Pretoriase radiostasies vir talle gesogte toekennings benoem

Die benoemings vir die jaarlikse Liberty Radio-toekennings is Woensdag aangekondig en twee gewilde Pretoriase gemeenskapsradiostasies is in verskeie kategorieë benoem.

GrootFM is vir sewe toekennings benoem terwyl Pretoria FM vir drie toekennings benoem is. Die beeldjies word op 13 April in Johannesburg by die Sandtonse Konvensiesentrum uitgedeel.

Pieter Cloete, omroeper by GrootFM en aanbieder van die #VanaandMetPieterCloete-program, is vir die tweede keer vir dié program benoem. Sy program is in 2017 ook vir dié prys as die beste aandprogram op ʼn gemeenskapsradiostasie benoem.

“Om uit bykans 1 900 inskrywings benoem te word, is ʼn baie groot eer,” vertel Cloete aan Maroela Media. Cloete behartig ook die gewilde Maroela Media Afrikaanse Top-20-treffersparade, wat weekliks publiseer word.

Pieter Cloete.

Pieter Cloete.

#VanaandMetPieterCloete word weekliks van 18:00 tot 21:00 uitgesaai, maar op Donderdae net van 19:00 tot 21:00. “Ek gesels oor aktuele sake en nuwe musiek en elke Woensdagaand gesels ek met Xander Loubser van Best Care-nooddienste en dr. Jaco van Niekerk in die gewilde insetsel Groot trauma, wat weekliks vir my ʼn hoogtepunt is,” vertel Cloete.

“Ons bespreek dan mense se fisieke, mediese en emosionele trauma. Een storie wat vir my uitgestaan het, is beslis die Herbal Blend-storie wat ons saam met Maroela Media gebreek het. Die maklike beskikbaarheid van die dwelm asook wetgewing wat nie die verkoop van dié dwelm beperk het nie, lei tot uiterse traumatiese ervarings vir kinders wat dit in die hande kry sowel as hulle families.”

Hy vertel radio is vir hom ʼn heerlike medium om in te werk, omdat hy dadelik nuus wat besig is om te ontvou met sy luisteraars kan deel. “Radio is boonop ʼn persoonlike medium; dit is asof ek heeltyd net met een persoon gesels. Ek raak darem nie meer senuweeagtig voor ʼn uitsending nie, ek raak meer opgewonde,” lag hy.

Su-an Müller-Marais, gewilde omroeper en aanbieder van die Groot ontbyt en die Mediaveertjie-bekroonde program Su-an en so aan, se dagprogram, Kom ons praat daaroor, is benoem in die kategorie vir beste dagprogram. Pretoria FM se Klankkoerant Bylaag-program is ook in dié kategorie benoem.

“Hulle sê mos ʼn omroeper is net so goed soos sy laaste program en daarom kan jy nie hoe goed jy is aan benoemings of toekennings meet nie, maar dit bly lekker om dié soort van terugvoer of erkenning te kry vir jou werk, in plaas van slegs na luisteraarsgetalle te kyk,” sê Müller-Marais.

Die span van 'Kom ons praat daaroor'. Van links na regs: Su-an Müller-Marais, Francois Botha, Susan Botha en Jacques Erasmus.

Die span van ‘Kom ons praat daaroor’. Van links na regs: Su-an Müller-Marais, Francois Botha, Susan Botha en Jacques Erasmus.

Kom ons praat daaroor word elke weeksdag van 11:00 tot 12:00 uitgesaai as deel van haar Su-an en so aan-program, wat reeds om 09:00 begin. Hier tree sy op as anker en word sy deur ʼn paneel van omroepers soos Francois Botha, Susan Botha en Jacques Erasmus ondersteun. Pieter Cloete, Etienne Janse van Rensburg en Sarel du Plessis, wie se geesteskind die Kom ons praat daaroor-program was, kuier ook soms saam.

In dié program gesels hulle oor aktuele sake asook tong-in-die-kies-onderwerpe wat luisteraars aan die gons en giggel kry.

“Sarel het so twee jaar gelede gesê kom ons gee dit ʼn kans en kyk of dit werk en uiteindelik was dit so ʼn gewilde program dat mense ons al laat weet het hulle skuif hulle middagetenstye sodat hulle daarna kan luister,” lag sy.

“Ons luisteraars het later gevra hulle wil ons kan sien ook, so ons saai ook elke program uit op Facebook Live en mense skakel in van heinde en verre, reg oor die wêreld, omdat dit vir hulle voel asof hulle rondom ʼn braaivleisvuur in Suid-Afrika saam met vriende kuier. Nie een van ons maak asof ons ʼn kenner is op die gebied van die onderwerp waaroor ons gesels nie. Ons hou daarvan om ons luisteraars te betrek en twee lukrake luisteraars word een keer per maand gekies om saam met ons in die ateljee te kom kuier.”

Sy skerts dat dié gaste met mekaar begin wedywer het om die beste verversings saam te bring ateljee toe. “Jacques het een keer die grappie gemaak dat die gaste nie kan kom kuier sonder eetgoed nie, want hy was honger en nou het dit al soveel pret geraak om te sien watter verversings die luisteraars vir ons saam bring!”

