Sarel Cilliers op sterfdag in Senotaafsaal onthou

Van links is Jaco Cilliers, Marnus Nel en Chrisna Nel. (Foto verskaf)

Op 4 Oktober 1871 is Charl (Sarel) Arnoldus Cilliers op sy plaas, Doornkloof, naby Lindley in die Vrystaat dood. Nou, presies 152 jaar later op 4 Oktober is Cilliers by sy kanon, Grietjie, in die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument in Pretoria deur drie van sy nasate en ’n klein groep mense vereer.

Chrisna Nel, Marnus Nel en Jaco Cilliers is almal afstammelinge van Sarel Cilliers. Die groep het eers die Gelofte by die kanon afgelê waarna elke nasaat blomme voor Grietjie neergelê het.

“Dit is so ’n groot voorreg om vandag hier te kon wees om hulde aan ’n voorvader en Voortrekkerleier te bring. Nie almal kry die kans om hier uit te kom nie, nie eers direkte afstammelinge van Sarel Cilliers nie,” het Chrisna gesê.

“Cilliers was ’n merkwaardige man en ’n mens kan soveel by hom leer. Hy was ’n kerkman en sy geloof het die Voortrekkers deur swaar tye gedra,” het Jaco bygevoeg.

‘n Groep mense het Sarel Cilliers vandag by kanon Grietjie by die Voortrekkermonument gehuldig. (Foto verskaf)

“Ek wonder wat Cilliers sou sê as hy kon sien hoe wyd sy nasate hom steeds vereer. Ek dink hy sou besonders trots wees, want ons is baie trots op die Gelofte en wat dit vandag nog vir ons beteken,” het Marnus op sy beurt gesê.

Cilliers het die Gelofte vir die eerste keer op 9 Desember 1838 op Kanon Grietjie voorgehou en daarna elke aand tot en met die 15de Desember. Kanon Grietjie kan vandag in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument besigtig word. Dit is juis ook oor hierdie rede dat dit so gepas is om Sarel Cilliers by sy kanon te vereer.

Hy is ʼn erkende geestelike leier wat die Kolonie so vroeg as 1836 verlaat het. Later het hy by die geselskap van Hendrik Potgieter en andere aangesluit en saam met hulle getrek. Cilliers word beskou as die vader van die Gelofte wat in Desember 1838 afgelê is, maar hy was ook soveel meer as dit.

Hy was een van die groot geestelike leiers van die Groot Trek. By Vegkop in Oktober 1836, en later ook by die Bloukransmoorde, Italeni en Bloedrivier het hy getoon dat hy wel deeglik sy man gedurende die stryd kon staan.

Die Voortrekkermonument wil Afrikaners se erfenis bewaar en toeganklik maak vir ons nageslag. Word ’n vriend van die Voortrekkermonument en ondersteun ons by: Vtm.org.za/ondersteun/

Nasate het blomme voor kanon Grietjie neergelê. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.