SA se jong ‘wiskundemasjien’ blink uit in Duitsland

Stiaan Scheepers net voor hy die vraestel aanpak. (Foto: Verskaf)

Stiaan Scheepers, ʼn tienjarige seun van Rustenburg, het onlangs weer tweede gekom toe hy aan die Junior Mental Calculations Championships in Duitsland deelgeneem het, waar hy een van vyf kinders was wat die land daar verteenwoordig het.

Dié seun het verlede jaar ook aan die kompetisie deelgeneem, waar hy ook in die tweede plek geëindig het. “Die verskil is egter dat hy met sowat 101 punte verlede jaar verloor het, terwyl daar hierdie jaar net ses punte verskil tussen hom en die wenner was,” vertel Stiaan se ma, Elmarie, aan Maroela Media.

Vandan Nyati, ʼn seun van Indië, het eerste gekom met 1 644 punte, terwyl Stiaan 1 638 punte aangeteken het in die kompetisie se o. 12-kategorie.

Scheepers verduidelik dat dit ʼn strawwe kompetisie is en dat die kinders hoofrekene, soos optel, aftrek, maal, deel, ratio’s, breuke en dies meer in ʼn twee uur lange vraestel, wat sowat 27 bladsye is, doen. “Die kinders kry nege uur lange oefening deur hoofrekenekenners voor hulle die toets aflê. Hulle mag ook net een keer ʼn antwoord doodtrek.”

Deelnemers mag ook nie hul berekeninge neerskryf nie en moet dus alle somme in hul kop doen.

In ʼn vorige onderhoud met Maroela Media het Scheepers gesê dat Stiaan eintlik per toeval by wiskundeklasse beland het. Elmarie se man, Louis sr., wat in 2016 oorlede is, wou graag Stiaan se ouer broer, Louis jr., vir ekstra wiskundeklasse stuur voor hy skool toe gaan omdat die standaard so hoog is en baie kinders daarmee sukkel.

Hy het toe op ongeveer driejarige ouderdom by A+ Students, onder leiding van Hantie van Niekerk, wiskundelesse begin neem.

“Ek is baie trots op my seun. Sy droom is om eerste te kom, hy het werklik met een som – een getalletjie – gemis. Hy sal reguit sê hy het dit vir die Here geskryf.”

Vra jy vir hom of wiskunde lekker is, erken hy dit is nie altyd die geval nie. “Maar ek het hierdie talent by die Here gekry en hy verwag van my om met my talent iets te doen.”

Stiaan sien die wêreld

Stiaan Scheepers, saam sy ma Elmarie Scheepers (regs) en Hantie van Niekerk (links). (Foto: Verskaf)

Scheepers vertel dat afgesien van Duitsland, Stiaan se passie vir wiskunde hom al na talle ander lande geneem het om aan kompetisies deel te neem. “Hy verken die wêreld, maar wanneer dit als verby is, is hy baie bly om weer terug by die huis te wees. Hy is trots Suid-Afrikaans!”

Na hy die tweede plek in die Duitse kompetisie gewen het, het die span by A+ Students hom bederf met ʼn reis na Parys, in Frankryk, waar hy ʼn dag by Disneyland kon deurbring.

Stiaan het ook met ʼn tas vol teddiebere teruggekom, vertel sy ma. “Hy wil 100 bere op sy bed hê en het een gekry in elke plek waar hy nou was, insluitend Parys, Brussel, in België, en Frankfurt en Bielefeld in Duitsland.”

“As Stiaan weer terug in die land is, geniet hy dit, en hy wil net vleis eet; steak en boerewors. Hy wou vir lank nie ʼn brood sien nie.”

ʼn Hart vir mense

Die jong seun, bekend aan sy familie as Stibbie en sy ma se Bollie, blink steeds uit ten spyte daarvan dat hy op drie met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is en op ʼn jong ouderdom sy pa aan die dood afgestaan het. “Hy is nou heeltemal genees van die kanker,” vertel sy ma.

Verder sê sy wil hy eendag ʼn aktuaris word. “Hy het my egter verbaas toe ons ʼn gesprek die ander dag gehad het oor wat hy wil doen as hy groot is,” sê Scheepers.

Sy vertel dat Stiaan eers aangevoer het hy wil baie geld maak, maar nie net vir sy eie gebruik nie. “Hy weet as hy sy talente reg gebruik, gaan hy baie geld verdien, maar hy wil dit gebruik om vir armes te sorg, hulle te leer hoe om met hul geld te werk en hoe hulle geld kan maak.”

Vir Stiaan, sê sy ma, is dit baie belangrik dat elke kind in Suid-Afrika skoolgaan en leer om te lees, want dan kan elke kind ʼn Bybel in sy eie taal kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Jong tannie se bors is groot van trots op jou . Mooi hou aan jy is n wenner.

CK ·

Fantasties. Hou so aan jong man. Dalk wiskundelesse gee vir die kinders in jou skool wat werklik sukkel.

KrokodilBotha ·

Aanhouer wen. Die kind tel beter as onse ou president.

Leonie ·

As my wiskunde van 1 + 1 nou reg is, spel dit vir my net een naam: Stiaan Scheepers! Welgedaan.

Kokkie ·

Baie geluk, Boetie. Jy is regtig ‘n ystertjie. Hierdie ou oom dink jou prestasies is baie beter as die Springbokke s’n. Jy behoort ook vergoed te word as jy S.A. verteenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.