Radiostasies wil 10 gesinne help met mediese hulp

“Good Morning Angels” van Jacaranda FM het R2,7 miljoen in 2019 ingesamel. V.l.n.r. is Dianne Broodryk van Jacaranda FM, Leigh Michael van Round Table, prof. Hopewell Ntsinjana, hoof van kardiologie by die hospitaal, dr Krubin Naidoo, hartchirurg, Alex Staniland van Round Table, en Martin Bester van Jacaranda FM. (Foto: Verskaf)

Die Good Morning Angels-span van Jacaranda FM wil R300 000 insamel vir tien kinders wat op mediese behandeling in die Nelson Mandela-kinderhospitaal wag.

Van 14 tot 20 Julie aanvaar die radiostasie donasies en die eindbedrag sal op Woensdagoggend 21 Julie tydens die Good Morning Angels-insetsel op Martin Bester se ontbytprogram onthul word.

Gauteng se gesondheidsorgstelsel is onder erge druk terwyl die derde vlaag van die Covid-19-pandemie beveg word.

Om sake te vererger het ʼn brand ʼn groot gedeelte van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg in April verwoes. Dit het ekstra druk op omliggende hospitale geplaas en die Nelson Mandela-kinderhospitaal is een daarvan.

“Ons het in 2019 ʼn doel gehad om R400 000 in te samel om tien kinders met operasies van R40 000 in dié kinderhospitaal se hartsentrum te help.

“Good Morning Angels het daarin geslaag om R1,8 miljoen in te samel en die Round Table-organisasie het ʼn bykomende R900 000 geskenk. Dit het beteken ons kon 67 kinders met uiters noodsaaklike mediese sorg help ter waarde van R2,7 miljoen. Die kinders het ons vanjaar weer nodig,” het Deirdre King, besturende direkteur van Jacaranda FM gesê.

In die gees van oudpres. Nelson Mandela, wat ʼn groot hart vir kinders gehad het, word geen kind weens ʼn gebrek aan geld vir mediese sorg by die Nelson Mandela-kinderhospitaal weggewys nie.

Dié hospitaal maak staat op donateurs en ʼn klein staatsubsidie om na siek kinders om te sien. Gemiddelde sorg by die hospitaal beloop R30 000 per kind per sessie. Dit sluit in mediese prosedures maar ook versorgingspakkie van slaapklere, pantoffels, toiletware en speelgoed soos boeke, legkaarte, inkleurkryte en inkleurboeke.

“Daar is geen behoefte te groot of geen daad te klein nie. Of jy self ʼn skenking maak of ons boodskap met jou geliefdes deel, ons elkeen het die mag om ʼn gesin se lewe te verander en hul kind te red. Hierdie is ʼn wonderlike manier om Mandeladag te vier,” het King gesê.

Besoek Jacaranda FM se webwerf om ʼn donasie te maak en die projek te steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.