Rekord vir man wat Disneyland agt jaar lank besoek

Jeff Reitz. (Foto: Disney366/Jeff Reitz/Instagram)

Wat begin het as ʼn grapperige uitdaging tussen vriende het nou vir ʼn Amerikaanse man die rekordtitel vir die meeste opeenvolgende besoeke aan ʼn Disneyland-pretpark besorg.

Jeff Reitz, ʼn 50-jarige man van Huntington Beach, Kalifornië in die VSA, het onlangs ‘n Guinness-wêreldrekord opgestel vir die meeste opeenvolgende besoeke aan ʼn Disneyland-pretpark nadat hy dit vir ‘n totaal van agt jaar, drie maande en 13 dae besoek het.

Dít kom neer op ʼn totaal van 2 995 aaneenlopende dae.

Dié uitdaging het in Desember 2011 begin met Reitz en van sy vriende se besoek aan die pretpark op Oujaarsaand, waar hulle mekaar tergend uitgedaag het om Disneyland vir ʼn jaar aaneen te besoek.

CBS News berig dat Reitz dié uitdaging maklik kafgedraf het danksy ʼn spesiale jaarlikse permit wat sy familie vir hom as Kersgeskenk gegee het.

Dié lugmagveteraan was tydens die begin van sy uitdaging werkloos, maar het later as ʼn mediese assistent begin werk en die pretpark ná werksure besoek.

Een só jaarlikse pas beloop nagenoeg $1 400 (sowat R25 000). Dít beteken dat die 50-jarige daagliks minder as $4 (sowat R73) betaal het om toegang tot die park te verkry. Hy het ná 2012 self sy permitte aangekoop.

(Foto: Disney366/Jeff Reitz/Instagram)

Reitz, wat slegs ʼn halfuur van Disneyland se Kalifornië pretpark af woon, het vinnig ʼn bekende onder plaaslike inwoners geword en sy reis op sosiale media begin dokumenteer.

Disneyland het hom deurlopend met spesiale voordele soos gratis etes beloon en besoekers het hom later vir foto’s begin voorkeer.

Reitz het aan die Washington Post vertel dat hy met tye alleen en ander keer in groepverband die park besoek het. In 2013 het die veteraan selfs liefde daar gevind en sy vriendin, Karen Bell, het hom daarna dikwels oor naweke na Disneyland vergesel.

Hy het ook nie met elke besoek noodwendig op die ritte gegaan nie, maar eerder van die pretpark se ander besienswaardighede geniet. Hy erken dat dit deeglike beplanning geverg het om sy besoeke rondom sy werk- en familiepligte te reël.

Die Matterhorn Bobsled-tuimeltruin is sy gunstelingrit, aldus CBS.

Reitz het selfs liefde by Disneyland gevind. (Foto: Disney366/Jeff Reitz/Instagram)

Disneyland is egter op 13 Maart 2020, vyf dae vóór Reitz se 3 000ste besoek, weens die Covid-19-pandemie gesluit.

Guinness World Records het hom nou drie jaar later erken as die persoon wat die meeste opeenvolgende Disneyland-besoeke gemaak het.

Hy het sedertdien nog nie weer dié park besoek nie en sy Disneyland-mannewales met ander stokperdjies soos snorkel en stap vervang.

Hy het aan Guiness World Records gesê dat hy wel van plan is om sy terugkeer te maak tydens die Walt Disney Company se 100ste verjaarsdag, wat later vanjaar op 16 Oktober gevier word.

Bronne: The Washington Post, CBS News, Guiness World Records.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.