Müller-Marais voeg by dat dit haar man se heerlike koffie is wat haar elke oggend die moed gee om reeds 04:00 uit die vere te wees vir die dag se radioprogramme wat voorlê. “Ek het ook vrede gemaak met myself. My luisteraars weet wie ek is en radio bied my die platform om in hulle lewens in te spreek en hulle ook in myne. Om elke dag in Afrikaans te kan werk en voort te bou, is ook vir my ʼn voorreg. Gelukkig kan ek in Afrikaans met my luisteraars gesels, want my Engels is ongelukkig baie ‘delicious’,” skerts sy.

Arnold Geerdts en Ruben Delmage.

Arnold Geerdts en Ruben Delmage.

Die geliefde GrootFM-omroeper Ruben Delmage is in drie kategorieë benoem: beste algehele middagprogramaanbieder, beste middagprogram vir Slat die pad en beste sportprogram vir Slat die sport, saam met mede-aanbieder Arnold Geerdts.

“Uit die aard van die saak doen ʼn mens nie hierdie werk vir die toekennings nie, maar dit is ʼn lekker gevoel om benoem te word en erken te word vir jou werk,” vertel Delmage.

Slat die pad word elke weekmiddag van 15:00 tot 18:00 uitgesaai. “Ons gesels oor enigiets en elke ding. Dit is vir ons belangrik om dit lekker lig te hou, mense te laat lag en hulle aan praat te kry. Ons kies interessante onderwerpe met ʼn ligter aanslag waarby ons die luisteraars kan betrek en toets hulle menings opinies.

“Dis vir my so lekker as ek hoor dat mense sê hulle luister na Slat die pad sodat hulle na werk laggend by die huis kan kom. Ons kry ook gereeld kunstenaars in met hulle kitare en klaviere om lewendige, akoestiese musiek te kom speel. Anneli Bouwer is die nuusleser vir die program,” vertel hy.

Slat die sport word op Dondagaande van 18:00 tot 19:00 uitgesaai en in dié program gesels Delmage en Geerdts met sportsterre, afrigters en selfs dieetkundiges oor enige onderwerp wat verband hou met sport. “Ons hou ook die sportfront dop en doen ʼn oorsig van die week se sportgebeure, wat Arnold dan as ʼn kenner analiseer.”

Hy vertel radio is vir hom ʼn passie omdat hy daarvan hou om prentjies te skets in sy luisteraars se koppe. “Ek leef myself elke dag kreatief uit en ek skep hoop en inspirasie in mense se lewens deur ʼn positiewe impak op hulle te probeer maak. Dit is ook die hart van GrootFM,” sê Delmage.

Dié stasie is ook benoem in die kategorieë vir beste sportprogram met Susan Botha en beste naweekprogram, Gister se grotes, met Francois van Rensburg.

Pretoria FM se programbestuurder en omroeper, Sarina Frauenstein, vertel dit is vir dié stasie ʼn groot eer om op so ʼn groot toekenningsplatform benoem te word. Die stasie is benoem in die kategorieë vir beste gemeenskapsprojek vir Omge(e)wingsprojek, beste dagprogram vir Klankkoerant Bylaag en beste radio-innovering vir die Vier bane-projek.

“Die Omge(e)wingsprojek is verlede jaar deur Carly Fritz van Pretoria FM van stapel gestuur met die doel om skole in die omgewing meer bewus te maak oor die eenmalige gebruik van plastiek,” vertel Frauenstein.

“Ons wou hulle aanspoor om hulle plastiekverbruik te verminder en sodoende ook die Owl Rescue-organisasie te help. Een skool het ʼn konstruksie rondom ʼn boom vasgemaak wat katte kon keer om in bome te klim en uile te vang, en die plastiek wat deur die skole ingesamel is, is ook gesmelt om uilhuisies van te maak. Ons het ook by elke betrokke skool ʼn buite-uitsending gedoen en die skool met die beste gees en wat die grootste opwinding op sosiale media kon skep, het gewen.”

Luisteraars wat dié stasies se programme deur die dag misloop, kan hul webwerwe besoek om na die podsendings te luister van die uitsendings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tania Strauss ·

Baie geluk Susan! Jy verdien dit. Trots op julle almal by Grootfm!

Lourens ·

Danksy rasistiese thumi moerake het ek n wonderlike stasie intdek. Gaan Groot!!!

Die Leeu ·

Dankie @Lourens
Ek dog ek is die enigste persoon wat weier om die rassistiese Jacaranda FM te ondersteun. Dankie dat jy saamstaan. Ek self luister nou meestal na Pretoria FM of Groot FM en soms selfs Bosveld Stereo. Ons het glad nie Jakaranda nodig nie. Los dit vir die rassiste daarbuite. Daar is genoeg kwaliteit vermaak, nuus, aktueel en allernei op ons Afrikaanse stasies om Jakaranda heeltemal te vermy.

Essa ·

Baie geluk aan albei puik stasies met julle benoemings. GrootFM se Kom ons praat daaroor is beslis my gunsteling. Hierdie klompie se gesprekke, skerp humor en sommer heerlike kwinkslae is ‘n hoogtepunt in my elke dag. Julle moet asseblief aanhou om dit te geniet om ons dit te laat geniet! ?

Alta ·

Julle kan gerus 1485am, Radio Today, probeer! Hulle is awesome – great musiek en sake om te ondersteun.

barend ·

wat beteken die word “AWESOME ” ? Daar is n afrikaanse word vir die engelse word
naamlik “FANTASTIES ” mooi woord ,baie beter as engels ALTA gebruik die word in die toekoms dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.