Seun se droom bewaarheid toe pa troue kon bywoon

Jaendré en Nicole Grobbelaar. Foto: Louise Coertze

ʼn 62-jarige pa wat aan ʼn bed vasgekluister is, kon danksy die gemeenskap se hulp sy seun se troue bywoon.

Frikkie Grobbelaar kon die afgelope ses maande nie uit die huis gaan nie weens ʼn aftakelende siekte. Sy vrou, Maria, het in September vir Johann Prinsloo, bestuurder van ER24 se tak in die Suid-Kaap, gebel en gevra of dit moontlik is om ʼn ambulans te huur vir ʼn dag.

“Ek het vir haar verduidelik dat dit ongelukkig baie duur is, maar dat ek ʼn plan sal probeer maak. Sy het eers agterna verduidelik hoekom en vir wie sy die ambulans nodig het. So, ek het toe besluit om die gesin wat in Sedgefield woon te gaan besoek,” het Prinsloo gesê.

Grobbelaar is aan die begin van 2018 met motorneuronsiekte gediagnoseer en sy toestand het binne nege maande erg agteruitgegaan. Hy het in die eerste paar maande nog redelik beweeglikheid gehad hoewel hy van ʼn rolstoel gebruik moes maak, maar is nou aan ʼn bed vasgekluister.

Die Grobbelaars se jongste seun, Jaendré (31), het omtrent vyf maande gelede uit sy werk in Kaapstad bedank en na Sedgefield verhuis om by sy ouers te bly, asook in en om die huis te help. Jaendré het intussen verloof geraak aan sy vriendin, Nicole.

Nicol en Jaendré saam met sy broers, Mario en Ernst, en hul ouers Frikkie en Maria. Foto: Louise Coertze

Jaendré was nog altyd baie na aan sy pa en dit was vir hom baie erg om te sien hoe sy pa daagliks agteruitgaan. Hy en Nicole het intussen besluit om die voorbereidings vir die troue te bespoedig aangesien hulle weet hulle het nie noodwendig baie tyd saam met hom oor nie. Dit was ook vir Jaendré noodsaaklik dat sy pa teenwoordig moes wees by een van die grootste gebeurtenisse in sy lewe.

Prinsloo het intussen die gesin ontmoet. “Nadat ek die volle omvang van Frikkie se gesondheid besef het, het ek geweet ek moet hulle op die een of ander manier help. Ek het vir hulle gesê ER24 sal die ambulans vir die dag borg en ons sal seker maak Frikkie word van begin tot einde versorg. Almal het begin huil. Dit was ʼn baie emosionele oomblik vir almal, maar veral vir Jaendré aangesien hy desperaat was dat sy pa by sy troue sou wees.”

Volgens Jaendré het hulle dit aanvanklik oorweeg om sy pa met ʼn motor na die troue te vervoer, maar hy was nie gretig om dit te doen nie. “Ons het begin rondbel vir ʼn ambulans, maar die kwotasies wat ons gekry het, was heeltemal buite ons begroting. Ons het verslae begin voel. Dit het soveel vir ons gesin beteken toe Johann laat weet dat my pa ons troue sal kan bywoon en dat daar na hom omgesien sal word.”

ER24-paramedici, Andrew Botha em Darryl Syster, by Frikkie Grobbelaar en sy versorger Jennifer Grootboom. Foto: Louise Coertze

Andrew Botha en Darryl Syster, paramedici van ER24, het op 6 Oktober, die oggend van die troue, die ambulans mooi skoongemaak en die standaardstyl wit lakens vervang met donkergrys lakens om in te pas by die kleurskema van Jaendré en Nicole se troue.

Botha en Syster het hierna vir Grobbelaar gaan oplaai en hom met hul aankoms by die kerk ingestoot sodat hy kon sien hoe sy seun trou. “Ons het hom van die huis na die kerk vervoer, daarna na die onthaal en later weer terug huis toe. Ons was heeldag aan sy sy. Dit was ʼn emosionele dag – nie net vir die gaste nie, maar ook vir ons. Dit was ʼn voorreg om te kon help,” het Botha gesê.

Volgens Jaendré is hulle ongelooflik dankbaar teenoor ER24 wat dit moontlik gemaak het dat sy pa by die troue kon wees. “My pa kon nie ophou glimlag nie. Ek was aanvanklik bekommerd dat ons troudag vir hom moeilik sou wees aangesien hy nie kan dans of eers sit nie, maar ek dink alles het wonderlik verloop. Ek dink hy het dit regtig waardeer dat hy daar kon wees en dat hy veilig gevoel het met die wete dat ER24 aan sy sy was. Ons is dankbaar vir die diensverskaffers wat ons gehelp het om die troue redelik vinnig te reël. Die feit dat my pa by my troue kon wees, het dit die beste dag van my lewe gemaak en ek is ER24 ewig dankbaar,” het Jaendré gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Severine ·

Hartroerend mooi, daar is nie woorde om so ‘n spesiale geleentheid te kan beskryf nie, die memories sal jul altyd onthou

Lizel Basson ·

Dit maak ‘n mens se hart warm as jy sien daar is nog mense met soveel omgee in hulle. Dankie vir julle moeite ER24. Julle is tops!!

koos1 ·

ER24, julle almal verdien ‘n Bells!
Aan die Grobelaars, koester die oomblik en wees dankbaar to God vir die geleendheid.

