Die Hans Gabor Belvedere kompetisie wat vanjaar in Amsterdam gehou is, is ʼn spoggeleentheid wat die room van die opera-wêreld oplewer. Vanjaar se kompetisie het duisende deelnemers van reg oor die wêreld tussen die ouderdom 18 – 32 gehad.
Die 24-jarige Levy Strauss Sekgapane van Kroonstad is vanjaar se wenner.
Levy sê hy het groot geword in ʼn huis wat lief is vir musiek. “Musiek het altyd by my gebly – maak nie saak waar ek gegaan het nie. Dis iets wat ek altyd by my kon hou,” verduidelik hy.
As kind het Levy ander drome gehad en het nooit gedink dat musiek so groot deel van sy lewe sou word nie. Levy meen die begin van sy musiekloopbaan het eintlik by sy broer begin, ʼn dirigent en regisseur vir die Johannesburgse Philharmoniese Koor.
“Ek het my broer soos ʼn skaduwee gevolg; as hy sokker gespeel het, het ek ook sokker gespeel. Toe hy in musiek begin belangstel, het ek hom in dit ook gevolg.” Sy broer het groepe by hul huis afgerig wat sou deelneem aan die Tirisano Eisteddfod.
Levy het altyd na dié groepe geluister en só ʼn voorsmakie van die musiekwêreld gekry. “As almal huis toe is, het ek hul sangstyl nagemaak en so het ek ontdek dat ek kan sing.”
Hy het op hoërskool groot beurse losgeslaan wat hom die geleentheid gegee om sy sangtalent te beoefen en ook klavierlesse te neem. Op 18-jarige ouderdom wou hy wegbreek van opera en het besluit om ʼn dirigent te word.
Levy het sy B-mus studies by die Universiteit van Kaapstad begin waar hy onder meer klavier en sang bestudeer het. Een van die operadosente het Levy hoor sing en gevra dat hy by dié skool moet aansluit. Levy is toe terug na sy eerste liefde.
Levy sê die Hans Gabor Belvedere kompetisie het soveel deure vir hom oopgemaak en dat hy nou baie geleenthede het om sy sangloopbaan te bevorder.
Hy woon tans in Duitsland en meen dat hierdie land sy permanente tuiste sal wees, aangesien Duitsland baie geleenthede vir operasangers bied.
So verloor ons baie talent. Die kunste suig mos altyd aan die agterspeen… Baie geluk aan die outjie van Kroonstad – wie sou dit kon dink, al die pad van die Vrystaat tot groot hoogtes! Sommer Vrystaaaaaat dan ook!
Mooi so Levy! Harde werk bring sukses!