Ruim skenkings het kinders aan’t speel

 helpende-hand-sadiekids-skenking-03.jpg

ʼn Kleuter sit lekker gemaklik op ʼn speelmat van Sadiekids. (Foto: verskaf)

Vir Solidariteit Helpende Hand is ontwikkeling, opleiding en opvoeding noodsaaklik om voorspoed in gemeenskappe te verseker.

Hoe vroeër kinders aan hierdie aspekte blootgestel word, hoe beter.

Daarom verwelkom Helpende Hand enige skenking wat ʼn bietjie kleur in kinders se lewe kan bring.

Drie groot onlangse skenkings het dit moontlik gemaak dat honderde kinders wat by Helpende Hand se omgeenetwerk baat, 2023 lekker speel-speel kan aanpak. Die skole is Helpende Hand se Ons Sentrum- kleuterskole en naskoolsentrums, die Ons Plekke in Derdepoort en Strand, en van die kosblikkie-kleuterskole waar Helpende Hand sorg dat 8 000 kinders daagliks ʼn gesonde bord kos kry.

 helpende-hand-hannes-noeth-skeking-01.jpg

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit, bedank Marthinus Carr, skoolhoof van Laerskool Totiusdal, vir die skoolbankies. (Foto: verskaf)

Die eerste skenking is van Sadiekids wat 850 speelmatte ter waarde van byna R1 360 000 geskenk het.

Sadiekids is ʼn familiebesigheid met ʼn passie om ʼn verskil te maak in kinders en gesinne se lewens deur vir hulle die perfekte omgewing te skep om tyd met mekaar deur te bring. Sadiekids se speelmatte skep die perfekte leeromgewing vir babas, kleuters en kinders. Al hul eenstuk‑speelmatte is 2 m x 1,8 m, 2 cm dik, afveebaar, omkeerbaar, geïsoleerd, liggewig, gemaklik en stylvol.

“Oor die afgelope vyf jaar het ons eerstehands die impak wat ons produkte op gesinne het, ervaar, daarom wou ons die liefde deel met almal. Ons het besluit om saam met Helpende Hand te werk aangesien hulle reeds betrokke is by verskillende gemeenskappe reg oor Suid-Afrika. Die veelsydigheid van ons matte sal van hulp wees vir verskillende generasies, van oud tot jonk, en ons glo met die hulp van Helpende Hand sal ons ʼn impak hê,” sê Mia Sadie, mede-eienaar van Sadiekids Play Mat Store. Vir meer inligting oor die speelmatte, besoek www.sadiekids.co.za.

Dan het Sol-Tech-studente ook hul harte vir die jonger geslag oopgemaak. Sol-Tech hou jaarliks hul Vonk-liefdadigheidsfees. Dit is in 2022 vir die eerste keer by hul nuwe kampus in Monumentpark met ʼn opwindende kaskarresies gevier.

Agt kaskarre is aan Solidariteit se Ons Plekke en Ons Sentrums geskenk. “Ons hoop dat die kinders dieselfde pret met die unieke kaskarre sal ervaar as wat ons studente gehad het,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech.

Die kinders gaan darem nie net die hele jaar speel nie, maar ook tyd agter die boeke deurbring. Laerskool Totiusdal in die Pretoriase Moot se skenking van nagenoeg 250 skoolbankies sal daarmee help.

Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, het die skenkings verwelkom.

“Dit is die krag van die gemeenskap wat Helpende Hand keer op keer ervaar. Hierdie gaan oor meer as net die kaskarre, skoolbanke en matte, dit gaan oor teruggee aan die gemeenskap. Almal van ons kan help waar ons kan om vir ons kinders ʼn beter toekoms te verseker,” sê sy.

Vir meer inligting of om deel van Helpende Hand se familie te word, besoek gerus www.ondersteunons.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andriette ·

Ek is ‘n trotse Helpende Hand, Solidariteit en Saai skenker. Elke rand sit ‘n glimlaggie op ‘n kind of persoon se gesiggie of maak ‘n magie vol. Kinders en persone wat hoogswaarskynlik ‘n bitter moeilike lewe het.

kaplyn ·

Ek stem volkome saam Andriette! Ek is ‘n pensioenaris wat elke maand maar sukkel om uit te kom met my pensioen. Die Hemelse Vader stel my egter in staat om darem elke maand ‘n geldjie af te knyp om vir Helpende Hand te gee. Dankie HelpendeHand dat julle vir ons terugvoer gee, al is dit net ‘n foto van ‘n glimlaggende kind. As ‘n kind gelukkig is dan is ek ook gelukkig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.