Sanger wys eersteling, vertel van uitdagings te midde pandemie

Elme Churr, sangeres en ambassadeur van Helpende Hand saam met haar seuntjie Luke. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Die Afrikaanse sangeres Elme Churr, ’n ambassadeur van die FroueVonds wat pas ’n mamma geword het, skryf oor ma-wees tydens ’n pandemie.

Elme Churr, pappa Ben en baba Luke. (Foto: Verskaf.)

Om vir die eerste keer ma te wees

Hoe beskryf ’n mens hierdie liefde wat jou met die eerste oogopslag oorweldig? ’n Uiterste liefde wat ek en Ben nooit geken het nie, ’n volkome liefde, sonder verwagting, voorwaardes of perke.

My swangerskap in hierdie beproewende tyd van Covid-19 was ’n groot seëning en tog in my agterkop wense dat dinge anders was ten opsigte van die inperking en reëls daaraan verbonde. Alhoewel ons ’n heel nuwe persepsie van sosiale betrokkenheid moes aanvaar, het ons ’n paar trane gestort ten opsigte van die babatee, lekker kuiers saam met vriende en familie asook die verf van Luke se kamer. Ons het egter besef dat ons anders na hierdie situasie moet kyk. ’n Wete dat Ben elke dag hierdie pad saam met my van die huis af sou kon stap en tydens koffiepouses kon ontsnap uit sy kantoor na die babakamer. Ons het soveel mooi van mekaar herontdek in hierdie grendeltyd en besef dat ’n mens eintlik met so min gelukkig kan wees en dat geld nodig is ja, maar dat dit vir seker nie geluk en tyd kan koop nie.

Die derde trimester het gevlieg soos ’n oogwink en ek het met ’n lied in my hart en ’n bietjie paniekerigheid my en Luke se hospitaaltassies gepak min wetend hoe die Covid-19-situasie in die hospitaal sou afspeel. Gaan Ben daar mag wees met Luke se geboorte of gaan ek stoksielalleen wees? Geen ouers, familie of vriende wat my mag besoek nie. My moed was in my skoene, maar die opwagting van Luke was te groot dat enige iets hierdie opwinding sou kon belemmer. God is tog by my het ek myself herinner en dat alles gaan uitwerk. Wees rustig en kalm het resoneer in my hart.

Die aand voor Luke se geboorte het aangebreek en ’n aansteeklike afwagting het gehang in die lug. Ek sal nooit vergeet toe ek die eerste keer Luke se gesiggie sien en daardie stemmetjie hoor blêr in ’n kamer vol eggo’s nie. Ben was langs my, ons harte het oorgeloop van trots en die trane het oor ons maskers gestort. Hoe kan ’n mens so lief vir enige iets wees? Onbeskryflik, oorweldigend en so geseënd om hierdie voorreg te kan hê om ouers te wees.

Elme Churr se baba Luke. (Foto: Verskaf.)

Soos ek wakker word deur die nag met Luke wat kreun langs my, kyk ek in verwondering na hom. As jy vir my sou sê dat iemand my sou wakker maak vier of vyf keer deur die nag vir sy of haar behoeftes, sou ek gesê het dat ek vir seker vies sou word. Maar met Luke voel dit of my hart ophelder – die moegheid is steeds daar, maar verdwyn onder die liefde, die behoefte om die beste te kan wees en te gee vir hierdie klein mensie. Dis vir my wonderlik om vir Ben in Luke te kan sien, sy oë, sy voete, en die kalmte in sy menswees.

Ek en Ben omhels hierdie nuwe fase saam met Luke van doeke ruil, laataand grappies vertel en in die oggendure koffie drink in die bed terwyl Luke salig slaap met wit klanke in die agtergrond terwyl jy jouself vang kleuterliedjies sing as hy net bietjie begin woel.

Ek het in hierdie tyd geleer om dankbaar te wees vir die min, vir elke liewe oomblik, vir lewe en vir die voorreg van vandag!

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae