SA vrou gekies om wêreldvroueorganisasie te lei

Magdie de Kock

Magdie de Kock het Suid-Afrika se vaandel hoog gedra toe sy vroeg in April as wêreldpresident van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue aangewys is.

Dis die eerste keer in dié organisasie se 90 jarige bestaan dat iemand uit Afrika hierdie posisie beklee.

Deur die plaaslike Vrouelandbou-unie (VLU) en Die Dameskring se affiliasie met hierdie wêreldwye vroueorganisasie, kon Magdie dié hoogste sport bereik. Die ACWW, waarna in Afrikaans nie-amptelik as die Wêreldbond van Plattelandse Vroue verwys word, het meer as 10 miljoen lede oor die wêreld heen en werk in 87 lande vir die opheffing van vroue en kinders. Dit is ook lid van die Verenigde Nasies.

Magdie is by die driejaarlikse konferensie, wat vanjaar in Australië aangebied is, tot wêreldpresident verkies. In dié hoedanigheid gaan sy vir die volgende drie jaar die beelddraer en segspersoon van die organisasie wees.

“Ek is diep onder die indruk van die groot verantwoordelikheid, maar ook baie bewus daarvan dat ons Hemelse Vader my sal toerus met Sy wysheid en seën om hierdie taak te verrig.”

Magdie behoort reeds 40 jaar lank aan die VLU en het op ʼn jong ouderdom by die organisasie aangesluit omdat sy kon vereenselwig met die visie en doelwitte, naamlik die opheffing en toerusting van die volwasse vrou.

Sy het ʼn graad in grondslagfase‑onderwys aan Tukkies verwerf en as skoolhoof gewerk totdat haar en haar ingenieur-man van die afgelope 47 jaar, Johan, se eerste van drie kinders gebore is.

“Ons het toe saam besluit dat ek as ʼn tuisbly-mamma na die huishouding sal omsien. Dit het my die geleentheid gebied om by vrywillige werk op verskeie vlakke betrokke te raak en Johan het my al die ruimte gebied om my belangstellings uit te oefen.”

Sy is vroeg reeds tot die visepresident van die Transvaalse VLU verkies en het daarna as president van VLU Mpumalanga gedien. Vandag is sy, buiten president van ʼn wêreldwye vroueorganisasie en direksielid van verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies, ook die trotse ouma van twee bruinoog kleuters, met ʼn derde kleinseun wat binnekort sy opwagting gaan maak.

Voordat sy tot wêreldpresident van die Wêreldbond verkies is, het sy vir ses jaar op die raad van trustees as die voorsitter van die bemarkings- en kommunikasiekomitee gedien. In hierdie hoedanigheid moes sy dikwels na ander lande reis om die organisasie bekend te stel en ook baie gereeld die hoofkantoor, wat in Londen gesetel is, besoek vir vergaderings en ander verpligtinge. Dit was soos ʼn voltydse beroep, vertel sy, en nou gaan die pas net nog ʼn bietjie meer versnel om haar pligte en verantwoordelikhede as wêreldpresident na te kom.

Die Wêreldbond van Plattelandse Vroue bemagtig vroue en gemeenskappe wêreldwyd deur verdienstelike projekte te identifiseer en finansier. In Mongolië is daar byvoorbeeld groentetuine aangelê vir die gemeenskappe om selfonderhoudend te raak, terwyl klaskamers in die verafgeleë landelike gebiede van Wes-Afrika en Indië gebou is en geletterdheidsprojekte in die Wes-Indiese Eilande van stapel gestuur is. Dit word moontlik gemaak deur skenkings van lede en weldoeners.

Magdie verduidelik dat vroue se basiese behoeftes wêreldwyd dieselfde is. “Hierdie gemeenskaplike behoeftes behoort ons saam te snoer om ons unieke rol as vrou te omarm en uit te leef.”

Sy beplan om die dinamika en waardestelsel wat uniek aan Suid-Afrikaanse vroue is op die wêreldverhoog ten toon te stel.

“Die omstandighede van Suid-Afrikaanse vroue noop ons om op verskeie terreine te werk en te beweeg, wat ʼn baie groot verantwoordelikheid op ons plaas. Ons sterk waardestelsel stel ons egter in staat om met waagmoed enige omstandighede te trotseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

IK ·

Magdie, mag die hemelse Vader met jou wees deurentyd. Wat ‘n aangename vrou kan ek duidelik sien. Veels geluk hier van ‘n (ou) man se kant. Met reg kan SA en jou familie trots wees.

Gertryda ·

Ja nê, ek was 37 jaar ook lid, maar het alle bande verbreek.
Hul is n opvoedkundige organisasie maar het niks van die politieke aanslag gehou wat van hul gehandhaaf het nie. Dit is n nie politieke organisasie , maar hul het altyd politieke leiers by hul kongresse gehad.
Voorspoed vir die dame.

Judge Dredd ·

Ek dink nou net watter waardestelsel Magdie vir die wereld wil wys.

Ronell ·

Magdie, baie geluk. Jy is voorwaar n voorbeeld vir talle vroue. Jou gesindheid is n voorbeeld en aansporing vir vroue wat begeer om nog waarlik vrou en moeder te wees soos wat ons Skepper se skeppingsdoel vir ons was: Spreuke 31:10-31. As kind van God is jou waardestelsel en leefwyse gewis daarvolgens ingestel. Ek dank God vir sterk vroue soos jy waarop hul mans, kinders en volk beslis nog baie trots kan wees. Ek haal aan: vers 29 “Baie dogters het hul knap gedra, maar jy oortref hulle almal” vers 30″ “….n vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word” Mag dit n vrugbare en geseënde dienstydperk wees. Mag God 3-Enig jou deurgaans styf vashou en omarm met Sy groot liefde en genade sodat jy te alle tye volgens Sy wil sal wandel en handel. Baie sterkte, geniet en omskep elke uitdaging in n geleentheid. Ek vertrou MM sal ons op hoogte hou. Boeregroete uit Australië.

Andrea ·

Baie geluk! Ek glo sy sal ook die situasie van die plattelandse boervrou in SA vandag onder die wêreld se aandag kan bring. Baie sterkte!

Sanet ·

Baie geluk en sterkte met die uitdaging(s). Dankie vir opbouende nuus ?

Sanet ·

Baie geluk Magdie. Jy maak al ons ander lede baie trots en ons weet jy sal n voorbeeld stel van die Suid-Afrikaanse Christenvrou, waarookal jy die VLU en ACWW verteenwoordig. Baie dankie vir dit wat jy nog op daardie platform vir ons gaan beteken. Baie seën op jou pad toegebid.

Meraai ·

Jys reg, daai woord in die laaste sin tickle my ook bietjie

Namibie ·

Baie geluk ook van die NVV in Namibie se kant. Baie trots op jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.