Radiostasie bied unieke geleentheid vir vroue-entrepreneurs

Jacaranda FM bied ‘n unieke geleentheid vir vroue- entrepreneurs om hul besighede te groei. (Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

“Deur net vir kompetisies soos hierdie in te skryf, begin ʼn mens ʼn proses van selfontdekking. Dit laat jou dink oor wie jy of jou besigheid is en waar julle in ’n wêreld van vroue‑entrepreneurs pas. Om te wen, is net ʼn massiewe bonus.”

Só beskryf Cheri Afonso, eienaar van die trekdiensmaatskappy HouseHoppers, Jacaranda FM se Her Perfect Pitch-sakekompetisie vir vroue, waar sy in 2022 met die louere weggestap het.

Dié kompetisie word vanjaar weer deur Jacaranda FM in samewerking met Access Bank aangebied en bied ʼn totaal van R2 miljoen se pryse aan die wenner en naaswenners, dit sluit onder meer kontant, advertering op Jacaranda FM, sowel as mentorskapsgeleenthede in.

Inskrywings sluit 31 Augustus, waarna 30 finaliste na ʼn sakeontbyt genooi sal word. Daar sal ook van hulle verwag word om ’n video-voorlegging vir hul onderneming voor te berei en in te dien.

Hieruit sal die top-10 finaliste gekies en genooi word om hul onderneming regstreeks voor ’n paneel van beoordelaars by die Jacaranda FM-ateljees in Johannesburg voor te lê. Die topdrie finaliste sal uiteindelik tydens ’n glansryke galadinee in Johannesburg aangekondig word.

Cheri Afonso. (Foto: Verskaf)

“Ek het vir die kompetisie ingeskryf omdat ek die geleentheid gesien het om ons maatskappy te bevorder deur bemarking wat ons andersins nie sou kon bekostig nie,” verduidelik Cheri, wat verlede jaar op die lughawe in Lanseria uitgevind het dat sy die wenner is.

“Ek het probeer om my opgewondenheid te beteuel, maar ek kon duidelik nie want die hele lughawe het na my gestaar terwyl ek die prys oor die foon aanvaar het. Ek het selfs vreemdelinge gehad wat my gelukgewens het, alhoewel hulle nie eens geweet het wat ek gewen het nie,” skerts sy.

Die pad wat sy saam met haar mentor, Deidre King – besturende direkteur van Jacaranda FM – na afloop van die kompetisie gestap het, was volgens Cheri goud werd.

“Ek het gespot en gesê dat ‘as ek groot is, ek soos Deirdre wil wees’. Haar benadering tot die lewe en besigheid en die konstante energie en lus wat sy het, is werklik inspirerend. Sy het leiding gegee in baie verskillende fasette van besigheid omdat sy so goed met alles vertroud is, van strategie en bemarking tot markontleding.”

Hoewel die speelveld tussen mans en vroue volgens haar nog nie heeltemal gelyk in die sakewêreld is nie, meen Cheri dat kompetisies soos Her Perfect Pitch juis help om vroue daardie nodige hupstoot te gee wat tans ontbreek.

Dié trotse ma woon tans saam met haar man en twee seuns in Roodepoort, Gauteng, en glo ook dat vroue dít wat hulle van mans differensieer en uniek maak, juis moet omarm.

“Nadat ek besef het dat daardie vroulike touch juis die ding is wat ontbreek het, het dit ’n hele nuwe dimensie vir my besigheid geskep het. Dit was die benadering wat ek geïmplementeer het terwyl ek HouseHoppers laat groei het. Al wat nodig was, was om die landskap in ’n ander lig te sien en ’n ander benadering te volg.”

Sy moedig vroue graag aan om ʼn kans te waag en aan dié kompetisie deel te neem en meen dat sy as entrepreneur én vrou groeigeleenthede daaruit gekry het.

“Inisiatiewe soos hierdie het my oë oopgemaak vir ’n gemeenskap waarbinne vroue-entrepreneurs groei, aangemoedig én geprys word. Dit het my ook in kontak gesit met eendersdenkende mense, wat dieselfde soort stryd as ek ondervind en deure na die geleenthede oopgemaak waar ek die ondersteuning kon kry wat ek so graag as entrepreneur wou hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.