Robotiese vierpotiges skep hoop tydens Covid-19

Deur: Marietjie Warrington

‘n Robot-hond by die Universiteit van Mississippi in Amerika. (Foto: Facebook)

In ʼn tydperk wat gekenmerk word deur stres, depressie en aanpassing by ʼn “nuwe normaal” kan vierpotiges ʼn omvangryke en wesenlike uitwerking hê op mense se gemoedstoestand, meen kundiges. Vir dié wat nie in staat is om ʼn lewende troeteldier aan te hou nie, kan robotiese vierpotiges net so goed werk.

Sommige seniors met Alzheimers en demensie in Florida, Amerika, kry nou terapeutiese robotiese troeteldiere om eensaamheid te verlig en meer betrokkenheid te bewerkstellig, sê dr. Deon van Zyl, kliniese sielkundige en voormalige medeprofessor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Luidens ʼn berig in Medical Xpress onderneem die departement van bejaarde sake in Florida om honderde van dié robotiese troeteldiertjies gratis in die VSA te versprei tydens die heersende Covid-19-pandemie.

Robotiese troeteldiere is reeds sedert 2003 wêreldwyd in gebruik. Volgens The Journal of Alzheimer’s Disease lewer die wollerige plaasvervangers uitstekende resultate op en help hulle veral om angs en depressie hok te slaan.

Huisdiere nageboots tot in die fynste besonderheid

Die ware Jakob. (Argieffoto)

Katte en honde word met dié produk nageboots, wat uiterlik lyk soos sy lewende eweknie. Die robot reageer op klank, kan onderskei tussen sagte en meer lewenskragtige aanraking en boots die reaksies van ʼn lewende dier na.

Navorsers meen robotiese troeteldiere is ʼn uitstekende alternatief vir veral mense met demensie en Alzheimers. Dis ook die oplossing vir diegene met ʼn behoefte aan diere se koestering, maar bang is vir die ware Jakob.

Van Zyl sê die Washington State University het onlangs ʼn opname gedoen en vasgestel dat troeteldiere ʼn kardinale bydrae kan lewer tydens die Covid-19‑pandemie.

“Die ondersoek het bevind dat die oorgrote meerderheid van oor die 4 000 honde-eienaars sê hul troeteldier speel ʼn kritieke rol in die vermindering van depressie, angs en eensaamheid tydens die Covid-19‑pandemie,” sê hy.

Volgens die verslag help troeteldiere hul eienaars om ʼn gereelde skedule te handhaaf, onsekerheid te hanteer, meer selfsorg te beoefen en betekenis in hul lewens te vind. Daar was deurgaans die gevoel van hoop wat mense ʼn rede gee om te leef en om aan te hou gee.

Interaksie met diere ‘terapeuties’

Dr. Marieanna le Roux, oudvoorsitter van Pets as Therapy (PAT) en ouddosent aan die departement sielkunde van die Universiteit Stellenbosch, sê daar is ʼn magdom wetenskaplike bewyse dat die interaksie tussen mens en dier terapeutiese waarde het.

“Een voorbeeld is dat kontak met ʼn troeteldier jou depressie en angs kan verminder, wat juis ʼn goeie ding is tydens die inperkingstyd. Deur aan jou hond te vat of te streel kan jou bloeddruk laat daal.

“Ek en my bokser, Anna, besoek gereeld ʼn aftree-oord en is ook deel van die span wat kampusbesoeke aflê. Dis natuurlik vir almal sleg, want niemand mag tydens afsondering ouetehuise besoek nie. Die honde verstaan nie altyd waarom hulle nie kan gaan kuier nie,” sê sy.

Erika Basson, ʼn opvoedkundige sielkundige van Johannesburg wat meestal met tieners werk, sê die pandemie en voorkomingsmaatreëls verhoog emosionele en fisiese druk op baie mense. Troeteldiertjies kan die negatiewe gevolge hiervan versag en teenwerk, sê sy.

Basson sê in normale omstandighede help menslike interaksie om angsvlakke te verminder en emosies te reguleer. “Interaksie met ander mense is nie net goed vir ons nie, maar ook van kardinale belang vir emosionele en fisieke welstand,” sê sy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.