saak opgedra aan my Meester, Hy wat van die begin af daar was en tot vandag toe nog hier is. Ek kon uit my spaargeld nog salarisse betaal en sakeverpligtinge nakom. Gou het ek weereens besef hoe genade werk.

Die omslag van die FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021. (Foto: Verskaf.)

Sterker in die geloof het ek ’n verdere verlenging van die noodtoestand aangehoor. Nie weer dieselfde pad van paniek geloop nie, maar in die geloof beplan en aangegaan om my eie karakter te ondersoek en te bevind dat daar ’n doel is met die pandemie. Ek besef hoe nietig ons werklik is en hoe ongelowig die mens geword het. Ek versterk my in die geloof en besef hoe vol genade en verdraagsaamheid my Vader is.

Met die verligting van die vlakke en heropening van sekere bedrywe, kon ek ook voor begin. Begin soos wat ek geëindig het? Nee, daar is ’n nuwe aanslag, nuwe waardestelsel gekoppel aan hoe ek weer bou en vorentoe beur.

Ek het in hierdie tyd geleer om te bid, te vra vir uitkoms en krag, geglo sonder twyfel en helaas in dankbaarheid ontvang.

Dit is nog nie verby nie, maar in die geloof sal ons staan en weet waarheen ons op pad is en wie nou eintlik die virus se kersie sal uitblaas – net ons Hemelse Vader.

Mag elkeen in hierdie mooi land van ons die genade van ons Vader ontvang om sterk te staan en ’n nuwe begin in ons lewe na te streef met Hom as ons leidsman.

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.