Christine ·

Fantasties! baie dankie aan ER24 se Johann, jy is ‘ voorwaar ‘n omgee man , en Jaendre ek wens julle alles wat mooi is vir toekoms, sterkte met jou pa se siekte ek bid vir julle.

George ·

Wat ‘n hartroerende gebeurtenis! Mag almal wat bygedra het tot hierdie wonderlike gebeurtenis besonder geluk en voorspoed ontvang.

Wilma Wiese ·

Johann Prinsloo, Andrew Botha en Darryl Syster julle het beslis harte van GOUD.

Dankbaar saam met julle ·

Wat ‘n dankbare gebaar. Knap gedaan ER24 . Baie geluk aan die gelukkige paartjie. Mooi berig om die week af te sluit. Halleluja!

Sons ·

Ai hoe kry ek nou ‘n knop in my keel. Wens julle 2tjies net die mooiste en die beste toe.

Truikie ·

Ek is skoon bewoee. Dankie Johan, ER24 personeel en ander wat by hierdie hartroerende daad betrokke was. Jeandre jy sal geseen word vir die eer en opoffering aan jou ouers. Mag jou huwelik net so geseend wees.

Ferdi ·

Hierdie laat my weer in die ou mensdom glo. Soveel sleg, en dan lees mens hierdie berig WOW!!!!!!

Sarie Horn ·

Hoe mooi om n goeie storie te lees.
Pragtige daad ER24

izette ·

Kry ek ook nou trane in my oë…….beste wense vir julle almal ……vir die pad voorentoe…..

SMS ·

Wat ‘n mooi gebaar is dit nie van ER24 nie. Welgedaan!
Dankie aan Johan en die versorgers!
Ek is ook so bly dat Frikkie die dag saam met julle kon geniet het.
Julle almal het só mooi gelyk.
En mag julle huweliksbootjie altyd op veilige, rustige waters vaar.
Knop in die keel mooi berig. Baie dankie Maroela vir goeie nuus!

nannie ·

Baie dankie ER24 julle is puik.
Woorde ontbreek met met die knop in my keel.
Daar is voorwaar nog engele tussen ons.

Pedro Breetzke ·

Hierdie is n berig wat n knop in die keel bring. Het net sulke uitstekende diens van ER24 hier in Secunda ontvang tydens die siekte en afsterwe van ons dogter agv kanker ontvang. Baie dankie ER24.

Graham ·

Dankie ER24 en almal wat gehelp het. Weet dit was ‘n dankbare geskenk aan die familie. Wys dat daar nog baie wonderlike omgee-mense in ons deurmekaar land is!!!!!

Lee ·

Dis nou so mooi storie. Dankie ER24 julle bly great!! Nou skoon hartseer ….

Johnnie ·

Daai manne van ER24 julle is ons almal se HELDE. Dit is die mooiste gebaar wat ek van in lang tyd gehoor het. Ek dink saam met my het n hele klomp mense n traan gestort. BAIE, BAIE .DANKIE vir julle mooi gebaar mag die HERE julle seen.

Lh ·

Loop die trane nou sommer onbeskaamd . . . Maar Dit is lekker trane! Ek bid hierdie pragtige spannetjie net die BESTE blessings toe!

Hermina ·

Daar is darem nog mense wat omgee in SA… My pa ook daardie siekte gehad en ons kon ook altyd op hulle knoppie druk. Baie dankie vir wat ER24 vir mense doen.

Rika ·

Dankie ER24 wys daar is nog baie goeie mense wat omgee dankie MM vir die mooi berig.

Christo ·

Aan ER24 en elke een wat deel was om hierdie droom te laat waar word Dankie. Ons land kan meer vermag met so ‘n onselfsugtige gesindheid soos wat julle openbaar.

Dankbaar ·

Dankie ER24! En spesifiek Suid-Kaap/George afdeling. Dis die 2de keer wat ek van weet julle stap die ekstra pad vir jul medemens. Dankie dat julle nog ‘n hart het, en hierdie ekstra padjie stap en dat jul besef sekere dinge is prysloos vir mense in die lewe. Mense besef nie altyd hoe hard julle werk en deur watter trauma julle self gaan nie. Dankie en mag julle almal net baie geseen word.

Elvira ·

Prys die Here vie mense soos jy mnr Prinsloo. Dankie ER. So n pragtige gebaar. Alles van die beste vir julle tweetjies. Sterkte daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.