Radiostasie bewys klein dade maak groot verskil

Sonet Stofberg van GROOTfm, Helpende Hand se Mariana Kriel, Annelie Bouwer van GROOTfm en sangeres Monique Steyn tydens ‘n #Lositbeter-aksie. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskapsradiostasie GROOTfm 90.5 se motto was nog altyd “groot in die klein”.

Daarom gaan hulle, ter viering van hul tiende verjaarsdag, daad by woord sit en gemeenskappe mobiliseer om te midde van die oorweldigende nood in die land ʼn klein, maar daadwerklike verskil in hul direkte omgewings te maak.

Vir tien maande lank, tussen Februarie en November, plaas dié geliefde radiostasie as deel van hul #Lositbeter-projek elke maand die kollig op ʼn spesifieke uitdaging waarmee die land gekonfronteer word.

Daarmee saam word luisteraars, welsynsorganisasies én kenners op hierdie spesifieke gebiede genader om bewusmaking te skep en ʼn verskil te maak.

Die GROOTfm-omroeper, Annelie Bouwer, gesels ook elke Dinsdag tussen 11:00 en 12:00 op die Brunch met Annelie-program met onderskeie rolspelers in hierdie verband.

Dié inisiatief is destyds deur Lindie Strydom, voormalige GROOTfm-projekbestuurder, van stapel gestuur en word nou deur Sonet Stofberg en die GROOTfm-projektespan behartig.

Volgens Sonet is die kern van dié projek om volhoubare oplossings vanuit die gemeenskap, vir die gemeenskap te bied.

In Februarie was die soeklig op die tema, “skoon”, met die fokus op herwinning en basiese higiëne.

Henk Holder, ʼn entrepreneur en die eienaar van Lelapa Recycling, het met die GROOTfm-span gesels oor sy nuwe, unieke besigheid wat individue en besighede deur herwinning mobiliseer om die omgewing én hul eie finansiële situasie.

Die radiostasie het Henk, as deel van hul #Lositbeter-projek, in kontak met die Louis Botha Kinderhuis in Pretoria gesit, wat self ʼn herwinningsprojek begin het om ʼn kultuur van omgee onder hul kinders te kweek.

Henk het tydens ʼn onderhoud op GROOTfm die kinderhuis met 27 dromme van Lelapa Recycling verras vir hul veldtog.

GROOTfm het self ook vier spesiaal goedgekeurde asblikke aan die Tshwane-munisipaliteit geskenk nadat Malcolm de Klerk, ʼn munisipale wykraadslid tydens ʼn gesprek oor besoedeling verduidelik het dat daar tans te min voetganger-asblikke in groot dele van Pretoria is.

Terwyl die fokus op “skoon” was, het Andrew en Arina Doyle van Basileia Patria ook in die GROOTfm-ateljee gekuier en vertel oor hulle betrokkenheid by ʼn welsynaksie, genaamd “Streetshower”.

Dié inisiatief poog om hawelose mense se waardigheid te herstel deur hulle die geleentheid te gee om in ʼn mobiele wa te stort, hul hare te sny en skoon, nuwe skoene en klere aan te trek. Hiermee saam ontvang hulle ʼn maaltyd en berading.

In Maartmaand was die klem op “reg teenoor voorreg”, spesifiek met betrekking tot die viering van menseregtedag.

Die GROOTfm-span saam met dogters wat gedurende Maartmaand deur #Lositbeter bygestaan is. (Foto: Verskaf)

Die GROOTfm-span het besluit om hul aandag te spits op die beskikbaarheid van sanitêre doekies onder skooldogters, en hulle het dus hande met die MENstruation Foundation, Spar en We Buy Cars gevat.

Dié organisasie is daarop gemik om aan leerders en instellings met hierdie behoefte toe te rus met houers wat toegerus is met ʼn jaar se voorraad van sanitêre doekies. Dogters of jong vroue wat daarvan gebruik maak, kry ʼn spesiale muntstuk wat in die masjien geplaas word en vervolgens aan hulle ʼn doekie voorsien.

Danksy ʼn skenking van We Buy Cars kon die GROOTfm 90.5-span só masjien aan twee Pretoriase skole skenk.

GROOTfm-luisteraars het ook ʼn bydrae gelewer om meer as 900 sanitêre produkte aan Solidariteit Helpende Hand se #HelpHetta-projek, wat hierdie produkte vir behoeftige dogters skenk, in te samel en te skenk.

Daar word vandeesmaand op renosterbewaring gefokus en volgens Sonet lê daar nog baie opwindende kwessies en projekte vir #Lositbeter voor.

“Die GROOTfm-span is dankbaar vir individue en groepe wat die pas aangee vir ‘verskilmaak’ en in hierdie geval, ‘skoonmaak’ van ons omgewing. Dankie aan rolspelers wat aan ons bewys dat verskilmaak in die ‘klein’ lê, en dat verskilmaak by my en jou begin,” sê Sonet oor #Lositbeter.

  • Besoek GROOTfm se webblad by grootfm.co.za om meer oor hierdie inisiatief uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.